Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Vermeende swart babaslaners wil vrygelaat word
Vermeende swart babaslaners wil vrygelaat word [boodskap #119653] Do, 29 April 2010 21:29
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
( Foto van aangeklaagdes by:
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Vermeende-babaslan ers-wil-vrygelaat-word-20100428
)

Vermeende babaslaners wil vrygelaat word

2010-04-29 00:16
André Damons

JOHANNESBURG. – Die twee Mosambiekse bouers wat daarvan aangekla word
dat hulle ’n eenjarige baba en haar oppasser erg aangerand en byna
vermoor het, het gister vir “gratis borgtog” in die Johannesburgse
landdroshof gevra – hoewel hulle nie verskyn het vir ’n formele
borgtogaansoek nie.

Mnre. Nelson Maphosa (28) en Geraldt Nyantumbo (25) het gister die
tweede keer verskyn nadat hulle Saterdag in Alexandra gevang is. Hulle
word aangekla van poging tot moord en roof met verswarende
omstandighede.

Landdros Simon Radasi het met behulp van ’n Shangaan-tolk die mans se
regte aan hulle voorgelees, maar hulle nie gevra om te pleit nie.

Net voordat hulle teruggevat is selle toe, het Nyantumbo sy hand
opgesteek om te praat. “Ek het kinders om na om te sien en moet daarom
op gratis borgtog vrygelaat word,” het Nyantumbo aan Radasi gesê.

Maphosa het in ’n sagte stem gesê toe die polisie hom in hegtenis
geneem het, het hulle gesê hulle is op soek na sy broer wat ’n
gesteelde selfoon aan Nyantumbo verkoop het.

“En dit is hieroor dat ek op gratis borgtog vrygelaat moet word,” het
hy gesê.

Radasi het vir hom gesê die aanklagte voor hom is poging tot moord en
roof met verswarende omstandighede, voordat hy giggelend by die mans
wou weet wat “gratis borgtog” is. Hy het die twee ook gewaarsku dat
die klagte teen hulle ernstig is en dat hulle daarvoor minstens 15
jaar tronkstraf kan kry.

Nyantumbo het met sy arms gevou gestaan en meesal die praatwerk
gedoen. Albei het moeg en senuagtig voorgekom en dit het gelyk of
hulle verwag het om dalk wel vrygelaat te word.

“Weens die aanklagte teen julle, kan ek julle nie op jul eie vrylaat
nie,” het Radasi gesê.

Hy het die saak tot 12 Mei uitgestel sodat die mans se dokumente
nagegaan kan word en die polisie ook verdere ondersoeke kan doen.
Hulle kan dan ook om regsverteenwoordiging aansoek doen.

Die twee mans het na bewering verlede Donderdag saam met ’n derde man,
mnr. Chakhoma Machaba (28) – ook ’n Mosambiekse burger en vermoedelik
die opperbrein – by mnr. Bertus Kruger en sy vrou, Madelein, se huis
in Robindale, Randburg, ingebreek en hul eenjarige baba, Marzaan
Kruger, en me. Francina Sekhu, haar oppasser, wreed aangerand.

Die mans het vroeër as bouers by die Krugers se huis gewerk.

Die polisie is steeds op soek na Machaba, wat Sekhu later gesê het is
haar vriend.

Me. Liezl Furlong, woordvoerder van die Sandton-Medi-Clinic, het
gister gesê hoewel Marzaan steeds in ’n ernstige toestand is, het sy
“klein verbetering” getoon. Sy word egter onder verdowing gehou.

Sekhu is steeds in ’n stabiele toestand.

- Volksblad

Oorsprong:Beeld
( http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Vermeende-babaslan ers-wil-vrygelaat-word-20100428
)
Vorige onderwerp: Boere woedend oor reserviste-kwessie
Volgende onderwerp: Nie so opgewonde oor vryheid
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 08:20:44 MGT 2024