Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » " Voor-beelde " deur JOHANN JOHL
" Voor-beelde " deur JOHANN JOHL [boodskap #83648] Wo, 10 September 2003 13:19
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Johann Johl
Voor-beelde

Die vrou verkies 'n ander dood as Russiese roulette -
'n drang sal sy ontlaai, maar naboots of dit fallies stil?
Die kop het tog 'n ander doel? Dis macho, morsig, vir die man
om tweedehands en wydsbeen soos in gangsterfilms te tol
aan die silinder met 'n koeël wat dalk kan kets of knal.
'n Kamikaze-lewenstyl voorspel 'n kansspel met jou lot:
jy sal nie weet as jy verloor - dit help dalk tyd verdryf.

Om lewe te verwek is so verbeeldingloos en stram geyk.
Die mens sterf kleurryk, in gevarieerde treurigheid.
Protes van hul wat nog wou leef maar net nie verder kon
is troos teen saaiheid: slyp gewoon 'n skeerlem op jou pols
of hang jou stil-stil in 'n koue skuur se donker hoek;
moderner is 'n spuitnaald kokaïen, 'n wanhoopsdaad
om hoog vanaf 'n brug te spring op Mississippi-ys -

deur net te dink aan selfmoord salf 'n gure nag,
is beter as 'n slaaptablet of antidepressant.
Die dae (moet ek toegee) skep nog 'n probleem
want elke afgrond, boomtak, snelweg of rivier bly lok
en tog is niemand onverskillig oor hoe hy wil sterf:
jy kan jouself 'n lugloper wil waan, in Etna spring,
broodnugter kan jou voete op die AA-trappe gly;

'n ander kan jou voorspring op die spoor en hoër op
gaan lê of kwalle kan jou uit die see uit byt
om druipstert maar weer aan te trek (Euripides
se woorde op die afskeidsnota in jou sak te steek)
en 40 jaar nog te bly leef - ek sê mos dis die dag
wat skrywers so verlok, hul onvrywillig laat verhuis
- al sou geleerde voetnootskrywers dalk van my verskil.

Die lewe is soms somberder nog as die dood -
ek dink aan hulle wat oor selfmoord of roulette
kan skryf maar self bly leef, g'n selfervaarde wenk
kan nalaat, ook nie met genoegdoening dié dood
kan smaak: dit bly so onvervuld, die dood se uitgestel:
as dag en datum, uur of selfs minuut onseker bly
is jy alleen bewus van hoe die balletjie bly tol

en bokkespronge maak terwyl die wiel in swart en rooi
nog draai; bekoor deur die naïewe spel bly waag
jy op die wispelturigheid en dobbel jy jouself bankrot
of droom van nog 'n kans, 'n nuwe wêreld, liefde, reis
jy om wat uitmekaar gespat het 'n jou te versoen,
ontvlug jy daardie vonnis wat jou lewend hou
om dag vir dag te sterf: die mens wil môre annekseer:
Vorige onderwerp: Verward N op L soek raad van @rogers
Volgende onderwerp: Re: Hopelijk wordt Mugabe doodgeschoten
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 29 03:11:50 MGT 2024