Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » British South Africa Company
British South Africa Company [boodskap #121319] Ma, 26 November 2018 17:40
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die British South Africa Company (ook bekend as "The Chartered Company", B.S.A. Company, BSACo of BSAC) was hoofsaaklik 'n mynboumaatskappy, maar het ook in 'n stadium die administrasie van Noord-Rhodesië (Zambië) en Suid-Rhodesië (Zimbabwe) behartig.

'n Oktrooi is op 15 Oktober 1889 deur koningin Victoria aan Cecil John Rhodes, Alfred Beit, Albert Grey, George Cawston, die Hertog van Abercorn en die Hertog van Fife uitgereik wat hulle gemagtig het om die British South Africa Company met 'n kapitaal van £1,000,000 te stig nadat koning Lobengula op 29 Oktober 1888 'n konsessie toegestaan het vir die mineraleregte in Matabeleland. Hulle het oor wye magte beskik, insluitende die reg om die gebied te beset, diplomatieke betrekkinge aan te knoop en militêre ekspedisies te onderneem. As gevolg hiervan is die Pioneer Column gestuur om Rhodesië te koloniseer en te bestuur. 'n Aanvullende oktrooi is op 8 Junie 1900 uitgereik. Na die ondersoek deur die Cave-Kommissie is 'n bedrag van £4,435,225 vasgestel as vergoeding vir die regte wat deur die Rhodesiese regering van die maatskappy oorgeneem is. Die maatskappy se regeringstelsel het aansienlike ontevredenheid veroorsaak. Van 1914 af is onderhandelings gevoer vir verantwoordelike regering of alternatief inlywing by die Unie van Suid-Afrika. Generaal Smuts se voorstel in 1922 om die bates van die B.S.A.C. oor te neem vir £6,836,000, is deur die aandeelhouers aanvaar. Die skema het egter deur die mat geval nadat die plan vir aansluiting by die Unie in 'n referendum verwerp is. Sedert die instelling van verantwoordelike bestuur in 1923 het die maatskappy hom hoofsaaklik toegespits op die ontwikkeling van sy grond en minerale bates, veral in die huidige Zambië. Dit het baie jare lank feitlik geen winste opgelewer nie, maar later het die ontwikkeling van die koperbedryf gepaard met die minerale regte vir groot gebiede meer as vergoed daarvoor. Aanvullende oktrooie is ook uitgereik op 13 Maart 1915 en 25 Maart 1924. Op 29 Junie 1933 het die Suid-Rhodesiese regering die maatskappy se minerale regte in sy grondgebied teen £2,000,000 kontant gekoop. Na die oorname van sy regte in Zambië deur die regering is die maatskappy in 1965 geabsorbeer in Charter Investments in samewerking met die Anglo-American-korporasie en Central Mining.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Britannia-rots
Volgende onderwerp: British South Africa Police
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 11:37:43 MGT 2024