Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Jameson, Sir Leander Starr
Jameson, Sir Leander Starr [boodskap #122310] Di, 18 Desember 2018 14:01
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Sir Leander Starr Jameson was 'n Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese (Rhodesiese) staatsman. Gebore in 1853 in Edinburgh, dieselfde jaar as sy twee lewenslange medewerkers, Cecil John Rhodes en Alfred Beit. Hy was die seun van 'n prokureur met letterkundige gawes en die jongste van 'n gesin van tien. Na sy skoolopleiding in Skotland en Engeland het hy in 1872 by die University College in London ingeskryf. Omdat hy so sensitief was, veral om lyding te aanskou, het hy byna flou geword toe hy sy eerste operasie sien. Nietemin, hy was 'n briljante student en toe dr. Prince van Kimberley aan die universiteit skryf om 'n vennoot, is Jameson aanbeveel. Teen hierdie tyd het hy al in Wenen gestudeer en as spesialis gepraktiseer.

In Kimberley het hy gou naam gemaak as die bekwaamste dokter op die Diamantveld. Hy was besonder gewild en het 'n intieme vriend van Cecil Rhodes geword. Hulle stel belang in finansies en begin met die ontwikkeling van Masjonaland en Matabeleland. Namens Rhodes het Jameson in 1889 en 1890 drie agtereenvolgende sendings na Lobengula onderneem. Die uitslag was die bevestiging deur die Matabelekoning van die toegewing aan die British South Africa Company. Hoewel Jameson die Pioneer Column vergesel het, het hy nie oor enige amptelike posisie as Rhodes se verteenwoordiger beskik nie, maar in 1891 het hy Archibald R. Colquhoun as Administrateur van Masjonaland opgevolg. So het hy meer gewildheid onder die setlaars verwerf. Onder sy bewind het die oorlog teen die Matabeles in 1893 uitgebreek. Dit het die besetting van Gubulawayo en die ondergang van Lobengula ten gevolg gehad. In 1894 het Matabeleland ook onder die administrasie van 'Dr. Jim' gekom. Die daaropvolgende jaar is hy verantwoordelik vir die Jameson-inval. Na sy oorgawe aan die Boere is hy aan die Britse regering oorhandig en in Londen verhoor. Die verhoor het op 20 Julie 1896 voor lord Russell van Killowen, baron Pollock en sir Henry Hawkins, met 'n jurie begin en 7 dae lank geduur. Hy is gevonnis tot 15 maande tronkstraf en is na Wormwood Scrubbs en toe na Holloway-gevangenis gestuur maar is in Desember 1896 vrygelaat as gevolg van swak gesondheid. Hy keer in 1898 na Rhodesië terug en onderneem 'n uitgebreide reis langs die roete van die toekomstige telegraaflyne en spoorweë.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het hy sy dienste aan die Imperiale regering aangebied. Hy bereik Ladysmith tydens die beleg, maar sy gesondheid laat hom in die steek. In 1900 word hy tot die Kaapse parlement verkies waar hy vinnig opgang maak. In 1902, na die dood van Cecil John Rhodes, word hy leier van die Progressiewe Party en in 1904 word hy Eerste Minister. Baie probleme as gevolg van die ernstige depressie in die Kaapkolonie het hom nou in die gesig gestaar. In 1907 woon hy die Imperiale Konferensie in Londen by en in 1908 word hy 'n lid van die Nasionale Konvensie wat die grondwet vir die Unie opgestel het. Tot baie se verbasing was hy nie in die oorspronklike Unie-kabinet nie, maar in 1910 word hy verkies tot die Parlement en word leier van die Unionistiese opposisie. In 1912 tree hy in Londen af waar hy in 1917 oorlede is.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Jakobs, Petrus
Volgende onderwerp: Jameson-inval
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 20:27:53 MGT 2024