Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Hoor die boere se noodkreet, pres. Zuma
Hoor die boere se noodkreet, pres. Zuma [boodskap #119400] Ma, 15 Maart 2010 14:49
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Hoor die boere se noodkreet, pres. Zuma

2010-03-02 23:34

Toe oudpres. Thabo Mbeki ’n paar jaar gelede eensydig die
kommandostelsel afgeskaf en die weermag aan die landsgrense onttrek
het, is hy gewaarsku dit sou lei tot ’n vakuum op die platteland wat
die veiligheid van die landbougemeenskap in die gedrang sou bring.

Dit is presies wat toe gebeur het.

Daar gaan deesdae kwalik ’n dag verby sonder dat Beeld berig oor ’n
plaasmoord of plaasaanvalle.
Vir die boere is dit niks anders nie as ’n oorlog in die kleine.

Om dié rede eis boere en landbouleiers nou dat die kommandostelsel –
wat meer as 100 jaar lank baie doeltreffend was – teruggebring word.
Die polisie het net eenvoudig nie die mannekrag om die uitgestrekte
plattelandse gebiede behoorlik te patrolleer nie – met of sonder
reserviste.

Mbeki het destyds die kommandostelsel – waarvan die meerderheid lede
swart was – afgeskaf en die soldate aan die grensgebiede onttrek
sonder om die belanghebbende partye, die weermag, die polisie en die
landelike gemeenskappe, daarin te ken.
Dit was ’n politieke besluit – een waarvoor die landelike gemeenskappe
nou die prys betaal en pres. Jacob Zuma se regering ’n oplossing moet
vind.

Die stelsel van sogenaamde sektorpolisiëring wat ingestel is om die
kommandostelsel te vervang, is ’n goeie idee, maar is nie oral
suksesvol nie.

Landelike ontwikkeling is hoog op die Zuma-regering se prioriteitslys,
maar is gedoem as die platteland in oorlogsones verander en nie veilig
is nie. Voedselsekerheid is in dié omstandighede ook in sy peetjie
in.
Zuma hoef net in Zimbabwe te gaan kyk wat gebeur as landelike gebiede
onstabiel word.

Zuma het al gewys sy administrasie huiwer nie om goed terug te bring
wat voorheen gewerk het en sommer net verander is ter wille van
verandering nie. Hy en die betrokke ministers kan gerus ernstige
oorweging skenk aan die versoek dat die kommando’s teruggebring word.

Soos gesê, die huidige stelsel slaag nie eens naastenby daarin om
landelike veiligheid te verseker nie.
Die boere het ’n noodkreet laat hoor en die regering het ’n plig om ag
te slaan daarop.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yabt5k7 )
Vorige onderwerp: ‘Malema mag sê: Skiet die Boere’
Volgende onderwerp: Plaasvrou koelbloedig vermoor
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 21:35:19 MGT 2024