Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bantoetale van Suidelike Afrika
Bantoetale van Suidelike Afrika [boodskap #121082] Wo, 21 November 2018 18:19
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Bantoetaalfamilie - heelwat meer as 200 - dek feitlik die hele suidelike helfte van die vasteland van Afrika, van die Golf van Guinee tot by die monding van die Tanarivier in die ooste. Die term. 'Bantoe', is die eerste keer teen die middel van die 19de eeu as 'n taalkundige term deur dr. W.H.I. Bleek gebruik vir die hele taalfamilie waarin die woord vir 'mense' 'bantoe', of 'n soort wysiging daarvan was, (byvoorbeeld batho, bandu, watu, athu, ens). Dit is gedoen om dit te onderskei van die Hamitiese, Soedanese en Semitiese families aan die een kant en die Khoi-Sen tale aan die ander kant. Die Khoi-Khoin (sogenaamde Hottentots) en die Sen of Thwa (sogenaamde Boesman) verteenwoordig eilande of ingeslote gebiede in die suidelike Bantoesprekende gebied.

In Suidelike Afrika word die Bantoetaalfamilie verteenwoordig deur vyf verskillende taalgroepe, elk bestaande uit 'n aantal onderling-verstaanbare
dialekte, wat gepraat word deur altesaam 13,000,000 mense.

(1) Die Nguni-groep sluit in Xhosa (hoofsaaklik Kaapland), Zoeloe (hoofsaaklik Natal) en Rhodesiese Ndebele (in omgewing van Bulawayo) as letterkundige dialekte. Die nie-letterkundige dialekte van die groep sluit in Swazi (hoofsaaklik Swaziland), Transvaal Ndebele (Transvaal), Hlubi, Bhaca, Xesibe, Mpondo, ens. (Noordwes- tot Suidoos-Kaapland), Lala en Qwabe (Natal).

(2) Die Sotho-groep sluit in Suid-Sotho (hoofsaaklik Basoetoland), Tswana (hoofsaaklik Betsjoeanaland, Transvaal en Suidelike Vrystaat), en Noord-Sotho (Transvaal) as letterkundige dialekte. Die nie-letterkundige dialekte sluit in Hurutshe en subdialekte in Botswana, en Koni, Tlekwa, ens. in Transvaal.

(3) Die Venda-groep het sy tuiste in Transvaal. Sy hoofdialekte is Phani en Tsavhatsindi.

(4) Die Tsonga-groep sluit die volk in wat algemeen bekend is as 'Sjangaan' in die provinsie Mosambiek van Portugees Oos-Afrika. Die taal word
ook in dele van Transvaal gepraat. Dit sluit in Ronga (om Maputo/Lourenco Marques), Tonga (Transvaal) en Tswa (Transvaal) as letterkundige dialekte.

5) Die Sjona-groep het sy tuiste in Zimbabwe (Rhodesië). Dit het ses belangrike ondergroepe nl.; Karanga (met Fort Victoria as middelpunt); Zezuru (met omgewing van Salisbury as middelpunt); Korekore (suid van die Zambezi); Manyika (om Umtali); Ndau (Mosambiek en Melsetter); en Kalanga (van Plumtree tot Wankie). Die eerste twee word gebruik as basis vir 'n letterkundige vorm.

In die onder-klassifikasie van die Bantoetale behoort bogenoemde eerste vier groepe aan die suidoostelike streek. Die Sjona-groep, wat nie die letterkundige karaktertrekke deel wat die suidoostelike streek van ander Bantoetaalstreke onderskei nie, behoort aan die suid-sentrale streek.

Die Bantoetale het 'n eenvoudige, perfek gebalanseerde vokaalstelsel. In elke taal is daar 'n lae vokaal, a, en 'n gelyke aantal voor- en agterklinkers. Die vokaalfoneme strek van vyf tot nege, met sewe as gemiddeld. Daar is twee halfklinkers, w en y. Die konsonante sluit sowel eksplosiewe as 'n paar implosiewe in.

'n Vokaal kan kort, middelmatig, lank of ekstra lank wees. In die algemeen is die vokaal in die voorlaaste lettergreep lank. Die toon kan hoog, hoog-dalend, hoog-stygend, laag, laag-dalend, laag-stygend wees, en het semantiese kenmerke, dit is, twee of meer woorde bestaande uit identiese foneme, maar verskillend in intonasiepatroon, kan heeltemal verskillende betekenisse hê. Die naamwoord bestaan uit 'n stam en 'n voorvoegsel. Die naamwoorde val in 'n sekere aantal klasse onderskeibaar deur hulle voorvoegsels. Daar is klasse wat abstraksie, werkwoordelike naamwoorde, verkleinwoorde, toevoegsels, lokatiewe, ens. aandui. Nie minder nie as drie en twintig naamwoordklas-voorvoegsels is opgeteken, maar sover bekend is daar geen lewende Bantoetaal wat oor almal beskik nie.

