Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Banke en Bankwese
Banke en Bankwese [boodskap #121072] Wo, 21 November 2018 06:54
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die eerste bank in die modern sin van die woord aan die Kaap die Goeie Hoop was die 'Lombard Bank', wat in 1793 onder beskerming van die regering gestig is, hoewel sy geriewe, geskoei op die lees van die 'Bank van Lening' in Holland, baie beperk was. Sy verdere ontwikkeling was stadig, selfs na die Britse besetting van die Kaap. Die 'Cape of Good Hope Savings Bank' wat nog floreer, is in 1831 gestig en is in 1837 gevolg deur die 'Cape of Good Hope Bank' wat deur privaat ondernemers gestig is. Daarna is 'n aansienlike aantal klein plaaslike banke op verskeie plattelandse dorpe gestig, insluitende Beaufort-Wes, Swellendam, Fort Beaufort, Grahamstad en baie ander, wat later saamgesmelt het in groter instellings wat gevolg of gelikwideer het. Die enigste banke wat oorleef het, is die British Kaffrarian Savings Bank op King William's Town, wat uit 1860 dateer, en die Stellenbosch Distriksbank wat in 1882 gestig is. Soos die nedersettings versprei het, het banke ook in ander kolonies ontstaan. Die Natal Bank, gestig in 1854, was baie jare lank bedrywig. Banke is ook gestig in die Oranje-Vrystaat -- op Bloemfontein in 1862, Fauresmith 1863, en andere. Die Nasionale Bank van die O.V.S. is in 1877 gestig met fondse wat verkry is uit die £90,000 wat deur Brittanje as vergoeding betaal is vir die diamantvelde van Griekwaland-Wes. Die eerste bankinstelling in Transvaal was 'n tak van die Kaapse Handelsbank, wat in 1873 in Pretoria geopen is.

Gesteun deur die regering en deur Duitse en Nederlandse kapitaliste, is die Nasionale Bank van die Suid-Afrikaanse Republiek in 1890 in Pretoria geopen.

Groot gesamentlike kapitaalbanke het begin met die stigting van die Standard Bank van Suid-Afrika in 1862, gevolg deur die Oriental Bank, die London and South Africa Bank, en ander wat later tot niet gegaan het. Die Nederlandse Bank van Suid-Afrika dateer uit 1888, en het sy oorsprong in Transvaal. Die Nasionale Bank van Suid-Afrika, so genoem in 1901, het ontwikkel uit 'n samesmelting van banke in die Vrystaat, Natal en Transvaal. Dit is in 1926 opgeneem in Barclays Bank (Dominion, Colonial and Overseas). Die jongste onder die groter Suid-Afrikaanse banke is Volkskas (later deel van ABSA) wat in 1935 gestig is en die Trust Bank (1954)

Na die Tweede Wêreldoorlog het verskeie oorsese instellings insluitende die National City Bank of New York (wat reeds in 1920 'n poging aangewend het), die Chase National Bank, die Bank of Athens en die Bank of Indo-China, in Suid-Afrika takke geopen, terwyl Grindley's Bank en die Ottoman Bank in Rhodesië (Zimbabwe) begin het. Die oudste bank in Zimbabwe is die Standard, wat in 1892 in 'n tent in 'Fort Salisbury' geopen is.

Tydens die Duitse bewind in Suidwes-Afrika het 'n aantal Duitse banke in dié gebied handel gedryf. Almal het egter plek gemaak vir Britse of Suid-Afrikaanse bankinstellings, wat ook Basoetoland (Lesotho), Swaziland en Betsjoeanaland (Botswana) bedien het. Die bankwese in Mosambiek is uit Lissabon beheer deur die Banco Nacional Ultramarino, maar verskeie Britse en Suid-Afrikaanse banke het takke daar.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Banda, Dr. Hastings Kamuzu
Volgende onderwerp: Banket
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 15:23:21 MGT 2024