Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Denguekoors (Knokkelkoors)
Denguekoors [boodskap #121597] Ma, 03 Desember 2018 17:34
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Denguekoors (ook knokkelkoors) is 'n aansteeklike siekte besonder algemeen in Natal tydens die warm seisoen. Die naam Dengue is vermoedelik afkomstig van die Swahiliwoord. Dit is ook algemeen in die Wes-Indiese eilande waar dit bekend is as polkakoors. Die simptome is onder meer lusteloosheid, hoofpyn, koors, veluitslag, pyn in die gewrigte en 'n kenmerkende uitslag soortgelyk aan die van masels. In enkele gevalle ontwikkel die siekte in die lewensgevaarlike dengue-hemorragiese koors met bloeding, lae aantal bloedplaatjies en lekkasie van bloedplasma, of tot dengue-skoksindroom, wat 'n gevaarlike lae bloeddruk tot gevolg het.

Denguekoors word deur verskillende spesies muskiete van die geslag Aedes oorgedra, hoofsaaklik deur A. aegypti (die dengue-muskiet). Daar is vyf variante van die virus. Besmetting met een tipe bied gewoonlik lewenslange immuniteit vir daardie tipe, maar slegs korttermyn-immuniteit vir die ander soorte. 'n Latere infeksie met 'n ander soort verhoog die risiko vir ernstige komplikasies. Aangesien daar geen entstof is nie, is die beste voorkoming om die muskiete se habitat in te beperk en hul getalle te verminder om die kans op 'n byt te verklein. Die entstof Dengvaxia (Sanofi) is later ontwikkel, maar slegs vir mense wat vantevore deur die dengue-virus geïnfekteer was.

Die behandeling van akute dengue is ondersteunend van aard. In ligte of medium gevalle word rehidrasie bewerkstellig deur baie te drink of deur die infusie van vloeistowwe. In meer ernstige gevalle word vloeistowwe via infusie asook 'n bloedoortapping toegedien.

Die voorkoms van dengue het sedert die 1960's skerp gestyg tot ongeveer 50-100 miljoen infeksies per jaar. Die eerste beskrywings van die toestand dateer uit 1779 en die oorsaaklike virus en oordrag is aan die begin van die 20ste eeu geïdentifiseer. Dengue het na die Tweede Wêreldoorlog 'n wêreldwye probleem geword en is endemies in meer as 110 lande. Benewens die uitskakeling van muskiete, word daar gewerk aan 'n entstof en medikasie wat direk op die virus kan inwerk.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Aangevul uit ander bronne.

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Deneysville
Volgende onderwerp: Denyssen, Petrus Johannes
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:12:58 MGT 2024