Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Barkly, Sir Henry
Barkly, Sir Henry [boodskap #121090] Do, 22 November 2018 05:27
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Sir Henry Barkly
Sir Henry Barkly
Sir Henry Barkly (1815-1898) was van 1870 tot 1877 die goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop. Hy is gebore in Londen op 24 Februarie 1815 as seun van Aeneas Barkly, van New Brunswick, Kanada. Hy verteenwoordig Leominster in die parlement van 1845 tot 1848. Daarna was hy die goewerneur van Brits Guiana, Victoria en Mauritius voordat hy na die Kaapkolonie verplaas is. Hier dien hy 7 veelbewoë jare waartydens hy die probleme gepaardgaande met die ontdekking van diamante en die opstand van delwers aan die Vaalrivier moes hanteer.

Hy het die Z.A.R. oorreed om sy geskil met Nikolaas Waterboer oor die pasontdekte diamantvelde aan ’n plaaslike arbitrasiehof te onderwerp; pres. Brand weier egter om die O.V.S. se saak anders as aan 'n internasionale hof te onderwerp. Toe die Vrystaat hul reg oor die diamantvelde wou laat geld, het hy na die uitspraak van Keate (1871) in 1872 die gebied formeel geannekseer. Hy verklaar hom in die Kaapse parlement ten gunste van verantwoordelike bestuur en oorreed die parlement om Basoetoland in 1871 by die Kolonie in te lyf.

Die taak is ook aan hom toevertrou om 'n onwillige Suid-Afrika te oorreed om lord Carnarvon se vergunning te aanvaar van 'n federasie vir die Kaap, Natal, Transvaal en die Vrystaat; iets wat nog heeltemal onryp was. Nadat hy in 1878 met pensioen afgetree het, word hy 'n direkteur van die Standard Bank. Hy is op 20 Oktober 1898 oorlede.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Barclays Bank
Volgende onderwerp: Barkly-Oos
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 17:42:51 MGT 2024