Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Kuns
Kuns [boodskap #122633] So, 23 Desember 2018 14:06
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die skone kunste behels die skepping van estetiese werke deur 'n kunstenaar wat spesifieke vaardigheid (soos skilderkuns en beeldhouwerk) aanwend om 'n kunswerk tot stand te bring.

Hoewel indiwiduele kunstenaars, baie van groot verdienste, aan die Kaap gewerk het van die vroegste dae af, was hulle byna almal amateurs en besoekers, soos lady Anne Barnard. Een van die eerste wat die beroepskuns toegepas het, was J.C. Poortermans, gebore in Holland in 1786. Hy het van 1843 tot sy dood in 1870 gesukkel om 'n bestaan te maak. Verskeie van die pioniers was sketsmeesters soos W.H.F. Langschmidt en die beroemde Thomas Bowler, F.T. I'Ons en baie ander.

Kunsuitstallings is van 1850 af gehou, maar die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Skone Kunste het eers in 1872 sy verskyning in Kaapstad gemaak. Met die hulp van die Kaapse Koloniale Skatkis, wat £100 geskenk het, en 'n paar klein private bydrae het die Vereniging met die versameling begin wat vandag die Nasionale Kunsgalery van Suid-Afrika is. Dit is baie jare lank in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad gehuisves voordat dit in 1928 'n eie gebou in Kaapstad gekry het. Sedertdien het baie skenkings en lenings gehelp om dit een van die pragtigste versamelings suid van die ewenaar te maak.

Nog 'n buitengewone versameling ontstaan in 1913 toe sir Max Michaelis 'n paar dosyn 17de eeuse Nederlandse meesterstukke, gekeur deur sir Hugh Lane, geskenk het. Dit is gehuisves in die ou Stadshuis op Groentemarkplein, Kaapstad, wat vernuftig herbou is. Kunsmuseums is in baie dele van Suid-Afrika ingerig, insluitende Durban in 1899 en Johannesburg in 1909, waar dit hoofsaaklik deur die inisiatief van lady Florence Phillips, eggenote van sir Lionel Phillips, tot stand gekom het. Daar is ook kunsmuseums in Grahamstad, Oos-Londen, Port Elizabeth, Kimberley, Pretoria en ander plekke. Die Phillimore Ives-kunsmuseum vir ou meesters op Stellenbosch verdien spesiale vermelding nadat dit deur die Phillimore-familie uit Engeland gebring is. Dit sluit werke van Rembrandt in wat later teruggeneem is. In 1961 bekom die Regering die groot versameling van wyle sir J.B. Robinson. Dit sluit in werke deur Tiepolo, Van Dyck, Rubens, Frans Hals, Gainsborough, e.a., maar dit is ook later weer verwyder.

Harare (Salisbury) in Zimbabwe (Rhodesië) het 'n pragtige moderne kunsmuseum.

Gereelde kunsuitstallings word jaarliks in die groot sentrums gehou. Die Suid-Afrikaanse Akademie in Johannesburg is begin deur die Transvaalse Instituut vir Argitekte. Twee unieke galerye van 'n paar honderd historiese Suid-Afrikaanse skilderye word in die Kasteel en in die herehuis 'Rus en Vreugde' in Kaapstad gehuisves. Suid-Afrika het met groot sukses deelgeneem aan verskeie oorsese kunsuitstallings in São Paulo, Brasilië, en in Europa. Die vernaamste deelnemers sluit in Irma Stem, Moses Kottler, Lippy Lipschitz, Gregoire Boonzaier en Terence McCaw. Verskeie nie-blankes soos Gerald Sekoto het ook opgang gemaak.

Kunsskole bestaan in Kaapstad, Grahamstad, Durban, Johannesburg, Pretoria en ander stede, terwyl sommige universiteite kunsdepartemente het. (Sien ook onder name van individuele kunstenaars.)

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Kunenerivier
Volgende onderwerp: Kupugani
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 11:11:55 MGT 2024