Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Groot Trek, Die
Groot Trek, Die [boodskap #122051] Sa, 15 Desember 2018 07:45
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Groot Trek was 'n massa-emigrasie van koloniste, hoofsaaklik dié van Hollandse afkoms, in die jare 1830 van die Kaap die Goeie Hoop af. Afsonderlike trekke het feitlik van die begin van die volksplanting af plaasgevind. Daar was verskeie oorsake vir die Groot Trek, onder meer die gebrek aan begrip van die Britse departement kolonies en sy verteenwoordigers se hantering van die probleme van die Grensboere, die ontoereikende vergoeding wat hulle ontvang het vir vrygestelde slawe ingevolge die Emansipasiewet, en die terugkeer van naburige swart stamme na die 'Provinsie van Koningin Adelaide', wat as 'n bufferstrook gedien het. Sommige het ook 'n ingebore afkeer gehad aan belasting en gesentraliseerde administrasie. In die algemeen het die Britse setlaars simpatiek gestaan teenoor die griewe van die Voortrekkers en 'n Bybel is op Grahamstad aan Piet Retief oorhandig.

Een van die eerste georganiseerde trekke wat die Kaap verlaat het, was dié van Louis Trichardt in 1835 wat sy trek van Boere uit die distrik Albany oor die grens noordwaarts gelei het. 'n Geselskap onder Jan van Rensburg het by hom aangesluit en met 30 waens trek hulle tot by die Soutpansberggebied waar Van Rensburg se geselskap ooswaarts getrek het, en vermoedelik uitgemoor is.

In 1867 is 'n blanke man en vrou onder die plaaslike Bantoes gevind. Hulle is vermoedelik die enigste oorlewendes wat as kinders gevange geneem is. Trichardt se geselskap het na baie ontberings Lourenço Marques bereik waar hulle beswyk het aan koors. Die oorlewendes is per boot na Natal geneem. Ondertussen het meer trekke die Kaapkolonie verlaat ten spyte van waarskuwings van N.G. predikante en regeringsamptenare. Een van die vernaamste leiers was Hendrik Potgieter wie se trek die huidige Potchefstroom bereik het. Ander groepe het hulle gevestig in wat nou bekend staan as die Oranje-Vrystaat waar hulle met Silkaats gebots en die dorp Winburg gestig het. Die belangrikste groepe was onder Piet Retief en Gerrit Maritz. Retief het in 1837 by Thaba N'chu aangekom en is in April deur sowat 1,000 trekkers as Kommandant-generaal gekies. In Oktober 1837 het Retief en 'n verkenningsgeselskap die Drakensberg na Natal oorgesteek en 'n verdrag met die Zoeloeopperhoof, Dingaan gesluit. Dit lei tot die moord op die geselskap in sy kraal en 'n aanval op die oorlewendes by Blaauwkrans. Op 16 Desember 1838 het Andries Pretorius met 460 man in die Slag van Bloedrivier 'n mag van 10,000 Zoeloes verslaan waarvan 3,000 gedood is.

Die Groot Trek het feitlik geëindig, maar die Britse owerheid het die Trekkers nog as onder hulle jurisdiksie beskou. Dis deur proklamasie uitgebrei tot die onbewoonde gebiede van die noorde.

Ten spyte daarvan dat die Boere die Republiek van Natalia gestig het, is 'n mag onder kaptein J.C. Smith van die Kaap af na Port Natal gestuur waar hulle beleër is. Die Britse gesag is bevestig en dit het weer trekke uit Natal na Transvaal en die Oranje-Vrystaat tot gevolg gehad. In 1843 is die Republiek van Natalia uiteindelik aan die gesag van Koningin Victoria onderwerp. Die stigting van onafhanklike republieke in die Vrystaat en Transvaal, gepaard met die vestiging van Natal as 'n Britse kolonie, het die einde van die Groot Trek beteken.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1961
Volgende onderwerp: Grootvisrivier
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 19:58:25 MGT 2024