Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Kimberley
Kimberley [boodskap #122489] Sa, 22 Desember 2018 08:34
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Kimberley is 'n stad in Noord-Kaapland en sentrum van diamantbedryf. Vernoem na die graaf van Kimberley wat Britse minister van kolonies was ten tye van sy stigting in 1871. Daar is destyds verwys na 'New Rush' toe 'n uittog plaasgevind het van die vroeëre rivierdelwerye aan die Vaalrivier na die droë delwerye. In 1873 is hierdie kampe omgeskep in 'n dorpsgebied, genoem Kimberley, waar nog 'n gemeenskap, Beaconsfield, daar naby ontwikkel het. Delwery is by Colesberg-koppie gekonsentreer, so genoem vanweë die groot aantal delwers van daardie Kaapse dorp. Dié koppie is letterlik weggedelf en die reuse-put, waarna nou verwys word as die 'Groot Gat' het ontstaan. Dit is nou in onbruik, maar bly steeds 'n indrukwekkende baken. Teen 1878 het Kimberley meer as 40,000 inwoners gehad, maar die meeste moes baie ongeriewe verduur en het onder sink en seil gewoon. Munisipale bestuur is in 1878 toegestaan en drastiese pogings is aangewend om die gesondheids- en lewenstoestande te verbeter.

'n Suksesvolle Effektebeurs, die voorganger van die groter een in Johannesburg, is gestig. Die spoorlyn is in 1885 voltooi. Drie jaar later is die verskillende mededingende maatskappye wat in en om die 'Groot Gat' gewerk het, deur Cecil John Rhodes en sy ondersteuners in die De Beers Consolidated Mines saamgesmelt. Die onmiddellike effek op die stad was rampspoedig omdat die individuele delwer van die toneel verdwyn het en met die herorganisasie van die nywerheid op 'n ekonomiese basis het daar 'n depressie ontstaan. Dit is te bowe gekom en Kimberley het 'n tydperk van bestendige groei betree wat afgewissel is met enkele terugslae wat hoofsaaklik te wyte was aan dalings in die diamantmark. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is Kimberley 124 dae lank van Oktober 1899 tot Februarie 1960 deur die Boere beleër. Almal in die stad, ook Cecil John Rhodes, is so vasgekeer. Die afgelope jaar het Kimberley, afgesien van die bedrywighede van die diamant myne, aansienlik ontwikkel op die gebied van sekere nywerhede veral ingenieurswese, klerevervaardiging en diamantsny. Dit is ook 'n sakesentrum vir die besproeiingsgebied in Noord-Kaapland. Bevolking teen die middel van die 20ste eeu: 92,000 (29,000 Blankes, 42,000 Bantoes, 1,200 Asiate en 20,000 Kleurlinge).

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Kiewietjie
Volgende onderwerp: Kimberley Reefs
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 11:07:05 MGT 2024