Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Botha, Generaal Louis
Botha, Generaal Louis [boodskap #121284] So, 25 November 2018 18:24
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Generaal Louis Botha was 'n Suid-Afrikaanse staatsman en soldaat. Op 27 September 1862 naby Greytown, Natal, gebore. Familie oorspronklik uit Duitsland, bekend as Boot. Hy was die seun van 'n Voortrekker en het 'n Duitse sendingskool besoek. Gaan as kind saam met sy ouers na die Vrystaat. As 'n skaapboer trek hy met sy vee na Zoeloeland en raak betrokke in politieke aangeleenthede. Nadat hy homself onderskei het in die Boeremagte wat die Zoeloes in stamoorloë gesteun het, was Botha een van die stigters van die 'Nuwe Republiek' van 1884 wat sy hoofkwartier op Vryheid gehad het. Ná die ontbinding van die republiek het hy na Transvaal getrek. In 1895 is hy namens die Suid-Afrikaanse Republiek in Swaziland gestasioneer om na die belange van sy land om te sien, en in 1897 word hy lid van die Volksraad. Teen dié tyd is hy reeds beskou as 'n man met buitengewone talente. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, sluit hy aan by die Boermagte as Assistent-generaal onder generaal Lukas Meyer. Hy het 'n leidende aandeel in die gevegte by Ladysmith, Colenso en Spioenkop. Met die dood van generaal P.J. Joubert op 27 Maart 1900, is Botha aangestel as Kommandant-generaal van die Transvaalse magte. In die hoedanigheid het hy sy uitstaande gawes getoon ten spyte van die ongunstige verloop van die oorlog. Ten spyte van sy persoonlike sjarme het hy 'n sterk wil gehad en verskeie onbevoegde onderhoriges afgedank.

Met verloop van tyd het hy besef dat die stryd hopeloos was. Op 7 Maart 1901 begin hy met Lord Kitchener onderhandel, maar hulle kon nie 'n ooreenkoms bereik nie. In April 1902 het hy 'n leeue aandeel gehad in die reëlings wat gelei het tot die Vredeskonferensie op Vereeniging. Hy was een van die ondertekenaars van die finale verdrag. Nadat dit afgehandel is, het hy besluit om die verlede te vergeet en hom aan te pas by die nuwe omstandighede. Dit het uiteindelike daartoe gelei dat hy vervreemd geraak het van 'n groot deel van sy volk, maar hy was nog sterk en neem die leiding in die samestelling van 'n nuwe party, bekend as Het Volk. As die erkende leier van die Boerevolk was hy feitlik die onbetwisbare keuse as die Eerste Minister van Transvaal toe dit verantwoordelike bestuur gekry het in 1907.

Ná die Nasionale Konvensie, waarheen hy 'n afgevaardigde was, is hy gekies as die eerste Premier van die Unie van Suid-Afrika. Kort daarna volg die breuk met generaal J.B.M. Hertzog, maar hy bly aan as Premier en beskik nog oor groot prestige. Die uitbreek van die 1914-Rebellie was vir hom 'n bron van groot verdriet en kommer. Hy het die opstand onderdruk en het die aanval op Duits Suidwes-Afrika gelei wat in 1915 suksesvol beëindig is. Daarna is hy oorsee en is met groot respek behandel. Generaal Botha was teenwoordig op die Vredeskonferensie van Versailles in 1919, en het die ondertekening namens die Unie van Suid-Afrika waargeneem. Teen dié tyd het sy gesondheid reeds agteruitgegaan en op 27 Augustus van dieselfde jaar is hy op 57 jarige ouderdom in Pretoria oorlede.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Botha, Christiaan Lourens
Volgende onderwerp: Botha's Hill
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 11:22:04 MGT 2024