Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Medisyne
Medisyne [boodskap #122939] Vr, 28 Desember 2018 19:04
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Medisyne in pilvorm.
Medisyne in pilvorm.
Medisyne is die geneesmiddels wat ingeneem word om simptome van 'n siekte of geneeskundige toestand te verlig, te voorkom, of die siekte of toestand te genees.

Jan van Riebeeck, die eerste Kommandeur aan die Kaap die Goeie Hoop, en 'n skeepsdokter het in 1652 die mediese tradisie na Suid-Afrika gebring. Een van sy eerste take was om 'n hospitaal in te rig vir seevaarders wat skeurbuik opgedoen het. (Sien Hospitale). Aanvanklik was die meeste mediese praktisyns in diens van die N.O.I.K., maar onder die Hugenote-setlaars wat in 1688 aangekom het, was daar verskeie snydokters wat van die eerste private geneeshere was. Sover bekend is Diedericus Weitner, wat in 1748 aan die Universiteit van Leyden in Holland ingeskryf het, die eerste Suid-Afrikaner wat homself in die medisyne bekwaam het.

Die uitbreking van pokke en ander epidemies het daartoe aanleiding gegee dat primitiewe openbare gesondheidswetgewing asook maatreëls om melaatsheid te beheer, ingestel is. Na die Britse besetting in 1795 is strenger maatreëls ingestel om die beroepstandaard te verhoog, en in 1807 is 'n 'Supreme Medical Committee' in die lewe geroep met magte om lisensies uit te reik aan geneeshere, snykundiges en aptekers. Die doeltreffende beheer van mediese werk was 'n lang tyd in die hande van die leërowerheid. Hieronder tel dr. James Barry, die geheimsinnige persoon wat prominent was as Koloniale mediese inspekteur, wat die gehalte van die eksamens en plaaslike hospitale verbeter het.

Die wetenskaplike bestryding van siektes kan teruggespoor word na die instelling van 'n "Inentingskomitee", deur die Bataafse Republiek in 1803 as 'n voorsorgmaatreël teen pokke. Dit is in 1911 deur die Britte omgeskep in die "Inentingsinstituut". Die eerste ernstige poging tot mediese onderrig, was die stigting van die Skool vir Vroedvroue in 1810 deur dr. Wehr, 'n Duitser.

In 1827, of selfs miskien vroeër, het die eerste Mediese Vereniging in Kaapstad tot stand gekom wat hom beywer het vir lewendige besprekings en die bevordering van navorsing. In 1830 is die Koloniale Mediese Komitee gestig om beheer oor die professie uit te oefen, terwyl die Cape Town Medical Gazette in 1847 verskyn het. Dieselfde jaar is die eerste operasie onder narkose in Suid-Afrika gedoen. Dit is op 16 Junie uitgevoer deur die distriksgeneesheer van Grahamstad, dr. W.G. Atherstone, bygestaan deur dr. Haddaway van die 9iste regiment en dr. Irwin van die 27ste regiment 'en was die eerste gebruik van narkose buite Amerika en Europa'. Die preparaat wat gebruik is, was 'stoom van swaweleter'. Sowat 3 jaar later, in 1850, het dr. F.L.C. Biccard die eerste keer in Kaapstad van chloroform gebruik gemaak.

Al hoe meer Suid-Afrikaners het van toe af na Europa gegaan om in die medisyne te studeer, veral na Edinburgh en Leyden. Verskeie plaaslike verenigings is gestig, maar oor groot gebiede was toestande nog primitief en is daar staat gemaak op boererate.

In 1856 is 'n Natalse Mediese Komitee gestig, maar daar was weinig beheer in die Boererepublieke tot 1864 toe die Oranje-Vrystaat sy eerste wetgewing ingedien het met betrekking tot lisensies. Transvaal het dit eers in 1881 ingestel.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging is in 1883 gestig en die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif, wat nog bestaan, is terselfdertyd in die lewe geroep. In 1887 het die Britse mediese vereniging 'n tak in Griekwaland-Wes (Kimberley) gestig, gevolg deur Kaapstad in 1888, Grahamstad in 1893 en Natal in 1896. Die eerste Suid-Afrikaanse Mediese Kongres het in 1893 in Kimberley plaasgevind.

Versoeke vir mediese opleiding kan teruggespoor word na 1858 toe voorgestel is dat 'n mediese skool by die South African College in Kaapstad gestig word. In 1890 het die Universiteit van Edinburgh ingestem om sekere kursusse in skeikunde ens. te erken wat aan die South African College gevolg is deur studente wat in die medisyne daar wou studeer. Ander universiteite soos Glasgow en St. Andrews het sy voorbeeld gevolg. Van 1904 af is eerstejaaropleiding in Kaapstad gegee, maar eers in 1918 met die stigting van die Universiteit van Kaapstad is die volle kursus ingestel. Die eerste graad in die medisyne is in 1920 in Suid-Afrika toegeken. Daarna is die kursus ook ingestel aan die Universiteit van die Witwatersrand, wat die weg gebaan het in die voorsiening van geriewe vir tandheelkunde. Sedertdien is mediese fakulteite ook aan die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch ingestel.

Die mediese praktyk in Suid-Afrika word vandag beheer deur die Mediese, Tandheelkundige en Farmaseutiese Wet nr. 13 van 1928 met sy wysigings ingevolge waarvan die Suid-Afrikaanse Mediese en Tandheelkundige Raad ingestel is as die hoogste gesag, met sy teenhanger die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad. Albei beskik oor dissiplinêre magte en het die reg om registrasie te verwerp of te aanvaar.

Reeds in die vroegste dae van die nedersetting in Zimbabwe (Rhodesië) is 'n mediese komitee daar in die lewe geroep, en in 1906 is 'n stelsel van registrasie vir geneeshere en tandartse aanvaar.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Mebos
Volgende onderwerp: Meerkat
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 16:21:16 MGT 2024