Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Boer met kopskoot vermoor
Boer met kopskoot vermoor [boodskap #119415] Do, 18 Maart 2010 16:36
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010-03-14 22:31

Sonja van Buul en Linda de Beer

’n Boer is die naweek koelbloedig doodgeskiet en ’n ander is deur ’n
toe venster gewond in twee plaasaanvalle die naweek in Limpopo en
Noordwes.

Mnr. Frik van Deventer (64) is eergisteraand op sy plaas, Langwater,
naby die Botswana-grens en Dorset in die Vaalwater-gebied in die
Waterbergstreek met ’n kopskoot vermoor.

Volgens supt. Ronél Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, was Van
Deventer omstreeks 19:00 in sy tuin toe sy vrou (64), wie se naam nie
aan Beeld bekend is nie, blykbaar stemme buite gehoor het.

“Die vrou, wat in haar kombuis besig was, het ’n skoot gehoor voordat
twee gewapende rowers die plaashuis ingestorm en haar oorweldig het.
Sy is vasgebind en aangerand.”

Mev. Van Deventer het na verneem word ligte beserings opgedoen en is
erg geskok.

Volgens Otto het die rowers die Van Deventers se vuurwapenkluis op die
egpaar se bakkie gelaai en daarmee gevlug.

“Die rowers het in die rigting van Vaalwater gery toe die bakkie gerol
en hulle vermoedelik te voet verder gevlug het,’ het Otto gesê. Die
polisie het die bakkie en steeds geslote kluis met vermoedelik
jagwapens in op die ongeluktoneel gevind.

Niemand is gearresteer nie en die polisie het ’n grootskaalse soektog
op tou gesit. “’n Polisiespan, waaronder spoorsnyers, is saamgestel om
die egpaar se aanvallers in die afgeleë Bosveldgebied vas te trek.”

In die ander aanval is ’n slapende mnr. Danie Nortjé (58) eergisternag
op sy plaas tussen Potchefstroom en Vanderbijlpark deur sy
slaapkamervenster en toe gordyne met vermoedelik ’n haelgeweer in die
rug geskiet.

Nortjé is in ’n bestendige toestand in die Potchefstroom-hospitaal.
Die donshael het hom hoofsaaklik regs agter in die boud en rug getref,
het sy pa, Pieter (85), gister gesê.

Nortjé sr. het op sy bloeiende seun in die bed afgekom nadat hy ’n
enkele skoot gehoor het.

“Hy was baie swak, want hy het baie bloed verloor,” het Nortjé sr.
gister gesê.

Nortjé jr., ’n wewenaar, het dit reggekry om op te staan en in ’n
ander vertrek op hulp te gaan wag uit vrees dat nog skote deur die
venster sou kom.

Sy pa het gesê hulle het niemand op die werf gesien nie. “Dit het nie
lank gevat vir die polisie en die ambulans om te kom nie. Ek het nou-
nou met my seun gepraat en hy sê hy’s orraait.”

Me. Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24 wie se paramedici Nortjé
jr. op die toneel behandel het, het gesê sy toestand is aanvanklik as
kritiek beskou, maar hy was teen gisteroggend bestendig.

Volgens haar het hy “veelvuldige wonde” regs agter op sy rug gehad.

Insp. Wilmarie van der Merwe van die polisie in Noordwes het gesê dit
is nie seker of daar meer as een aanvaller was nie. Die motief is
onbekend. Daar is nêrens ingebreek nie en niks is skynbaar gesteel
nie.

Die Limpopo-moord kom ’n dag nadat mnr. Jan Wheeler (65) in die vroeë
oggendure op ’n plaas sowat 10?km buite Marble Hall vermoor is waar hy
as bestuurder gewerk het. Hy is gesteek en verskeie kere geskiet.

Van Deventer is die sesde plaasmoordslagoffer in Limpopo sedert die
begin van Februarie.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yeheuwv )
Vorige onderwerp: Boer in selle ná hy aanvaller ontwapen
Volgende onderwerp: Elke plaasaanval in SA ‘kos ekonomie R1, 9 miljoen per jaar'
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 17:11:20 MGT 2024