Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Haai
Haai [boodskap #122066] Sa, 15 Desember 2018 08:16
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Daar is baie soorte haaie wat almal van gewone visse verskil in die opsig dat hulle kraakbeen in plaas van been het; die vel is nie bedek met skubbe nie, maar rof getand; 5 tot 7 kieusplete aan elke kant; tande gewoonlik talryk; sigaarvormige liggaam en hoë stertvin. Lengte wissel van 5 tot 50 voet. Die meeste spesies is lewendbarend, maar die sebrahaai (Stegostoma fasceatum) lê 'n paar groot eiers, elkeen in 'n horingagtige dop (wat soms langs die strand opgetel word). Die kleintjies word gebore of uitgebroei en lyk net soos die volwasse haai. Haaie kan van ver af uitgeken word aan die hoë stertvin en deur die feit dat hulle, omdat die bek laag onder sit, moet omdraai om hulle prooi by te kom en dan die ligte pens blootstel. Hoewel hulle by Kaapse hawens gesien word, is hulle baie volop aan die Natalse kus. Die meeste is gevaarlik.

Aanvalle op die mens is in die meeste gevalle teruggespoor na die 5 voet lange Durbanse gryshaai (Carcharinus melanopterus) en die groter swartvinhaai (C. limoatus), eerder as die 30-40 voet lange mensvreter (Cachasodon carcharias). Die 15 voet lange tierhaai (Caleocerdo articus) is aggressief, maar in die algemeen 'n aasvreter. Een van 289 pond is met 'n visstok aan die Natalse kus gevang.

Die 40 voet lange skadelose reusehaai (Cetorhinus maximus) is blykbaar 'n somerbesoeker aan die Kaap en is al naby Houtbaai en Simonstad opgemerk. Sy ontelbare tande is klein en dit leef van klein organismes wat deur sy kuwe gesif word. Die grootste bekende haaisoort stem baie ooreen met bogenoemde. Dit is die 50 voet lange walvishaai (Rhincodon typus). Die eerste een wat in Suid-Afrika gevind is, het in 1829 in Tafelbaai uitgespoel en word in die Paryse museum bewaar. In die Kaapstadse museum is een van 20 voet wat in 1934 naby Noordhoek gevind is.

Van ekonomiese belang vir Suid-Afrika is die 6 voet lange vaalhaai (Galerhinus galeus), wat vir sy lewerolie gevang word. In Australië word die vinne gedroog en na Sjina uitgevoer vir haaivinsop. Die vel word verkoop om hout glad te maak, vir leer en om juwelekissies mee oor te trek. Sien Seehulpbronne.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Gwelo
Volgende onderwerp: Haarlem
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 12:43:28 MGT 2024