Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Behuising
Behuising [boodskap #121135] Vr, 23 November 2018 17:37
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Behuising verwys na die wonings waarin mense bly. Dit bestaan meestal uit geboue soos huise, woonstelle, koshuise, hotelle, ens. Dit bied beskerming aan die inwoners teen gevaar (indringers) en die elemente (wind en weer).

Georganiseerde behuisingskemas in Suid-Afrika dateer uit die tydperk onmiddellik na die Eerste Wêreldoorlog toe geld die eerste keer uit openbare fondse beskikbaar gestel is. Die oorspronklike Behuisingswet, Nr. 35 van 1920, het aan plaaslike owerhede die reg verleen om teen lae rentekoerse geld van die Tesourie te leen. Beperkings is egter geplaas op die grootte en die koste van woonhuise. Dit is beheer deur 'n Sentrale Behuisingsraad en groot skemas gekombineer met agterbuurt-opruiming is in Bloemfontein en Kaapstad voltooi. Toe die ontwikkeling van die land begin tred hou het met die behoeftes van die bevolking, het die vraag verminder, maar dit het nooit versadigingspunt bereik nie en die behoeftes van veral nie-blankes het dringend gebly.

'n Hoogs suksesvolle skema, die Burgerlike Behuisingsbond, is omstreeks hierdie tyd deur biskop S.H. Lavis van Kaapstad gestig. Deur die oprigting van duisende huise in die voorstede Epping, Thorton en elders, het dit van die grootste en suksesvolste grondeienaars in die land geword en alle winste is teruggeploeg in nuwe ontwikkeling.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die vraag na huise dwarsdeur Suid-Afrika opnuut toegeneem en in 1944 is die Sentrale Behuisingsraad gevolglik vervang deur die Nasionale Behuisings- en Beplanningskommissie, waaraan groot bedrae geld teen lae rentekoerse beskikbaar gestel is. Daar is ook van die bestaande bougenootskappe gebruik gemaak en mense met vaste werk kon feitlik die hele bedrag vir hulle toekomstige huis bekom teen 'n nominale rentekoers. Verdere voorsiening is gemaak vir die armer gemeenskap deur middel van subekonomiese skemas en langtermyn-afbetalings wat tot 40 jaar geduur het. Behuisingskemas vir oudvrywilligers het besondere aandag van die owerhede gekry, onder meer die gebruik van gewese leërkampe.

In die later jare het die behuising van die Kleurlinge en Bantoes al hoe groter probleme geskep. As gevolg van die nywerheidsrewolusie wat die Unie beleef het, het duisende swartes hulle weg na die stede gevind waar groot plakkerskampe teen 'n sorgwekkende tempo ontstaan het.

Ná 1955 is alles in die stryd gewerp om die probleem op te los en meer as 100,000 huise is (veral in en om Johannesburg) gebou. Dit het die toestand aansienlike verlig. Afgesien van die massaproduksie-huise wat sowat £200 (destyds R400) stuk gekos het, is 'n daar ook 'n groot aantal groot en moderne huise, woonstelle, ens. gebou.

In Zimbabwe (Rhodesië) het die immigrantetoestroming na die Eerste Wêreldoorlog ook 'n akute behuisingstekort veroorsaak. Die regering het probeer om dit tydelik te verlig deur die gebruik van stampaarde, 'n materiaal wat goedkoop is, maar nie lank hou nie, toe te laat. Later het dit plek gemaak vir 'n ambisieuse leningsprogram, wat hoofsaaklik vir swartmense bestem was.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bedfordview
Volgende onderwerp: Beit, Sir Otto John
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 11:37:48 MGT 2024