Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Nuttige Afrikaanse stylgidse
Nuttige Afrikaanse stylgidse [boodskap #82233] Vr, 15 Augustus 2003 05:55
Vusi  is tans af-lyn  Vusi
Boodskappe: 2212
Geregistreer: Februarie 2001
Karma: 0
Senior Lid
Iemand het onlangs navraag gedoen oor nuttige boeke wat aangekoop kan word -
ek het die resensie van Thalyta Swanepoel (Beeld - Maandag 11.08.2003)
raakgeloop. Dit het onder die opskrif "Twee nuttige stylgidse vir die
Afrikrikaanse taalgebruiker" verskyn.

Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensie gids vir taalgebruikers deur
Dalene Miller. Pharos Woordeboeke (sagteband, 71 pp.), R175. ISBN 186890 037
1

Stylboek - riglyne vir paslik skryf deur Piet du Toit en Wanda
Smith-Müller. Van Schaik (sagteband, 170 pp.), R149,95. ISBN 062702503

"Taal is die skrywer se instrument, maar "nie almal het 'n oor vir taal soos
sommige mense 'n oor vir musiek het nie", het die digter Elisabeth Eybers
onlangs in 'n TV-onderhoud gesê.

Vandaar die behoefte aan taal en stylgidse. Omdat 'n deeglike onderbou in
taal op skool oënskynlik nie meer 'n gegewe is nie, het die gidse
onontbeerlik geword.

'n Juweel onder die nuwelinge is Skryf Afrikaans van A tot Z wat oor tien
jaar saamgestel is deur Miller, 'n gesoute taalpraktisyn by Die Burger, met
die samewerking van Afrikaans se voorste joernaliste, subredakteurs en
skrywers by verskeie Media24-publikasies.

Deel I bevat sowat 5 000 alfabetiese inskrywings - hoofsaaklik turksvye
soos verwarrende woorde, wisselvorme, verkeerde voorsetsels en lomp
taalgebruik. In Deel II is 26 afdelings met inligting oor onder meer lees-
en skryftekens, syfers en getalle, vreemde woorde en sport.

Dis 'n boek wat jy eers saans stukkie vir stukkie sal moet verteer voordat
jy dit ten volle sal kan benut omdat dit 'n magdom inligting bevat en jy
eers jou pad deur die doolhof moet vind. Vir 'n geharde subredakteur bring
die afdeling oor woordsoorte verligting en antwoorde op soms moeilike vrae,
soos waarom skryf 'n mens

blondekop-trompetspeler maar kaalvoet kind.

Daar is heelwat inligting oor die regte voorsetsels - maar dit bevredig nie
die behoefte nie aan 'n ordentlik hersiene weergawe van P.J. Taljaard en
W.K. Smit se Voorsetselwoordeboek met Engelse vertalings (De Jager-Haum,
1987).

Benewens inligting oor taal bied die gids ander besonder nuttige inligting
vir veral joernaliste, studente en leerlinge, soos 'n internasionale
datumlyn en hoe tyd in die wêreld bereken word. Dit is dus nie net 'n lys
van woorde nie, maar 'n naslaangids wat terwyl jy leer jou algemene kennis
'n reusehupstoot gee - die vaardighede-oudit van die Suid-Afrikaanse
Nasionale Redakteursforum het juis bevind die gemiddelde joernalis se
algemene kennis is bra vrot.

Dit is prysenswaardig dat daar nie net aan Afrikaans en Engels aandag gegee
word nie, maar ook aan inheemse tale, byvoorbeeld wat die afbreek van woorde
betref.

Die boek is sekerlik nie die wet van Mede en Perse nie, maar dis 'n deksels
goeie hulpmiddel vir alle mense wat ernstig is oor skryf - korrek skryf. Dis
ook in pas met die 2002-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls
(AWS)."

"Stylboek - riglyne vir paslik skryf is ook 'n nuweling op die rak.

Daarin word taal- en stylbeginsels deeglik uiteengesit aan die hand van
duidelike voorbeelde.

Daar is egter 'n paar punte van kritiek: Die boek is styf en selfs plek-plek
hoogdrawend geskryf. Nie-moedertaalsprekers - vir wie die publikasie ook
aanbeveel word - kan probleme hê om die skrywers se gedagterigting te
verstaan. Daarbenewens is die oefeninge nie oral prakties genoeg nie en
boonop van so 'n aard dat dit eintlik 'n nasiener verg. Wie skryf nou vir
homself kommentaar?

Heelwat Nederlandse tekste word aanbeveel vir diegene wat verder wil lees,
wat die boek nog meer akademiese maak. Tog gaan Stylboek beslis nie mank aan
omvattende, nuttige inligting nie - en is 'n taalles op sy tyd ook nie te
versmaai nie."

Thalyta Swanepoel is dosent in kommunikasiekunde en was 'n redaksielid van
Beeld.
Vorige onderwerp: die kat!!
Volgende onderwerp: Afrikaanse grammatika
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 21:09:36 MGT 2024