Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » King, Richard (Dick) Philip
King, Richard (Dick) Philip [boodskap #122493] Sa, 22 Desember 2018 08:47
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Richard Philip (Dick) King was 'n Natalse pionier en held van 'n rytog wat beroemd is in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Seun van Philip King. Gebore op 28 November 1813 in Chatham, Engeland. Een van 13 kinders. Kom na Suid-Afrika saam met sy ouers wat 1820-Setlaars was. Hy bereik Natal omstreeks 1828 en werk vir kaptein Allan Gardiner as wadrywer en leer die pad deur gevaarlike naturellegebiede terug tot op Grahamstad deeglik ken. Dit het hom later goed te pas gekom. Na die aankoms van die Voortrekkers in Natal in 1838 het die Britse regering troepe onder kaptein Smith gestuur om verskansings by Congella op te rig. Dit is deur die Boere beleër en die garnisoen was in 'n treurige toestand. Op 26 Mei 1842 het Richard King, wat saam met die garnisoen was, ingewillig om na Grahamstad te ry om hulp te gaan haal.

Hy is deur G.C. Cato en sy broer C.J. Cato per boot oor Durban-baai gebring en vergesel van 'n Zoeloe, Ndongeni, begin hy sy reis van 600 myl op sy perd 'Somerset'. Hy arriveer in 'n rekord tyd van 10 dae, lewer die boodskap af dat die garnisoen in nood verkeer en maak dit dus moontlik dat hulp onmiddellik per boot van Port Elizabeth af gestuur kon word. King het £15 beloning ontvang. Hy keer terug na Natal, boer naby Isipingo en is in 1871 daar oorlede. Ndongeni, sy Bantoemetgesel het nog in 1911 gelewe.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: King Edward VII School
Volgende onderwerp: Kingsburgh
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 21:03:30 MGT 2024