Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Haatspraak is die lont vir volksmoord
Haatspraak is die lont vir volksmoord [boodskap #119418] Do, 18 Maart 2010 16:43
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Haatspraak is die lont vir volksmoord

Amanda Gouws

’n Paar dae gelede was daar ’n oorwinning vir die Grondwet en
gelykheid in die gelykheidshof toe landdros Colleen Collins vir Julius
Malema skuldig bevind het aan haat­spraak weens sy uitlatings oor die
vrou wat pres. Jacob Zuma van verkragting aangekla het.

Die redes wat Collins aanvoer, is van groot belang: dat Malema ’n baie
invloedryke openbare figuur is, dat hierdie woorde op ’n openbare
platform geuiter is en dat dit haat aangeblaas het. Anders as die ANC,
wat dink Malema is net jonk en voortvarend, neem hierdie uitspraak sy
uitlatings ernstig op.

Die afgelope week het Malema haatspraak geuiter teenoor me. Helen
Zille (deur haar van Satanisme te beskuldig), me. Patricia de Lille
(deur te sê sy lyk nie soos ’n getroude vrou nie en geen normale man
sal met haar sal trou nie) en teenoor blanke Afrikaners (deur die sing
van “Maak die boere dood, hulle is verkragters”). Dit gaan nie net oor
boere nie, want “boer” verwys ook na Afrikaner.

Die ANC het geen opinie uitgespreek oor die uitlatings oor Zille en De
Lille nie, terwyl mnr. Gwede Mantashe argumenteer dat “Kill the boer,
kill the farmer” ’n bevrydingslied is en dat niemand die ANC sal stop
om die geskiedenis te vereer nie. Dié stilswye en kondonering
normaliseer Malema se optrede sodat mense hierdie gedrag van hom begin
verwag en dit dan ignoreer of daaroor lag. Maar vir diegene wat hom
ernstig opneem, beteken dit sy uitlatings is aanvaarbaar – asook die
gevolge daarvan.

Ons weet Amy Biehl is doodgemaak terwyl haar aanvallers “Kill the
boer, kill the farmer” gesing het. As ons haat­spraak aanvaar, skep
dit ’n teelaarde vir volksmoord.

Laat ek dit illustreer met die gebeure in Rwanda voor die 1994-
volksmoord. Die Hutu’s en die Tutsi’s het honderde jare in ’n
geïntegreerde samelewing gewoon, in so ’n mate dat meningsverskil
bestaan of hulle werklik nog as verskillende etniese groepe gesien kan
word. Die Tutsi’s was die eertydse heersers. Die Hutu’s, wat deur die
koloniale bewind in beheer gestel is, het dit nodig geag om ’n
legitimering-strategie vir verdere magsbehoud te ontwikkel. Dit is
gedoen deur ’n ideologie van die “social revolution” te begin wat ’n
beleid van sistematiese diskriminasie jeens die Tutsi’s was. ’n
Stelsel van etniese identifikasie wat deur die Belge ingestel is, is
voortgesit. Die meeste poste in die weermag, diplomatieke diens en
staatsdiens is vir Hutu’s gereserveer.

Navorsing oor volksmoord toon dat een voorwaarde daarvoor die
ekonomiese en politiese marginalisering van ’n groep is. Die grootste
effek op die Tutsi’s was egter die sistematiese vooroordeel wat
ontwikkel het. Dit is deur voortdurende haatspraak uitgedruk. Die
Hutu’s het tot ’n radiostasie begin wat heeltyds haatspraak gebesig
het. ’n Analise van die uitsendings het getoon amper 5% het uit
etniese beledigings bestaan, 4% het die Tutsi’s as “kannibale,
towenaars, vampiere en kokkerotte” afgemaak, 4% het na die Tutsi’s se
rol in ’n voorkoloniale geskiedenis verwys, en 69% was opruiende
boodskappe teenoor Tutsi’s.

Wat eindelik die volksmoord ontlok het, was ’n groot ekonomiese krisis
en die feit dat die lewe van kleinboere ná dekolonisering glad nie
verander het nie. Die regerende Hutu’s het gereeld na die verdrukking
in die verlede verwys as ’n manier om die gebrek aan ekonomiese
verbeterings te regverdig. Dié normalisering van haat­spraak het
eindelik daartoe gelei dat meer as ’n miljoen Rwandese in een maand
vermoor is – die meerderheid Tutsi’s.

As Mantashe dus te kenne gee dat haatspraak ter wille van die
geskiedenis geuiter kan word, of as De Lille argumenteer sy gaan nie
tot Malema se vlak daal nie, is ons op ’n glibberige glybaan juis
omdat dit sy haatspraak normaliseer.

In Suid-Afrika heers soortgelyke omstandighede: ’n geskiedenis van
geweld en verdrukking, ’n ekonomiese krisis, die feit dat die lewe van
die armes ná 1994 niks verander het nie en die soeke na ’n
legitimering-strategie onder die Zuma-bewind. Hoewel ek geensins sê
die ANC-regering beplan volksmoord nie, meen ek dat hoe langer Malema
met sy haatpraatjies wegkom, hoe meer mense word daardeur beïnvloed –
en dit skep ’n teelaarde vir volksmoord.

Malema gaan teen sy vonnis appelleer. Mag die hooggeregshof die belang
van sy uitspraak besef.

- Die Burger

Oorsprong:Die Burger
( http://tinyurl.com/ycvgg9m )
Vorige onderwerp: Elke plaasaanval in SA ‘kos ekonomie R1, 9 miljoen per jaar'
Volgende onderwerp: Te kwaad om te vergewe, getuig seun
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 18:15:57 MGT 2024