Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Handel
Handel [boodskap #122085] Sa, 15 Desember 2018 12:35
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Handel verwys na die koop en verkoop van goedere asook die ruil en verruil van ware. Internasionale handel behels die invoer en uitvoer van goedere.

Suid-Afrika se grootste enkele uitvoer is goud waarvan die meeste na die Londense Staafgoudmark gaan en daarvandaan na die skatkamers in Fort Knox, V.S.A., en ander finansiële sentrums in die wêreld. Diamante gaan hoofsaaklik ook na Brittanje voordat dit gesny word. Die 'waarneming' vir dié handel word gereël by Hatton Garden, maar die grootste uiteindelike koper is die Verenigde State. Indië en die vasteland van Europa is ook waardevolle kopers. Diamante word in Nederland, Amerika, Israel en in 'n mate in die Republiek self geslyp.

Die belangrikste koper van Suid-Afrikaanse wol is die Verenigde Koninkryk, maar as gevolg van die groot mate van heruitvoer uit Brittanje is dit moeilik om die presiese verbruik te bepaal van lande soos die V.S.A., Wes-Duitsland, Frankryk, België, Tsjeggo-Slowakye, Switserland, Italië, Rusland en die meeste ander state wat beskik oor tekstielnywerhede. Steenkool word verskeep na Suid-Amerika, die Midde en Verre Ooste en koper, tin, asbes, chroom, ens., na Europa en die V.S.A. Graan en suiker gaan na sowel die Verenigde Koninkryk as Europa, terwyl Frankryk en die V.S.A. tradisioneel voorkeur gee aan Suid-Afrikaanse kreef. Ingemaakte vis (sardyntjies ens.) het 'n groot afsetgebied in Europa en Australië. Suid-Afrika is een van die belangrikste uitvoerders van vars vrugte, sowel sitrus- as sagtevrugte. Brittanje en die vasteland van Europa, veral Skandinawië en Duitsland, is groot verbruikers. Die belangrikste afsetgebied vir wyn en spiritualieë (brandewyn en likeurs) is Brittanje, Kanada en Skandinawië.

Daar bestaan 'n afsetgebied in Zimbabwe (Rhodesië) vir feitlik enige soort Suid-Afrikaans-vervaardigde artikel, en in 'n mindere mate in Mosambiek en elders in baie dele van Afrika. 'n Aanvraag in ander wêrelddele het ook ontwikkel soos blyk uit die uitvoer van Rand-vervaardigde hysers na Peru, van Kaapstad-vervaardigde manspakke na die V.S.A. en van die merkwaardige wetenskaplike instrument, die Tellurometer, wat in Suid-Afrika uitgevind en ontwikkel is, na Amerika en baie ander plekke.

Op die gebied van invoer, hoewel baie van hierdie goedere, veral tekstieware, gedaal het vanweë die ontwikkeling van plaaslike fabrieke, is Brittanje bo-aan die lys, met Japan, Italië, die V.S.A., Frankryk, Switserland en Oostenryk as mededingers. Motorvoertuie word ingevoer uit Brittanje, die V.S.A., Duitsland, Kanada, Frankryk, Italië en verskeie ander lande, en later ook van Australië en Japan.

Hoewel Suid-Afrika self reeds masjienerie en onderdele uitvoer, word daar voortgegaan met die invoer uit Brittanje, die V.S.A., Frankryk, Wes-Duitsland, Italië en baie ander lande.

Sedert 1955 word die handelsyfers vir Namibië (Suidwes-Afrika) saam met dié van die Unie (nou die Republiek), bereken, tog is dit moontlik om die belangrikste neigings daar te bepaal. Die grootste uitvoer is diamante, gevolg deur karakoelvelle, wol en vleis, suiwelprodukte en huide. Onedele metale (lood, koper en sink) is hoofsaaklik afkomstig van die Tsumeb-werke, met mangaan ook 'n aansienlike hoeveelheid.

Zambië se uitvoer word deur koper, sink en kobalt oorheers; dié van Zimbabwe (Rhodesië) deur asbes, tabak, chroom, erts, tee, mielies, klerasie, velle, grondboontjies, lood, radio's, ens. Die belangrikste afsetgebied vir Zimbabwiese uitvoer is Brittanje, wat meer as 48 persent neem, gevolg deur Wes-Duitsland, die Republiek van Suid-Afrika, die Verenigde State, Nederland, Indië, Swede, Italië, Frankryk, Australië, Japan, België en die U.S.S.R.

Die belangrikste uitvoer van Mosambiek (buiten sy groot deurvoerhandel met Suid-Afrika, Zimbabwe en Zambië) is katoen, gevolg deur suiker, kasjoeneute, sisal, tee en plante-olies. Die meeste hiervan gaan na Portugal. Invoer sluit in: tekstielgoedere, steenkool (van die Republiek van Suid-Afrika), spoorwegmateriaal, masjienerie, yster en staal, motors, olie, graan, skoeisel en spiritualieë.

Nota: Vanweë die snelle verandering van statistiek wat verouderd raak, word geen syfers hier aangegee nie.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Hammond, John Hays
Volgende onderwerp: Hanepoot
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:40:57 MGT 2024