Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » De Wet, Generaal Christian Rudolf
De Wet, Generaal Christian Rudolf [boodskap #121616] Di, 04 Desember 2018 06:34
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Generaal Christian Rudolf de Wet was 'n krygsman en staatsman. Op 7 Oktober 1854 as die seun van Voortrekkerouers naby Dewetsdorp in die Vrystaat gebore. As seun veg hy in die Basoeto-oorloë van die jare 1860 en was 'n tyd lank transportryer. Hy trek na Transvaal, sluit aan by die Republikeinse magte in die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-81 en veg in die beroemde Slag van Amajuba. Na die sluiting van vrede word hy lid van die Volksraad van sowel die Oranje-Vrystaat as Transvaal. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was hy die hoof van 'n Vrystaatse kommando, en hy tree gou na vore as 'n gebore leier. Die daaropvolgende veldslae voer hy met die grootste sukses aan sodat sy naam spreekwoordelik word, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oorsee. By verskeie geleenthede ontsnap hy op wonderbaarlike wyse onder feitlik onmoontlike omstandighede en omsingel deur groot magte. Hy bly in die veld tot die einde van die oorlog en was teenwoordig met die Vrede van Vereeniging. Hy was 'n dag lank waarnemende President van die Oranje-Vrystaat.

In dié hoedanigheid het hy die Verdrag onderteken. Hy het onmiddellik daarna vergesel van ander Boere-leiers oorsee vertrek om geld in te samel vir die oorlogslagoffers. Hy tree weer toe tot die politiek en word Minister van Landbou vir die Oranjerivier-kolonie onder kroonkolonie-bewind. As 'n lid van die Nasionale Konvensie help hy met die opstel van die grondwet van die Unie. Hy kry stry met generaal Botha en word 'n stigter van die Nasionale Party. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog neem hy die bevel oor van 'n gedeelte van die rebelle in die Oranje-Vrystaat, maar na die geveg by Mushroom-vallei word hy gedwing om te vlug en is uiteindelik in Betsjoeanaland (tans Botswana) gevange geneem. Hy word verhoor op 'n aanklag van hoogverraad en gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf en 'n boete van £2,000. Na ongeveer 'n jaar word hy vrygelaat en gaan woon hy stil op sy plaas, waar hy op 3 Februarie 1922 oorlede is. Hy is begrawe aan die voet van die Konsentrasiekampmonument in Bloemfontein.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: De Waal, Sir Nicholas Frederick
Volgende onderwerp: De Wet, Jacobus Petrus
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 20:43:31 MGT 2024