Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » "Ek is 'n soutie"
"Ek is 'n soutie" [boodskap #22609] Sa, 24 April 1999 00:00
ProPacem  is tans af-lyn  ProPacem
Boodskappe: 320
Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
Senior Lid
> hen...@my-dejanews.com vra

> Is jy 'n soutie of nie, Leswin?

Nee, ek is nie. Ek is gebore in die Paarl, waar die druiwe in soetsuur
wordingssweet gedy. Ons het eers aan die een kant van die rivier gebly, onder
die skaduwee van 'n akkerlaning wat groot-oupa Johannes geplant het om sý plek
en sý familie veilig te begrens. Een soel, Bolandse somer-aand, egter, het 'n
amptelike bruin koevert ons huis beset, en fel inksoldate het op groot-ouma
Maria se eetkamertafel ontplooi, hul opdragte duidelik: drie maande om vier
geslagte se arbeid ongedaan te maak. Ek onthou dat die grond nat was met die
eerste wintereëns die dag toe ons ons goedjies agterop Uncle Cooee se trok
gepak het vir die rit na die anderkant van die rivier. Ek onthou ook dat ek
nie seker was of dit reën of sweet was op my pa se gesig nie, maar ek onthou
wel duidelik wat hy gesê het: "Hulle kan alles van jou wegvat, ou seun, maar
hulle kan nie jou geleerdheid steel nie". Jare later besef ek hoedat hierdie
een sin die sleutel was waarin ek my lewe gesing het. 'n Sin en leitmotiv wat
my uiteindelik hier na Chicago gebring het, eers om te studeer, en later ook
waar ek my egmaat onrmoet het. Tog, alhoewel ek nou hier woon ruis die
geliefde, geknelde land deur my are en weef ek my identiteit primêr rondom die
Paarl, Suid-Afrika, en Afrika.

NS: Ouma Maria se eetkamertafel was te groot en ons kon dit nie uit die huis
kry nie. My ouers het dit daar gelos. Waar dit Oupa Johannes se akkerbome
aangaan - hulle is almal afgesaag om plek te maak vir 'n sonkamer en 'n ekstra
garage.
Vorige onderwerp: Re: Springbok Club of Southern California
Volgende onderwerp: HELP 'n jong Suid-Afrikaner
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jun 02 17:37:16 MGT 2024