Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Jameson-inval
Jameson-inval [boodskap #122311] Di, 18 Desember 2018 14:14
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Jameson-inval was 'n gewapende inval in Transvaal deur dr. L.S. Jameson met die openlike doel om die griewe van die Uitlanders uit die weg te ruim. Sedert die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886 het die nuwer inwoners wat hulle in Johannesburg en omgewing gevestig het, griewe ten opsigte van politieke regte, die ondoeltreffendheid van openbare dienste, belasting, vervaardigings-monopolië en ander sake opgebou. Dit is vererger omdat die Boere-owerhede min simpatie met die klaers getoon het. In 1892 is die Transvaalse Nasionale Unie in die lewe geroep om 'n oplossing te vind, maar sy gematigde program het geleidelik na die uiterste oorgehel. Cecil John Rhodes het die beweging sterk ondersteun. Baie van die bekende persoonlikhede aan die Rand het begin belang stel in die gedagte om hulp van buite te verkry. Geleidelik het die plan om in opstand te kom begin vorm aanneem. Groot hoeveelhede ammunisie en wapens is ingesmokkel. Daar bestaan onsekerheid oor die doel, maar dit was waarskynlik daarop gemik om die Republiek te behou maar onder 'n ander leier as Paul Kruger. Geheime voorbereidings is getref vir militêre optrede. Dr. Jameson, wat Administrateur van Zimbabwe (Rhodesië) was, het 'n polisiemag en vrywilligers by Pitsani op die grens van Betsjoeanaland (nou Botswana) en Transvaal saamgestel.

Hy raak ongeduldig, en op 29 Desember 1895 val hy Transvaal binne sonder die toestemming van sy medewerkers in Johannesburg of van Cecil John Rhodes in Kaapstad. Die Boere is gewaarsku en het onmiddellik kommando's gemobiliseer. Groot verwarring het in Johannesburg geheers. Jameson se mag, onder bevel van sir John Willoughby, het bestaan uit 511 Blankes, nagenoeg 150 Bantoe-drywers met maxims, drie kanonne, 640 perde en 158 muile. By Doornkop, naby Krugersdorp, het die invallers en die Boere mekaar ontmoet. Eersgenoemde is gedwing om oor te gee en is later deur president Kruger vir verhoor aan die Britte oorhandig. Intussen is 'n Reform Committee, bestaande uit prominente burgers in Johannesburg gestig. Met die mislukking van die inval is hulle gearresteer en in Pretoria in die tronk gesit. Op 27 April 1896 het die verhoor van die Reformers in Pretoria begin en vier van die leiers is ter dood veroordeel; sir Lionel Philips, Frank Rhodes, George Farrar en John Hays Hammond. Die oorblywendes is elk tot 2 jaar tronkstraf gevonnis en met £2,000 beboet. Die doodvonnisse is later deur president Kruger verander tot 'n boete van £25,000 en verbanning uit Transvaal. Die twee jaar tronkstraf is ook kwytgeskeld.

Dr. Jameson is op 20 Julie 1896 in Engeland verhoor en tot 15 maande tronkstraf gevonnis, terwyl sy mede-invallers wat ook daar verhoor is, vonnisse ontvang het wat gewissel het tussen 3 en 10 maande. As gevolg van die toenemende politieke wrywing wat uit die inval voortgespruit het, was die Tweede Vryheidsoorlog feitlik onafwendbaar.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Jameson, Sir Leander Starr
Volgende onderwerp: Jamestown
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 09:02:33 MGT 2024