Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Argeologie
Argeologie [boodskap #121018] Wo, 14 November 2018 06:35
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Argeologiese opgrawing op Kreta.
'n Argeologiese opgrawing op Kreta.
Argeologie of oudheidkunde is die studie van menslike kulture deur die herwinning, dokumentering en analise van materiële oorblyfsels. Die doel van argeologie is om lig te werp op die langtermyn voorgeskiedenis, geskiedenis, gedragspatrone en kulturele ewolusie van die mens.

Met die isolering van Noord- en Suid-Amerika, Asië en Europa tot nou bewoonbare stroke deur die Kwartêre Ystydperk het die prehistoriese argeologie van Afrika van die uiterste belang geword. In Suid-Afrika het die belangstelling in 1857 ontstaan toe werktuie in die gruis van die Groot Visrivier gevind is. Teen 1924 was soveel bekend dat 'n nuwe terminologie noodsaaklik geword het. Dit het uiteindelik (1924) gelei tot die aanvaarding van 'n Vroeë, Middel en Later Steentydperk in ooreenstemming met die Laer Paleolitiese, die Middel Paleolitiese en daaropvolgende fases wat vir Europa gedefinieer is (Goodwin en Van der Riet Lowe). Die Pan-Afrikaanse Kongres oor Voorgeskiedenis het sedert 1947 elke vier jaar vergader. Op die derde sitting (Livingstone, 1955) is twee Oorgangstye ingestel tussen die Vroeë en Middel en die Middel en Later Steentydperk. Ten slotte is 'n Ystertydperk bygevoeg.

Die Vroeë Steentydperk kan die beste verstaan word uit die Vaalriviergruis (Zeuner). Semi-konvensionele gereedskap verskyn met die Kafuan en Oldowan spoelklip-kulture en mens kan met veiligheid die begin van herkenbare gereedskap dateer op sowat 'n half miljoen jaar gelede. Duisende vindplekke besuide die Steenbokskeerkring is bekend vir die volgende groot stadium, die Chelles-Acheul (Stellenbosch). Die Vaalrivier toon 'n plaaslike ontwikkeling in 5 opeenvolgende fases. Vindplekke aan die kus toon vier herkenbare fases van dieselfde omvang. Laat stadiums het bekend geword uit 'n merkwaardige vindplek op Kalambo Falls, Zambië, uit die Montagu-grot in Kaapland en uit verskeie belangrike grotte in Transvaal. Hierdie oneindige lang ontwikkeling het waarskynlik 150 000 jaar gelede ten einde geloop. Oral was die basiese werktuig 'n amandelvormige handbyl (ongeveer 6" lank, 4" wyd en 1" dik). Dit het voortgeduur tot in die Eerste Oorgang (Fauresmith Kultuur), wat sowat 50 000 jaar geduur en ongeveer 100 000 jaar of selfs later geëindig het. By die handbyl is skubwerktuie (flake tools) gevoeg, en hierdie samestelling van skrapers en ru-punte word oorheersend hoewel die verbeterde (4" lank) handbyl behoue bly. Tot in dié stadium het geen menslike oorblyfsels behoue gebly nie. Dit is verstaanbaar as die betrokke tyd en klimaatsveranderings in ag geneem word (Zeuner).

Die Middel Steentydperk, kom gelaag voor bokant die Vroeë Steentydperk in die Vaalrivier-spoelgruis, maar daar is min vindplekke in Suid-Afrika waar 'n opeenvolging waargeneem kan word wat maar net 'n fraksie van hierdie onstuimige tydperk dek. Menslike oorblyfsels is uit vindplekke van dié tydperk gehaal. Uit vroeëre fases, moontlik 75 000 jaar gelede, het ons drie menslike spesies, wat aansienlik van ons eie verskil. Op Hopefield, 80 myl noord van Kaapstad, is 'n skedel gevind wat verwant is aan 'n uiters belangrike faunale patroon. In 1919 is 'n baie soortgelyke skedel op die Broken Hill-myn in Noord-Rhodesië gevind. Albei word beskou as Homo rhodesiensia. Die derde, Homo helmii, is van afsettings wat nagelaat is deur die bronne op Florisbad, Hagenstad, O.V.S. In geen geval is die skakel tussen werktuie en die mens volkome nie. Die ongeplaasde Boskop-skedel (Potchefstroom) behoort moontlik tot 'n later fase van die MST. (Middel-steentydperk). Die hele Middel-steentydperk word gekenmerk deur die oorwinning van puntige werktuie en skraapwerktuie oor die handbyl. Waar 'n oorblyfsel van die handbyl die laaste keer verskyn, is dit klein en swak gemaak (miskien 3" lank). Die punt ontwikkel egter. Van 'n eienaardige driehoekige vorm verander dit in sommige fases en gebiede tot 'n buitengewone presiese vorm. In ander streke word dit meer gestroomlyn deurdat dit versigtig gekerf is in 'n ware spiespunt, 'n hoogs gevorderde voorbeeld van primitiewe klipwerkmetodes. Die langste volgehoue ewolusie is bekend uit Transvaal (Pietersburg-kultuur) in 'n aantal grotte en spoelgruisafsettings. Die gevorderdste vorms kom voor in die suide (Mosselbaai- en Stilbaai-kulture). Vroeë rotspikke in die sentrale platogebied behoort moontlik aan die plaaslike Middelsteentydperk.

