Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Leipoldt, Dr. Christian Frederick Louis
Leipoldt, Dr. Christian Frederick Louis [boodskap #122694] Ma, 24 Desember 2018 19:55
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Dr. Christian Frederick Louis Leipoldt was 'n Afrikaanse digter. In 1880 in Worcester, Kaapland, gebore as seun van 'n Duitse sendeling. Hy word naby Clanwilliam groot en ontvang opleiding aan die S.A. College. Hy slaag in sy Staatsdienseksamen, maar sluit in 1897 aan by die redaksie van Het Dagblad in Kaapstad en daarna by die South African News. Sedert sy jeugjare toon hy feitlik eweveel talent as skrywer in Afrikaans en Engels. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het hy baie bydraes in oorsese koerante gelewer, maar het later snelskrifverslagwerk vir die Kaapse Rondgaande Hof gedoen. In 1902 is Leipoldt na Europa nadat die South African News ingevolge Krygswet gesluit is as gevolg van sy voorspraak vir die Boere. Hy besluit om in die medisyne te studeer, maar reis ook nog baie rond in Europa en ook Rusland. Hy kwalifiseer in 1907 by die Guy's Hospitaal in Londen en word Assistent Mediese Gesondheidsbeampte vir Hampstead. Hy begin oor mediese onderwerpe skryf en spesialiseer in kindergeneeskunde. Om gesondheidsredes is hy op 'n lang reis na die Ooste, keer terug na Engeland en aanvaar 'n pos as Mediese Inspekteur van Skole in Hampstead. In 1914 word hy 'n soortgelyke pos in Transvaal aangebied. Dié aanstelling was die eerste in sy soort in Suid-Afrika. Intussen het hy met sy loopbaan as skrywer van Afrikaanse boeke begin, en in 1911 word hy 'n nasionale figuur met Oom Gert Vertel, 'n versameling gedigte. Ander het gevolg, almal van hoogstaande gehalte, en sluit dramas, essays, kinderverhale ens. in. Hy word in 1919 mediese gesondheidsbeampte van Kaapse skole. Hy dien 'n kort tydjie op die redaksie van Die Volkstem in Pretoria, praktiseer as 'n kinderarts in Kaapstad en van 1926 af was hy redakteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif. Nadat hy in 1940 afgetree het, wy hy al sy tyd aan skryfwerk. Sy werke sluit onder meer in 'n uitstekende werk oor Jan van Riebeeck (1936) en Bushveld Doctor, sy eie ondervindings in Transvaal, albei in Engels. Leipoldt was dikwels in die nuus as gevolg van sy onkonvensionele en reguit menings. Hy was onder andere 'n voorstander vir wyn as 'n geneesmiddel vir sekere kindersiektes. Hy is in 1947 oorlede en is begrawe in die Pakhuispas naby Clanwilliam.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Leibbrandt, Ds. Hendrik Carel Vos
Volgende onderwerp: Leipoldtville
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 19:03:09 MGT 2024