Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Apartheid
Apartheid [boodskap #120990] Ma, 12 November 2018 17:44
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Deel van elke burger se ID-nommer het sy bevolkingsgroep aangedui.
'n Deel van elke burger se ID-nommer het sy bevolkingsgroep aangedui.
Apartheid was 'n leerstelling verkondig en gesteun deur die eertydse Nasionale Party in Suid-Afrika wat die eerste keer in 1949 prominent aan die publiek gestel is. Hoewel dit sy oorsprong het in 'n vroeëre beginsel wat dwarsdeur die Suid-Afrikaanse geskiedenis gegeld het, en vroeër na verwys is as 'Segregasie', het die idee van apartheid wêreldwye polemiek uitgelok. Die basiese idee behels die afsonderlike ontwikkeling, vestiging, ekonomiese bestaan en bestuur van verskillende rasse in Suid-Afrika. Dit word onderskei as gebieds-apartheid, maatskaplike apartheid, ekonomiese apartheid, ens. Dié leerstelling is in sowel die Algemene Vergadering van die Verenigde Volke as elders in die buiteland heftig aangeval.

Die term Apartheid is in die lewe geroep om die beleid van N.P. ten opsigte van nie-blankes in Suid-Afrika met die oog op die algemene verkiesing van Mei 1948 te omskryf. Dit was 'n nuwe naam vir die tradisionele term segregasie om klem te verskuif van saamhokking van nie-blankes tot skeiding tussen rasse, konvensioneel sowel as wetlik. Daardeur is parallelle ontwikkeling van blanke en nie-blanke rasse beoog. Dit is deur die Staatsinligtingskantoor omskryf as: Christelike voogdyskap deur blanke ras met betrekking tot nie-blankes, en begeerte om hulle die geleentheid te gee tot ontwikkeling in eie gebiede in ooreenstemming met hulle natuurlike aanleg en moontlikhede. Met die verkiesing van 1948 is 'n mandaat daarvoor deur die kiesers aan die regering gegee en bekragtig met algemene verkiesing van 1953 en 1958. A.g.v. hierdie beleid is ’n aantal wette deur Parlement aangeneem om rasseskeiding prakties deur te voer:

1. Verbod op gemengde huwelike (1949) maak huwelike tussen persone van verskillende rasse onwettig.
2. Groepsgebiedewet (1950) beoog woongebiedskeiding tussen rasse.
3. Ontugwet (1950) verbied geslagtelike omgang tussen blank en nie-blank.
4. Twee wette op Bantoe-owerhede (1951 en 52) maak voorsiening vir selfbestuur vir naturelle in reservate sowel as in stedelike gebiede.
5. Bantoe-onderwyswet skep stelsel van nasionale onderwys vir Bantoe onder die Departement van Naturelle-onderwys.
6. Wet op aanwysing van Aparte Geriewe (1953).
7. Wet op Hervestiging van Naturelle (Westelike Gebiede) (1954) beoog verskuiwing van swart kolle uit westelike gebiede van Johannesburg na nuwe gebied en opruiming van bestaande agterbuurtes sodat bufferstrook tussen rasse in die lewe geroep word.
8. Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (1956) plaas Kaapse Kleurlinge op aparte kieserslys met reg om te stem vir 4 verteenwoordigers in die Volksraad.

Administratief is ook voorsiening gemaak vir Apartheid op openbare plekke. Ou wette is opgeknap, ook t.o.v. naturelleadministrasie. ’n Departement van Kleurlingsake onder dr. I.D. du Plessis is in die lewe geroep.

Die Apartheidsbeleid het hewige storm van kritiek veroorsaak, veral in die buiteland waar dit as onderdrukkend en regressief voorgestel is. Sedert 1948 stryd tussen V.V.O. en S.A. hieroor. V.V.O.-kommissie onder Santa Cruz het veroordelende verslag oor apartheidsbeleid uitgebring; en in ’n Algemene Vergadering is dit veral gerugsteun deur nie-blanke Afrika-state, lande van Suid- en Midde-Amerika, Nabye en Verre Ooste asook Sowjet-Rusland en sy satelliete. In 1961 het feitlik die hele wêreld hom daarteen uitgespreek. Belangrike aanbevelings in sake Apartheid op territoriale gebied is vervat in die verslag van die Tomlinson-kommissie (1955). Dit behels beperkte gebiedskeiding en rehabilitasie van naturellereservate. Apartheid as totale gebiedskeiding is in S.A.B.R.A.-kringe en deur sommige intellektuele leiers as enigste werklike oplossing van rasse-probleem bepleit, met politieke en ekonomiese integrasie van rasse as alternatief.

Die apartheidtydvak kom finaal tot 'n einde met die eerste nie-rassige algemene verkiesing in Suid-Afrika in 1994, wat deur die ANC gewen is. Die verkiesing word gevolg deur die inhuldiging van Nelson Mandela as Suid-Afrika se eerste swart president en die saamstel van 'n regering van nasionale eenheid waarin die leiers van die vernaamste opposisiepartye (die Nasionale Party en die IVP) adjunkpresidentsposte en ander kabinetposte beklee het.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Anti-Bandietebeweging
Volgende onderwerp: Aap
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 16:57:18 MGT 2024