Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bloemfontein
Bloemfontein [boodskap #121219] So, 25 November 2018 06:11
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Bloemfontein is die hoofstad van die Vrystaat en setel van die Appélhof van Suid-Afrika. Bloemfontein staan informeel as die Rosestad bekend en word in Suid-Sotho Mangaung genoem. Daar bestaan twyfel oor die oorsprong van die stad se naam. Sommige deskundiges meen dat dit afgelei is van die naam van 'n plaaslike opperhoof, Jan Bloem, en ander meen dat dit afkomstig is van die feit dat blomme om 'n fontein gegroei het op die plaas van die boer Jan Britz wat hom in 1840 daar gevestig het. Dit is in 1846 as dorp gestig toe majoor Henry Douglas Warden, Resident van die Oranjerivier-Soewereiniteit (voorloper van die Oranje-Vrystaat) die plek gekoop het vir £37 10s. Na die onttrekking van die Britte van die Oranjerivier-Soewereiniteit in 1854 het Bloemfontein die hoofstad van die Oranje-Vrystaat geword. Hoewel dit goed geadministreer is, bly dit 'n klein dorpie en in 1895 was die hele bevolking net 2,500. Die land is so goed bestuur dat dit bekend gestaan het as die 'Model-Republiek'. Die enigste natuurlike baken naby Bloemfontein is Naval Hill, wat bo die groot Vrystaatse vlakte uitstyg.

Die dorp het sy belangrikheid te danke aan sy sentrale posisie in Suid-Afrika, wat sy handel en nywerheid gestimuleer het. Die oudste gebou is die oorspronklike Fort, wat reeds in 1848 deur Britse troepe opgerig is as beskerming teen die naturelle. Die Raadsaal, waar die ou Oranjerivier-Volksraad byeen gekom het, word nou gebruik deur die Provinsiale Raad van die Vrystaat. Daar naby is die ou presidentswoning, die amptelike woning van die Eerste Burger van die ou Republiek. Belangrike bakens sluit in die Nasionale Vrouemonument, wat opgerig is ter ere van die vroue en kinders wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het. Aan die voet daarvan is 'n aantal beroemdes uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis begrawe, insluitende mej. Emily Hobhouse, president M.T. Steyn, generaal Christiaan de Wet, en ds. J.D. Kestell.

Die Universiteit van die Vrystaat het ontwikkel uit die oorspronklike Grey-Kollege, in 1855 gestig deur sir George Grey. Die Staatspresident het ook 'n woning in Bloemfontein. Bloemfontein beskik oor 'n aantal fabrieksnywerhede en verskeie belangrike tydskrifte word daar gepubliseer.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bloedrivier
Volgende onderwerp: Bloemhof
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 20:00:39 MGT 2024