Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Durban (Port Natal)
Durban [boodskap #121700] Vr, 07 Desember 2018 18:43
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Durban (vroeër Port Natal) is 'n stad en een van die grootste hawens en nywerheidsentrums in Suid-Afrika. Die naam is tot omstreeks 1870 D'Urban gespel. Dit is vernoem na goewerneur sir Benjamin D'Urban van die Kaap onder wie se bewind dit in 1824 gestig is. Die stad is gebou om die groot, deur land ingeslote Baai van Natal, soos dit toe genoem is. 'n Groot deel van die gebied was oorspronklik 'n mangrovemoeras. Die bestaan van 'n sandbank oor die nou ingang na die hawe het baie jare lank groter skepe verhoed om die hawe binne te gaan en in die algemeen vooruitgang gestrem. Danksy baggerswerk en geskikte hawewerke is hierdie probleem oorkom en sedert 1904 kan groot bote die hawe binnegaan. In Junie 1963 was die bevolking van Durban 737,000, (210,000 Blankes, 240,000 Bantoes, 30,000 Kleurlinge en 258,000 Asiate). Die munisipale gebied het 70 vierkante myl beslaan maar is sedertdien aansienlik uitgebrei. Durban was die toneel van onrus wat voortgespruit het uit die botsings tussen die Voortrekkers en die Britse owerheid, onder meer die beleg van 'n geselskap Britse soldate op Congella in 1842.

Die stad het eers teen die jare 1850 werklik begin groei toe die handel uitgebrei is, pogings aangewend is om die hawe te benut en die inwoners teen die heuwels, bekend as Berea, begin bou het.

Durban het in 1855 'n munisipaliteit geword toe die meeste geboue nog van paal-en-klei was. Om aan die behoeftes van die handelaars te voldoen en weens die op- en aflaai van skeepsvrag by die Punt, is die eerste spoorlyn in Suid-Afrika in 1860 oor 'n afstand van sowat een myl na die middestad gebou. In dieselfde jaar kom die eerste Indiërs in Natal aan wat aan die stad sy kenmerkende voorkoms gee. In die jare 1870 word die spoorlyn na Pietermaritzburg verleng en sekere hawewerke suksesvol voltooi. Durban het 'n gewilde kusoord geword. Die oopstelling van Transvaal en die binnelandse gebiede het gou 'n groot toeristeverkeer opgebou. Die stad het hoofsaaklik in die 20ste eeu as 'n nywerheidsentrum gegroei. Vandag is dit bekend vir sy ingenieurswese, skeepsherstelwerk, buitebandvervaardiging, suikermeulens, saagmeulens, koringmeulens, chemiese vervaardiging, motormontering, ens.

As gevolg van sy betreklike nabyheid aan die Witwatersrand word die meeste behoeftes van die gebied deur Durban ingevoer. Dit is bekend vir sy aantreklike voorkoms en netjiese strate wat 'n subtropiese voorkoms het. Van sy treffendste aantreklikhede is sy pragtige seefront met rye hoë wolkekrabbers, ook die mooi esplanade langs die baai, die groot stadsaal en pragtige voorstede. Danksy die feit dat verskeie brûe oor die Umgeni gebou is, het dit aansienlik noordwaarts uitgebrei. 'n Groot deel van die Universiteit van Natal, wat uit die Howard College ontwikkel het, word in Durban gehuisves. Die Howard College is kort na die Eerste Wêreldoorlog gestig.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Du Plessis, Dr. Josias Hendrik Otto
Volgende onderwerp: D'Urban, Sir Benjamin
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:52:13 MGT 2024