Van die Middelsteentydperk kan ons nou 'n paar láát vindplekke dateer deur middel van radio-aktiewe koolstof, natuurlik net waar daar koolstof voorkom. Die volstrekte tydsbepaling dateer nie verder terug as 40 000 jaar nie. Tydsbepaling vroeër as dit is feitlik waardeloos as gevolg van die persentasie fout, lae radio-aktiwiteit en natuurlike besoedeling. Datums wat wissel van 17 000 tot 11 500 jaar gelede (met 'n 6% fout) is bekend uit afsettings in die Grot van Harte (Transvaal). Die neerslae van waarskynlik besoedelde materiaal op Florisbad (O.V.S.) toon datums van 9 000 tot 7 000 jaar gelede. Hierdie datums dek onder geen omstandighede die hele reeks van die Middelsteentydperk nie.

Die Tweede Oorgang (Magosian of Howiesonspoort) toon weer 'n vermenging van die ou en nuwer tipes. Punte en spiespunte word kleiner en word voorsien van lemme (in die algemeen halfmaanvormig). 'n Paar menslike skedels word met hierdie fase geassosieer, veral een van die Peersgrot (Vishoekvallei, Kaapse Skiereiland) wat 'n vroeë voorvader van die latere klein-kakebeen-tipes toon. Goedgelaagde vindplekke is bekend in Rhodesië en by Rose Cottage Cave, Modderpoort, O.V.S.

Die Laat Steentydperk is 'n ware lem- en puntskraperfase, waarvan die Smithfield en Wilton kultuurkomplekse tiperend is. Dit sluit in holgemaakte klippe, 'n jagters- of (langs die kus) strandloperbestaan (seekos), 'n toenemende neiging om mikrolitiese werktuie te gebruik en om in rotsskerms te woon, asook ander kenmerke, wat waarskynlik 7 000 jaar gelede begin het en voortgeduur het tot die tyd van die eerste blanke vestiging aan die Kaap in 1652.

Die fisiese oorblyfsels skakel duidelik met verskeie Boesman- en Hottentot-tipes, wat die beste gegroepeer kan word as die Khoisan-ras. Sekere Suidwes-Afrikaanse tekeninge is twyfelagtig op sowat 3 370 jaar gelede gedateer. Ten slotte verskyn erdewerk, wat feitlik met sekerheid saam met beeste deur 'n gevorderde Hottentotvolk, waarskynlik verwant aan die Namakwa, wat ook 'n bietjie koper gebruik het, gebring is. Min gepoleerde klipwerktuie is nog bekend; daar is geen bewys van 'n volle Neolitiese fase nie.

Die Ystertydperk het beslis sy oorsprong in die Bantoe of in Afrika. Kooistofdatumbepalings in Zambië toon vindplekkte (sekerlik nie die vroegste nie) wat teruggaan na duisend jaar gelede. In ooreenstemming met twee vroeëre datums wat verkry is van die Zimbabwebouvalle, word die timmerhout op 1 505 en 1 360 jaar gelede gestel.

Die jaar 575 n.C. is dus 'n redelike aanvaarbare datum vir die eerste stadiums van die gebou. Latere fases is gedateer uit krale en erdewerk wat deur handel van buite verkry is. Soortgelyke strukture in Mapungubwe en die Libolo-gebied van Angola bring die kompleks binne resente tyd met betrekking tot bekende stamme.

Deur wyle PROFESSOR A.J.H. GOODWIN; Universiteit van Kaapstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Atoomkrag
Volgende onderwerp: Aurora
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 09:30:17 MGT 2024