Die meeste werkwoordstamme is tweelettergrepig, bv. Nguni bona, Sotho bona, Tsonga vona (sien).

Die naamwoord is konkordant. Dit is, in enige uitdrukking, dra enige woord wat grammaties betrekking het op die naamwoord 'n kongruensie wat verwys na die naamwoord. Dit het regstreeks betrekking op die voorvoegsel van die naamwoordklas.

Aangesien voornaamwoorde, kwalifikatiewe (d.i. adjektiewe, aanwysende, ens.) en predikatiewe grammaties verbonde is aan die naamwoord, volg dit dat daar voornaamwoordelike, bepalende en predikatiewe konkorde is. Die laaste sluit in subjektiewe en objektiewe konkorde.

In al die modus van die werkwoord, infinitief, imperatief, aantonend, aanvoegend en potensieel, word die negatief gevorm deur agtervoegsels en/of wysigings van die werkwoordstam, bv. Nguni infinitief u kuhamba (om te gaan), u kungahambi (nie te gaan nie) aanvoegend ahambe (dat hy moontlik sal gaan), angahambi (dat hy moontlik nie sal gaan nie).

Behalwe werkwoorde kan koppelwoorde wat geen werkwoord insluit nie, gebruik word as predikatiewe. Koppelwoorde druk idees uit van 'om te wees'.

'n Koppelwoord bestaan uit 'n verbinding en 'n toevoegsel, bv. Nguni ndimkhulu, Sotho kemoholo (ek is groot, maar letterlik 'Ek groot'); Nguni ngu mntu, Sotho ke motho (dit is 'n mens). Daar is byvoeglike, opsommende, aanwysende, kwantitatiewe en besitlike bepalings. Die adjektiewe is nou verbonde aan die naamwoorde, morfologies en semanties. Die aanwysende voornaamwoorde het drie of meer posisionele soorte, aanduidend van iets naby die spreker, iets nader aan die hoorder as die spreker, en iets ver van sowel spreker as hoorder.

'n Besitlike kwalifikatief volg gewoonlik op die substantief wat dit kwalifiseer, bv. Nguni i sandla sam (my hand, letterlike 'die hand van my'), Sotho bana baka (my kinders, letterlike 'die kinders van my').

Die suidoostelike Bantoetale is ryk aan tradisionele letterkunde sowel prosa as verse. Verhalende prosa sluit in mites en legendes, fabels en stories, spreekwoorde en raaisels. Mites vertel stories van die ontstaan van dinge, skepping; hoe diere hulle sterte gekry het, hoe die dood na die wêreld gekom het, ens.

Legendes is stories van helde wat die saak van die mens verdedig het teen mensvreters en ander monsters. Fabels is dierestories. Die diere in die stories het menslike eienskappe. Hulle verteenwoordig sekere tipe mense. Die haas is gewoonlik die held. Die stories gaan gewoonlik oor die gewone mens. Verse sluit in liriese en dramatiese verse, dansliedjies, oorlogsliedere, jagliedere, ens. Dit sluit ook daardie merkwaardige genre in bekend as die lofgedig. Nguni en Sotho is besonder ryk aan lofgedigte.

In Nguni en Sotho het skrywery teen omstreeke die middel van die 19de eeu begin. Albei beskik vandag oor 'n redelike hoeveelheid letterkunde, insluitende sommige goeie vertalings van Engelse klassieke werke. Die vernaamste hiervan is The Pilgrim's Progress. Die beroemdste oorspronklike werk tot dusver is die Suid-Sotho historiese roman, Tsjaka, deur Thomas Mofolo. Dit is in verskeie Europese tale vertaal, insluitend, Engels, Frans en Duits.

Xhosa-skrywers, in besonder, het 'n merkwaardige bydrae gelewer tot die Christelike godsdiens, nie net deur vertalings van beroemde gewyde liedere nie, maar ook deur eie komposisies. Die bekendste digters is S.E.K. Mqhayi (Xhosa) wat in 1945 oorlede is, en B. Wallet Vilakazi (Zoeloe) wat in 1947 oorlede is. Uittreksels van Engelse vertalings is ingesluit in 'n bloemlesing van Suid-Afrikaanse poësie wat uitgegee is onder redaksie van Roy McNab en gepubliseer is deur Maskew Miller, in 1958.

Deur DR. A.C. JORDAN; Lektor in Bantoetale, Skool van Afrikastudies, Universiteit Kaapstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bapedi
Volgende onderwerp: Baptiste
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:38:32 MGT 2024