Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Koerant
Koerant [boodskap #122548] So, 23 Desember 2018 07:15
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Koerant is 'n nuusblad wat daagliks of weekliks uitgegee word en oor gebeurtenisse in die politiek, ekonomie, kultuur en sport berig. Met die uitvinding van die drukkuns teen die einde van die 15de eeu is die tegniese basis geskep om koerante in groot oplaagsyfers te druk en te versprei.

Die stigting van die koerantwese in Suid-Afrika het met baie moeilikhede gepaard gegaan. Hoewel H.H. Smith, 'n meesterdrukker wat kort na die Britse besetting in 1795 aan die Kaap aangekom het, aansoek gedoen het om 'n drukpers op te rig, was dit 'n ander firma, Walker and Robertson wat eerste die reg gekry het om met 'n nuusblad te begin. Op 1 Augustus 1800 is die komende publikasie van die Kaapsche Stads Courant, met sy Engelse ekwivalent, die Cape Town Gazette and African Advertiser aangekondig. Die eerste aantal wat op 16 Augustus 1800 gedruk is, is die regstreekse voorganger van die huidige Staatskoerant. Die Regering het na 'n kort tydjie die koerant oorgeneem, £2,000 as vergoeding aan Walker en Robertson betaal en die drukpers na die Kasteel in Kaapstad verskuif.

Die Regering het die volgende 24 jaar tot 1824 die monopolie in die drukwese gehad. In 1823 het Thomas Pringle en Abraham Faure pogings aangewend om met 'n maandblad te begin. Hulle het 'n prospektus uitgereik, maar die plan is laat vaar en in plaas daarvan is die eerste uitgawe van die South African Commercial Advertiser op 7 Januarie 1824 uitgegee met die goedkeuring van die Britse minister van kolonies in Londen en teen die wense van goewerneur lord Charles Somerset.

Die vroeë tydperk van die koerant het baie stormagtig verloop. Dit het gepaard gegaan met lasteraksies, eise om geldelike sekuriteit en uiteindelik is dit deur die Goewerneur onderdruk. Die drukker, George Greig, se drukpers is nie net verseël nie, maar hy is gelas om binne 'n maand die kolonie te verlaat. Die omstandighede het egter onder die aandag van die owerheid in Londen gekom en op 31 Augustus 1825 is die Advertiser weer uitgegee, dié keer met John Fairbairn as redakteur. Die verwerping van die beslissing van 'n arbitrêre goewerneur word algemeen beskou as die geboorte van 'n vrye pers in Suid-Afrika.

Van daardie tyd af het die aantal nuusblaaie en tydskrifte stadig aangegroei, onder meer die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, die eerste tydskrif in Hollands wat van 1824 af uitgegee is en die vooruitstrewende Cape of Good Hope Literary Gazette in 1830. In dieselfde jaar is daar met 'n drukkery in Grahamstad begin en die beroemde Grahamstown Journal met die bynaam, The Settlers' Bible, het in Desember 1831 sy verskyning gemaak. Dit was die voorganger van die huidige Grocott's Daily Mail. Dit is gedruk deur L.M. Meurant en die onderskeiding gehad dat dit die eerste Suid-Afrikaanse nuusblad is wat buite Kaapstad gepubliseer is.

Van die talle nuusblaaie en tydskrifte wat gevolg het, het die meeste verdwyn maar 'n paar floreer nog, onder meer die Eastern Province Herald (1845), die Natal Witness (1846), net twee jaar jonger as die eerste Voortrekkerkoerant, De Natalier, wat in 1844 in Pietermaritzburg begin is en die Friend of the Sovereignty and Bloemfontein Gazette (nou The Friend) wat op 10 Junie 1852 die eerste keer uitgegee is.

In 1857 is die Cape Argus gestig in dieselfde jaar as die eerste nuusblad in Transvaal, die Staats Courant. Op 15 Oktober 1859 verskyn De Oude Emigrant op Potchefstroom, die eerste plaaslike private tydskrif wat uitgegee is deur J.P. Borrius. Vroeë nuusblaaie in Hollands sluit in Het Volksblad wat in 1849 in Kaapstad uitgegee is, maar dit was eers in 1875 dat die eerste Afrikaanse blad, die beroemde Patriot uitgegee is.

Met die ontdekking van diamante en goud het die plaaslike pers snel gegroei, nie net in die diamant- en goudveld nie, maar ook in ouer dorpe. Uit hierdie tydperk dateer die Diamond Fields Advertiser wat in 1875 in Kimberley begin het en die oorplasing van die Eastern Star per ossewa van Grahamstad na Johannesburg in 1887 waar dit herdoop is tot The Star.

Teen die einde van die 19de eeu ontstaan daar kettingnuusblaaie waarvan die belangrikste beheer word deur die Argus Printing and Publishing Co. Hierdie liggaam het ook die eerste nuusblaaie in Zimbabwe (Rhodesië) uitgegee. Die eerste was die handgeskrewe en afgerolde Mashonaland Times, wat later die Rhodesia Herald geword het. Die Cape Times dateer uit die jaar 1876 en is gou erken as een van die land se invloedrykste koerante. Hoewel daar 'n aantal kleiner sendingblaaie was, was die werklike begin van die Bantoepers in 1884, toe John Tengo Jabavu die Imvo Zabantsundu op King William's Town gestig het.

Die 20ste eeu is gekenmerk deur die ontwikkeling van die gewilde nuusblad waarvan Edgar Wallace as eerste redakteur van die Rand Daily Mail in 1902 en George Kingswell, stigter van die Johannesburgse Sunday Times in 1906, as die pioniers beskou kan word. Hoër tegniese standaarde en 'n lewendiger aanbieding en grootskaalse gebruik van illustrasies en spotprente het die gewildheid van die Suid-Afrikaanse pers laat toeneem.

Die Sunday Times het in die 1960's die grootste sirkulasie gehad - nagenoeg 450,000 per week. Onder die dagblaaie het die Star 'n gemiddelde van 170,000 gehad en die Rand Daily Mail nie veel minder gehad nie. Onder die Afrikaanse weekblaaie het Die Landstem die grootste sirkulasie gehad, naamlik 170,000. Die Burger wat in 1915 gestig is, is die oorspronklike nuusblad van die Nasionale Pers. Sy eerste redakteur was dr. D.F. Malan.

'n Noemenswaardige kenmerk van die Suid-Afrikaanse pers in die latere aantal jare was die snelle ontwikkeling van die nie-blanke leserspubliek. Drum wat afsonderlike uitgawes vir Oos- en Wes-Afrika het, is ook 'n plaaslike uitgawe wat in Johannesburg gedruk word. Ander geslaagde tydskrifte van dieselfde soort is Zonk en Bona. Sien ook Perskommissie.

Teen die 21ste eeu het die sirkulasie van meeste koerante begin afneem. Dit was die gevolg van die snelle groei van die Internet en die beskikbaarheid van nuus wat aanlyn verkry kon word.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Koekoek
Volgende onderwerp: Koester
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 11:16:03 MGT 2024