Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Fabrikant
Fabrikant [boodskap #121783] So, 09 Desember 2018 07:54
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Fabrikant is 'n persoon of firma wat 'n fabriek besit waarin ware (goedere) vervaardig word.

Hoewel fabrikante met die aankoms van die eerste setlaars in Suid-Afrika begin het, kan hulle werklike begin gereken word van die jare 1820 toe die eerste stoomenjins aan die Kaap geïnstalleer is. Die klein bevolking, die afsydigheid van die regering en die teenkanting van invoerders, het die vordering op die gebied baie jare lank vertraag en daar is sarkasties na Suid-Afrika verwys as die 'land van monsters'. Uitstallings in Kaapstad in 1877 en 1884, in Port Elizabeth in 1885, in Grahamstad in 1887 en in Kimberley in 1892 het aan ondernemende plaaslike pioniers die geleentheid gebied om hulle ware ten toon te stel, maar aan die einde van die eeu kon die land min bied behalwe velskoene en soortgelyke ru-vervaardigde skoeisel, waens en ander voertuie, eenvoudige meubels, bier en brandewyn. Die eerste nywerheidsensus in die Kaapkolonie is in 1891 gehou. Die opkoms van nasionalisme soos dit tot uiting gekom het in die Afrikanerbond, het die eerste eise laat ontstaan om beskermende tariewe wat die steun van Cecil Rhodes geniet het. Die opening van die diamant- en goudvelde en die gevolglike vraag na masjienerie het die fondament gelê vir 'n ingenieursbedryf in Kaapstad, Durban, Kimberley, Port Elizabeth en Johannesburg. Op Modderfontein is 'n groot plofstoffabriek opgerig.

Die Tweede Vryheidsoorlog het die gebruik van die Begbiegietery in Johannesburg (verwoes deur 'n ontploffing) gestimuleer asook die Nederlandse Spoorwegmaatskappy se werkswinkel in Pretoria vir die produksie van krygsvoorraad vir die Republieke, terwyl die vervaardiging van die kanon 'Long Cecil' in die besette Kimberley nog 'n teken was van die land se moontlikhede. Op Sweet Water, naby Pietermaritzburg, het S.L. Green 'n poging aangewend om plaaslike ystererts te smelt. Ondanks die na-oorlogse slapte is daar tog vooruitgang gemaak met onder meer die bou van die eerste plofstof-fabriek naby Somerset-Wes in 1902 onder die beskerming van Rhodes, die opening van 'n soortgelyke fabriek op Umbogintwini deur Kynochs in 1908 en die stigting van die Lever Brothers se seepfabriek in Durban in 1910. Ten spyte van klein tarieftoegewings was die land egter ver agter by die ander dominioms. Volgens die nywerheidsensus van 1911 was die bruto-opbrengs £ 17,249,000. Die Suid-Afrikaanse nywerheid het sy eerste groot geleentheid gekry in die Eerste Wêreldoorlog toe voorrade van oorsee afgesny is; in 1916 het die opbrengs gestyg tot £40,435,000 en in 1921 tot £98,308,000. Die Hertzog-regering se beleid van beskermende tariewe het nuttige hulp verleen. Toe kom daar 'n skerp daling as gevolg van 'n slapte in die ekonomie en eers in 1928 het die syfer op £106,770,000 te staan gekom, maar met die wêrelddepressie in 1932 val die opbrengs weer terug na £90,948,000. Teen 1934 is alle rekords egter geslaan en kom die syfer op £131,597,000 te staan. Hierdie styging duur sedertdien onverpoosd voort. Op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 was Suid-Afrika se fabrieksopbrengs £199,617,000. Teen die einde van die oorlog in 1944 het nuwe tekorte beleggings verder gestimuleer en het die totaal op £417,438,000 te staan gekom. Die na-oorlogse ontwikkeling het dit ver in die skadu gestel en die jaarlikse produksie van Suid-Afrika se fabrieke was in die 1960's meer as R3,500,000,000. Die vernaamste vervaardigingsgebied is die Witwatersrand met Johannesburg as sentrum, en die gebied wat strek so ver suid as Veereeniging en Vanderbijlpark. Die volgende is Wes-Kaapland, Durban en Port Elizabeth.

In verhouding was die styging in vervaardigingsprodukte in Zimbabwe (Rhodesië) net so indrukwekkend. Voor die Tweede Wêreldoorlog was dit feitlik onbeduidend. Teen die 1960's is goedere ter waarde van meer as £150,000,000 daar geproduseer, terwyl 120,000 mense, insluitende 16,000 blankes destyds daar in diens was. Die vermoë is later deur swak politieke bestuur uitgewis.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Exeter Hall
Volgende onderwerp: Fagan, Henry Allan
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 19:10:37 MGT 2024