Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Mites van grondrestitusie
Mites van grondrestitusie [boodskap #119649] Do, 29 April 2010 21:21
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Mites van grondrestitusie

2010-04-27 23:25
Charl-Pierre Naude

Onlangs het regeringsgeluide oor ’n herverdeling van private
grondbesit baie mense die harnas ingejaag. En hoe losser die skroewe
ten grondslag van die argument blyk, hoe yweriger rangeer die ANC se
restitusie-koekepanne op en neer.

Die argument dat wit boere in die breë hul grond op “onwettige wyse”
verkry het, het slegs baie gedeeltelike gronde. En dié mite begin nie
by mnr. Julius Malema nie. Dis deel van mites wat integraal deel was
van die struggle (net soos wat ander mites deel was van apartheid).

Onlangs nog het Malema gebulk: “Waarom moet ons grond terugkoop wat
van ons gesteel is?”

Hierin sit ’n vet streep oorvereenvoudiging. Ons val vas in swart-en-
wit loopgrawe waarin elkeen gedwing word om eie belang te regverdig.
En dis omdat miteskepping, en nie historiese feite nie, dikwels ten
grondslag van hervormings­argumente lê.

Die ergste daarvan is dat dit die noodsaak vir grondhervorming in wese
soos ’n leuen laat lyk. En grondhervorming ís nodig, maar dan op
geldig historiese gronde.

Onlangs het die Britse Financial Times dit in ’n hoofartikel betreur
dat grondoordrag nie vinniger plaasvind nie sodat die besit van
boerderygrond die getalleverhouding van wit tot swart kan weerspieël.
Dié argument impliseer dat daar onteiening van landbougrond in Suid-
Afrika plaasgevind het en boonop dat dit rasgedrewe was.

Daar was geen noemenswaardige onteiening van swart landbougrond deur
wit boere nie. Daar was histories geen landboutradisie onder swart
mense in die land nie. Dit was ’n Westerse (lees: wit) tradisie,
vandaar die naam “boere” vir Afrikaner-pioniers. Landbougrond is nooit
afgevat nie, dit is deur die wit pioniers bewerk en die tradisie is
uit niks gevestig.

In terme van landbou het wit boere niemand onteien nie. Hulle was die
land se enigste landbouers en het ons voedselmandjie, dikwels in dorre
streke, tot stand gebring. Die “swart volkere” (selfs onder apartheid)
het die beter landbougrond, in die ooste van die land, gehad, maar dit
het niks gelewer behalwe armoede nie.

Natuurlik het apartheid ’n rol daarin gespeel, maar daar was eweneens
geen landboutradisie voor apartheid nie, of selfs voor dit.
Maar wat is wel verplaas deur die pionierboere?

Drie tradisies: die swart bestaansboerderye in dele van die land, die
nomadiese jagter-versamelaarkultuur van byvoorbeeld die Khoisan (met
gepaardgaande volksmoord van hierdie eerste bewoners van die land deur
wit én swart), en die gedeeltelike verplasing van nomadiese beesboere
(ook swart, meestal Nguni).

Dié drie leefwyses het tog ook in ’n mate ’n vorm van historiese
seggenskap oor die land geïmpliseer.

En hulle het dit verloor – nie soseer deur fisieke geweld soos die ANC
dit wil hê nie, maar kultureel en ekonomies: Een soort ekonomie het
drie ander vorme daarvan verplaas (hoewel nie beroof nie) en sodoende
ontmagtig en onteien. Laat ons dit nie ontken nie.

Maar kom ons ontplooi die korrekte terme voordat ons praat van
restitusie.

Restitusie behoort nie plaas te vind omdat wit mense proporsioneel
meer van die land besit as swart mense nie. Proporsioneel en binne die
landboutradisie het wit boere niks verkeerd gedoen nie behalwe om
suksesvol te wees.

Hoe gaan ons toekomstige swart boere vergoed vir wat hulle verloor
het?

Hul ekonomieë was premodern en sou nie vertaal het tot ’n moderne
ekonomie nie. Helaas is hulle ’n kans ontneem om organies tot die punt
te ontwikkel waar hulle die keuse daartoe sou gehad het.

Dit het gebeur deurdat hulle hul kulturele lebensraum verloor het lank
voordat hulle daardie punt kon bereik het. En daarin sit onteenseglik
’n verlies. En wel een wat getakel moet word.

Die feit dat dít nie in Noord- of Suid-Amerika gedoen is nie, is geen
teenargument nie.

Ons het die kans op ’n ruimhartiger en billiker gemeenskaplike
toekoms.

Maar hou op lieg oor die terme. Want daardeur word hervorming in die
wiele gery, nie bevorder nie.

Oorsprong:Beeld
( http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/Mites-van-g rondrestitusie-20100427
)
Vorige onderwerp: Rowers vermoor Pta-man by kind
Volgende onderwerp: Boere woedend oor reserviste-kwessie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 12:20:26 MGT 2024