Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Krieket
Krieket [boodskap #122609] So, 23 Desember 2018 10:19
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Krieket word gespeel.
Krieket word gespeel.
Krieket is 'n kolf-en-bal sport wat tussen twee spanne van elf spelers elk gespeel word. Die spel het in Engeland ontstaan en word hoofsaaklik in die lande van die Britse Statebond gespeel. Die Suid-Afrikaanse span, wat aanvanklik as die Springbokke bekend was, word nou die Proteas genoem.

Krieket het in 1843 in Suid-Afrika begin met die stigting van die Port Elizabethse Krieketklub. In 1864 is die Westelike Provinsie Krieketklub gestig. Sy eerste wedstryd is nie, soos baie mense glo, op die historiese Nuweland gespeel nie, maar op Southey's Field, Wynberg. Geen telling is van die wedstryd gehou nie, maar 'n militêre orkes was teenwoordig en dit het soveel belangstelling gewek dat ander wedstryde spoedig gereël is. Die 'Married' het teen die 'Single' gespeel, en later die 'Handsomes' teen die 'Uglies'. Die baanblad is in 'n koerantresensie beskryf as 'golwend met lang gras' en die veldwerkers het baie hulp gekry van molshope wat dikwels balle gekeer het wat vir die grens bestem was.

Die kaptein van die eerste Engelse span wat na Suid-Afrika gekom het, was C.A. Smith (wat later roem verwerf het as akteur en rolprentster onder die naam sir C. Aubrey Smith). Onder die spelers was sulke knap manne soos Johnny Briggs, die groot bouler van Lancashire, F. Hearne van Kent, C.J. Coventry van Eton College en Bobbie Abel van Surrey. Smith se span het dikwels teen spanne te staan gekom met meer as 11 man. Twee-en-twintig man het byvoorbeeld so suksesvol vir die Westelike Provinsie gekolf dat die tuisspan (met die hulp van W.H. Milton se 36 en 40) met 17 lopies gewen het.

Die eerste Kriekettoetswedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika het op 12 en 13 Maart 1889 in Port Elizabeth plaasgevind. Die toerspan het met 8 paaltjies gewen. Op ou spanfotos kan snaakse hoofbedekkings gesien word - M. Read met 'n strooihoed, F. Hearne met 'n panamahoed, sy edele C.J. Coventry met 'n 'tien-galonner' en H. Wood met 'n visser suidwester.

Dit was eers in 1905-06 dat Suid-Afrika sy eerste krieketoorwinning oor Engeland behaal het. In 'n uiters spannende wedstryd het Dave Nourse (die vader van Dudley, wat Suid-Afrika later aangevoer het) 93 lopies in die tweede beurt behaal en aan sy span 'n oorwinning van een paaltjie besorg.

Die Springbokke het ook die rubber teen die M.C.C. span gewen wat P.F. (nou sir Pelham) Warner na Suid-Afrika gebring het, maar kon nie voor 1935 'n toetswedstryd in Engeland wen nie. Toe het H.F. Wade se span die tweede toets op Lord's gewen. Dit was die enigste van die vyf toetswedstryde wat nie onbeslis geëindig het nie.

Suid-Afrika het in 1960 'n span na Engeland gestuur met D J. McGlew as kaptein en Dudley Nourse as bestuurder. Gedurende die vroeë stadium van die toer het 'n geskil ontstaan oor die vraag of die Springbok-snelbouler, Geoff Griffin, 'gegooi' het. By verskeie geleenthede is beslis dat hy foutballe afgestuur het, en na die tweede toets op Lord's, waarin hy die driekuns behaal het (drie paaltjies met drie balle), is besluit om hom nie weer op die toer as bouler te gebruik nie. McGlew se span het swak gevaar. Die span verloor die eerste drie en die ander twee eindig onbeslis.

In 1963 het T.E. Goddard se span die louere met Australië gedeel (wen een elk en drie onbeslis). Suid-Afrika het byna die laaste toets gewen maar 'n laaste paaltjie - vennootskap deur die Australiërs het die Suid-Afrikaners verhoed om hulle uit te haal voor die einde van die wedstryd. Gedurende die toer het die 20 jarige Graeme Pollock en Eddie Barlow te voorskyn getree as aggressiewe kolwers, en hulle derde-paaltjie-vennootskap van 341 lopies uit 'n totaal van 595 in die eerste beurt van die Vierde Toetswedstryd in Adelaide sal in die annale van die Suid-Afrikaanse krieketgeskiedenis bekend staan as 'n hoogtepunt.

J.E. Cheetham se span van 1953 het groot roem verwerf toe hy die louere gedeel het nadat hy twee van die eerste drie toetswedstryde in Australië verloor het. Nadat die vierde onbeslis geëindig het, het Suid-Afrika die laaste toetswedstryd gewen met 6 paaltjies. McLean en Keith het by die geleentheid 106 lopies nie uit nie behaal het, het Suid-Afrika die laaste toetswedstryd gewen met 6 paaltjies. McLean en Keith het by die geleentheid 106 lopies nie uit nie behaal.

Tuis het Suid-Afrika later die rubber gedeel met Peter May se sterk span van 1955-56, maar kon net twee onbesliste uitslae afdwing teen Ian Craig se Australiërs van 1957-58 terwyl hy drie verloor het.

In 1960-61 het die Nieu-Seelandse span onder aanvoering van John Reid Suid-Afrika besoek. Hulle het op die prestasies van hulle voorgangers verbeter en twee toetse gewen, een onbeslis laat eindig en twee verloor om die reeks te deel.

In 1964-65 het 'n Engelse span onder M.J.K. Smith Suid-Afrika besoek. In 1965 het Suid-Afrika onder Peter van der Merwe deur Engeland getoer, en het een toetswedstryd gewen en twee onbeslis geëindig. Suid-Afrika het Australië in 1967 vir die eerste keer op eie bodem verslaan, met een gewen, een verloor, en een onbeslis.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Kreupelhout
Volgende onderwerp: Krige, Christman Joel
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 09:34:26 MGT 2024