Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bapedi (Pedi)
Bapedi [boodskap #121080] Wo, 21 November 2018 15:59
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Bapedi (kortweg Pedi) is 'n stam wat in Noord- en Oos-Transvaal woon. Hulle vroeë tuiste was in die Loeloeberge (ook Luluberge; Leolo-berge) ten ooste van die Olifantsrivier, en hulle was verbonde aan die Basoeto, Mosjesj. Nadat hulle feitlik afgemaai is deur Silkaats, is die oorlewendes en ander vlugtendes deur Sekwati, seun van Tulare, herenig onder die naam Bapedi. Na 'n reeks oorloë wat in 1846 teen die Boere begin het, is hulle onderwerp. Sekwati is opgevolg deur Sekoekoeni in September 1861. Hy het in opstand gekom teen die gesag van die Suid-Afrikaanse Republiek en is eers in 1879 tot onderhorigheid gedwing met die hulp van Britse troepe onder generaal sir Garnet Wolseley.

Die Bapedi woon in 'n gebied bekend as as Sekoekoeniland, vernoem na Sekoekoeni, die laaste selfstandige kaptein wat oor hulle geregeer het. Die naam Pedi is vandag ’n versamelnaam wat ’n hele aantal stamme aandui wat ongeveer 60 myl noordwes van Lydenburg langs die Loeloeberge woon. Dit kom omdat die Pedi oorspronklik ’n klein ryk opgebou het in Oos-Transvaal en ’n hele aantal stamme onderwerp het tot selfs by die Soutpansberge. Voor Silkaats moes die Bapedi egter self vlug uit hul gebied. Nietemin was daar tot onlangs ’n hele aantal stammetjies in en om Sekoekoeniland wat die Pedi-kaptein as hulle opperhoof erken het, hoewel hul verband met die Pedi-owerheid maar los van aard was.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Baobab
Volgende onderwerp: Bantoetale van Suidelike Afrika
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 17:51:24 MGT 2024