Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Anglo American Korporasie van Suid-Afrika Beperk (Anglo-American Corporation of South Africa Ltd.)
Anglo American Korporasie van Suid-Afrika Beperk [boodskap #120982] Ma, 12 November 2018 06:54
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Anglo American Korporasie van Suid-Afrika Beperk is een van die magtigste finansiële groepe in Suid-Afrika. Dit is op 25 September 1917 deur sir Ernest Oppenheimer as 'n mynmaatskappy gestig met 'n aanvangskapitaal van £1,000,000. Hy was voorsitter daarvan tot sy dood in 1957, toe hy deur sy seun Harry opgevolg is.

Die maatskappy se naam dui op die feit dat 'n sekere bedrag deur Amerikaanse firmas onderskryf is. Sy onmiddellike doelstelling was die ontwikkeling van nuwe goudmyne aan die Oosrand, maar sy belange is gou in nuwe rigtings uitgebrei, veral na die diamantbedryf waarin dit uitgemunt het. Dit was ook gou bedrywig in die ontwikkeling van die koperstreek in Zambië en in die Suid-Afrikaanse Steenkoolbedryf.

Deur sy verbintenis met Afrikaanse Springstowwe en Chemiese Nywerhede Bpk. het dit die beherende mag in die chemiese nywerheid verkry. Vandag is dit die grootste myngroep in Afrika en een van die grootstes in die wêreld. Sy beleggings strek van Kaapstad tot by Tanzanië en Wes-Afrika, met takke in die Verenigde State, Kanada en elders. Hoewel sy nominale kapitaal in die 1960's R 18,000,000 beloop het, was die totale waarde van sy belange 'n paar honderd miljoen rand (vandag biljoene), terwyl dit meer as 120,000 mense van alle rasse in diens gehad het. Die hoofkantoor was in Johannesburg, maar is later na Londen in die Verenigde Koninkryk verskuif.

Die belange van hierdie onderneming dek ’n groot gebied. Die gewone manier waarop so ’n dekking verkry word, is deur ’n beherende of groot belang in maatskappy A te verkry, wat op sy beurt maatskappy B beheer of noue samewerking daarmee handhaaf; dié beheer weer maatskappy C, en so verder. Dit gaan gewoonlik gepaard met ineengeskakelde direksies. Op hierdie manier behels die belange van Anglo American die oorheersende aandeel in die Suid-Afrikaanse diamantbedryf, en tewens van die wêreld, ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse koperbedryf, goudmyne en uraan-ondernemings, ’n aansienlike deel van die steenkoolproduksie, die grootste plofstof- en bemestingstof-fabrieke, en beleggings in ander fabrieksondernemings.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Skakel: https://www.angloamerican.com/

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Angoni
Volgende onderwerp: Angra Pequena 'Kleinbaai'
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 09:23:48 MGT 2024