Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Kaapse Korps (Kleurlingkorps)
Kaapse Korps [boodskap #122363] Wo, 19 Desember 2018 18:31
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Kaapse Korps (of Kleurlingkorps) was 'n reeks militêre eenhede waarin Suid-Afrika se Kleurlinge gedien het. 'n Lid van die korps is 'n pandoer genoem.

In 1793 is 'n kompanie pandoere, bestaande uit Kleurlingmans en Khoikhoi (Hottentotte), op die been gebring om die Kolonie teen die Britte te verdedig. Na die eerste Britse besetting het nog 'n Kaapse Korps onder generaal Vandeleur in 1799 teen die Xhosas geveg, en het dit in 1800 'n volle regiment geword met afdelings by Port Elizabeth en Graaff-Reinet. Nadat hulle deur die Bataafse bewind oorgeneem is, het hulle weer gehelp om die Kaap in 1806 teen die Britte te verdedig. Die Cape Mounted Riflemen wat omstreeks dieselfde tyd gestig is, was oorspronklik ook 'n kleurlingeenheid.

Kleurlinge het ook aan baie Grens- en ander Suid-Afrikaans oorloë deelgeneem in die 19de eeu, maar dié tradisie was byna vergete totdat daar op 20 September 1915 tydens die Eerste Wêreldoorlog, besluit is om 'n nuwe bataljon, nog eens genoem die Kaapse Korps, op die been te bring. Tussen 21 Oktober en 12 Desember was die volle kwota aangemeld. Op 9 Februarie 1916 het 32 offisiere en 1,022 manskappe na Oos-Afrika vertrek. Nadat hulle dapper geveg het, het die eenheid in Desember 1917 na Suid-Afrika teruggekeer. In April 1918 is dit na die Midde-Ooste gestuur om aan te sluit by generaal Allenby waar hy deur die Turkse front probeer deurbreek het.

Hulle het besondere moed aan die dag gelê in die kritieke slag by Square Hill in Palestina op 19 September 1918. Die bataljon is in September 1918 ontbind maar in die Tweede Wêreldoorlog weer op die been gebring toe hulle met groot onderskeiding in die Midde-Ooste geveg het. 23,000 man is teen 1942 gewerf. Later het dit saamgesmelt met die Indiër- en die Maleise Korps om die nie-blanke Dienste van die Unie-Verdedigingsmag te vorm. Baie het in die Westelike Woestyn as drywers diens gedoen. Die Kaapse Korps is in 1948 ontbind, maar weer in 1963 ingestel.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Kaapse Klimop
Volgende onderwerp: Kaapse Patriotte
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 17:19:15 MGT 2024