Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Matabele-Oorlog
Matabele-Oorlog [boodskap #122916] Vr, 28 Desember 2018 07:19
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die (Eerste) Matabele-oorlog was 'n koloniale oorlog tussen die British South Africa Company van Cecil Rhodes en die Matabele van die koninkryjk Mthwakazi in die teenwoordige Zimbabwe. Die koninkryk is deur die Britte verower en is deur die Britse Ryk as onderdeel van Rhodesië ingelyf.

Die vyandigheid tussen die Matabeles en hulle vroeëre slawe, die Masjonas, het 'n geruime tyd wrywing op die grens van Masjonaland, wat reeds deur die blankes beset was, en Matabeleland veroorsaak. Die Britse owerheid het gewaarsku dat rustelose krygsmanne beteuel moet word. Sake het in Julie 1893 tot 'n punt gekom toe 'n impi Matabeles 'n groep Masjonas naby Fort Victoria aangeval het. Dit het gelei tot die mobilisasie van die Britse magte en hoewel daar verdere vertragings was, is daar in September besef dat 'n oorlog onvermydelik is. Op 5 September het 'n leërafdeling Harare (destyds Salisbury) verlaat om by nóg een van Victoria aan te sluit. Oorlog het amptelik op 3 Oktober begin toe 'n mag Iron Mine Hill verlaat het op pad na Matabeleland. 'n Geveg het op 24 Oktober op Shangani plaasgevind en op 1 November is 7,000 Matabeles by die Bembesirivier verslaan.

Lobengula wat besef het dat sy impi's geen verdere doeltreffende weerstand kon bied nie, het sy hoofstat, Gubulawayo, ontruim en afgebrand. Dit is op 4 November 1893 deur die magte van die Chartered Company beset. As gevolg van 'n oordeelsfout het die Britte op 4 November 1893 'n swaar terugslag gekry toe 'n patrollie onder majoor Allan Wilson naby die Shanganrivier, 100 myl na die noordweste, uitgewis is. (Sien Wilson, Majoor Allan).

Op 23 Januarie het die dood van Lobengula feitlik die einde aan die veldtog beteken. Die Britse troepe was onder bevel van majoor P.W. Forbes. Drie en vyftig blankes en 38 naturelle is aan die Britse kant gedood. Dit was nie moontlik om vas te stel wat die verliese van die Matabeles was nie, maar dit het etlike duisende beloop.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Masupha
Volgende onderwerp: Matabele-opstand
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:38:52 MGT 2024