Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Jood
Jood [boodskap #122325] Di, 18 Desember 2018 18:13
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Jode is 'n volk of nasie waarvan die voorvaders vanaf die Bybelse patriarg Abraham, sy seun Isak en veral Jakob, Isak se seun afstam, asook persone wat mettertyd as bekeerdes by hulle aangesluit het.

Behalwe die Joodse kaarttekenaars op die Majorka-eiland wat die kaarte voorsien het wat deur die vroeë seevaarders gebruik is op die roete om die Kaap die Goeie Hoop, en die Joodse stuurmanne wat vir Vasco da Gama van die Oos-Afrikaanse kus tot by Indië as gidse opgetree het, was Jode onder die stigters van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie. Bekeerde Jode was onder Van Riebeeck se eerste koloniste aan die Kaap. Baie van die bekende persoonlikhede in die vroeë dae, insluitend Adam Tas was van Joodse oorsprong. Tot aan die einde van die 18de eeu was hulle getalle min en daar was geen georganiseerde toepassing van hulle geloof nie. Ná die eerste Britse besetting het 'n aantal as soldate en in ander hoedanighede aangekom. Daar was ook heelwat Jode onder die 1820-Setlaars, veral die Norden-Sloman-en-Norton-families. Immigrasie van Duitsland het aangegroei van die aankoms van die Mosenthals in die jare 1830 af en het voortgegaan deur die Victoriaanse tyd. Dit is aansienlik bespoedig deur die ontdekking van diamante en goud.

Die eerste Joodse gemeente is in 1841 in Kaapstad gestig, gevolg deur ander in Grahamstad, Port-Elizabeth en elders. Van die jare 1870 af het 'n aanmerklike aantal Jode uit Oos-Europa in Suid-Afrika aangekom. Baie van hulle het hulle op die diamant- en goudvelde gevestig.

Voor die einde van die 19de eeu het hulle die aantal Joodse immigrante van Brittanje, Duitsland en Wes-Europa grotendeels oortref. Op elke gebied van die arbeidsveld, van die invoer van angorabokke na die Kaap tot die opening van steenkoolmyne in Transvaal, pioniersvervaardigers ens., het die Jode 'n prominente rol gespeel. Baie is verkies tot die vroeë koloniale wetgewende liggame. Belangrike mylpale was die stigting in 1903 van die Transvaal (later Suid-Afrikaanse) Joodse Raad van Afgevaardigdes en die erkenning van Jiddisj as 'n Europese taal vir immigrasiedoeleindes. 'n Groot persentasie Jode in Suid-Afrika kon hulle oorsprong opspoor tot by dorpies in Litaue, veral om Ponevez. Die Eerste Wêreldoorlog het in 'n groot mate immigrasie van hierdie dele af verhinder en die aanvaarding van die Kwota-Wet in 1930 het dit so te sê beëindig. Daar was 'n verdere oplewing van Joodse immigrasie vanweë die Nazi-vervolgings na 1933, maar dit is ook grotendeels na 1935 verminder. Teen die 1960's was daar ongeveer 130,000 Jode in Suid-Afrika, waarvan meer as die helfte aan die Witwatersrand gewoon het.

Jode het ook 'n rol gespeel in die vroeë geskiedenis van Zimbabwe (Rhodesië), onder meer as handelaars lank voor dit bewoon is. Baie Jode was in die Pioneer Column, en ander het hulle lewens verloor in die Shangani-patrollie. Die grootste gemeenskap in Zimbabwe (Rhodesië) is vandag in Bulawayo. Daar is ook talle Jode in lande soos Zambië en Malawi.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Jeugbeweging
Volgende onderwerp: Joel, Jack Barnato
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:39:22 MGT 2024