Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » " Die dans van die reën " deur EUGÈNE MARAIS
" Die dans van die reën " deur EUGÈNE MARAIS [boodskap #44373] Sa, 16 Junie 2001 02:09
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

Die Dans van die Reën
Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans,
uit die Groot Woestyn.

Eugene Marais

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit op die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
"Ons suster! Ons suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons suster!
Vorige onderwerp: Die parmantige Samaritaan
Volgende onderwerp: vir dié wat onthou...
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 18 21:42:07 MGT 2024