Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bosbou
Bosbou [boodskap #121272] So, 25 November 2018 15:28
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Bosbou verwys na die aanplant en onderhoud van bosse. Suidelike Afrika beskik nie oor baie natuurlike bosse nie; die oorspronklike bosse is gevolglik in die vroeë dae van die setlaars kwaai uitgedun weens die behoefte aan vuurmaakhout. In die dae van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie is gewaarsku teen die oormatige uitkap van hout, maar sonder veel sukses.

Wetenskaplike bosbou het in die Victoriaanse tyd begin, maar 'n departement om beheer oor die Kroonbosse uit te oefen is eers in 1876 ingestel. Die eerste Superintendent van Bosbou het sy amp in 1881 aanvaar. Sedertdien het sistematiese en moderne bewaring ontwikkel en dwarsdeur die land versprei - sedert die Tweede Vryheidsoorlog ook in Transvaal en Oranje-Vrystaat. In Natal het dit langer geduur voordat wetgewing op bosbou prakties toegepas is. Twee vrugtelose pogings is aangewend en eers in 1908 is die departemente van die vier oorspronklike kolonies saamgesnoer onder 'n hoofbosbewaarder. Sy werk is later gekoppel aan dié van grondbewaring.

Sedert 1934 het die Department Bosbou tesame met die Departement Landbou gewerk. Aanplantings het op groot skaal plaasgevind, veral as 'n maatreël om werkloosheid te verminder. Meer as 2,000,000 acres plantasies is in die Republiek aangebring, waarvan nagenoeg 600,000 deur die Staat aangeplant is.

In Zimbabwe (Rhodesië) is bosbou ook deur die regering aangemoedig, veral in die Oostelike Hooglande, waar groot plantasies aangeplant is deur sowel openbare as privaat ondernemings. Groot natuurlike bosse bestaan in Malawi, veral op berg Mlanje, wat bekend is vir sy seders en ander bome. 'n Aansienlike houtnywerheid is ontwikkel.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bosbok
Volgende onderwerp: Boschetto
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:22:18 MGT 2024