Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Weermagopleiding vir Malema en sy bestuur laat die wenkbroue lig
Weermagopleiding vir Malema en sy bestuur laat die wenkbroue lig [boodskap #119695] So, 16 Mei 2010 19:14
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010-05-15 00:33
Erika Gibson

Pretoria - Die uitnodiging om twee weke militêre diensplig aan mnr.
Julius Malema, president van die ANC Jeugliga (ANCYL), en sy
topbestuur te gee, skep die gevaar dat die weermag by partypolitiek
betrek word.

“Die weermag durf nie ’n politieke wapen word nie. Dit mag nóg minder
deur Malema en die jeugliga vir hul eie politieke doelwitte gekaap
word,” het mnr. David Maynier, die DA se verdedigingswoordvoerder,
gister in reaksie gesê.

Me. Lindiwe Sisulu, minister van verdediging en militêre veterane, het
Malema en die liga vir twee weke militêre opleiding in September
genooi om eerstehandse ervaring op te doen oor haar plan om ’n nuwe
nasionale dienspligstelsel te implementeer.

Sy is tans besig om die stelsel onder jeuggroeperings te bemark en het
gister ook die Young Communist League ontmoet.

Sy beoog om binnekort wetgewing oor die stelsel ter tafel te lê,
terwyl die meesterplan vir die implementering daarvan tans afgerond
word, het mnr. Ndivhuwo Mabaya, haar woordvoerder, in ’n verklaring
gesê.

Sisulu het planne vir haar program om jeugvaardighede te ontwikkel –
oftewel diensplig – op 5 Mei in haar begrotingstoespraak bekend
gemaak. Dit is op werklose jeugdiges gemik.

Malema het in reaksie op Sisulu se planne gesê die ANC-jeugliga
verwelkom die konsep.

“Ek hoop die diensplig sal jong mense ook meer leer omtrent hul vlag,
nasionale simbole en ons ryk geskiedenis.

“Die jeugliga is gereed om al sy lede te mobiliseer om die stelsel te
ondersteun,” het Malema gesê.

Mnr. Harald Pakendorf, ’n politieke ontleder, het gister gesê die
uitnodiging om militêre opleiding aan Malema te verskaf, “laat ’n mens
se wenkbroue lig”.

“Wat gaan dié mense – bekend vir hul ongedissiplineerde uitlatings –
by twee weke se opleiding kan baat?

“Word dié uitnodiging aan alle jeugorganisasies van politieke par­tye
en organisasies gerig?

“Die weermag moet ’n diens aan die staat lewer – ongeag watter
politieke party dit verteenwoordig – en daar móét dus afstand tussen
die weermag en die politiek gehandhaaf word,” het Pakendorf gesê.

Mnr. Pieter Groenewald van die VF+ het gesê Malema is bekend daarvoor
dat hy graag “Skiet die Boere” sing.

“Die vraag is of hy nou opgelei gaan word om dit te kan doen. Gaan die
minister ook die VF+-jeugkomitee se dagbestuur aanvaar vir militêre
opleiding?

“Die besluit bewys dat die minister en die ANC heeltemal uit voeling
is met die onsekerheid en bekommernisse van wittes en skep verdere
polarisasie.”

- Die Burger

Oorsprong:Beeld
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Weermagopleiding-v ir-Malema-en-sy-bestuur-laat-die-wenkbroue-lig-20100514
Vorige onderwerp: 'Apartheid achtervolgt Z-Afrika'
Volgende onderwerp: Honderde daag op by boer se roudiens
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 12:54:38 MGT 2024