Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Rassistiese' skildery oor nuwe SA is "'n belediging vir die president'
Rassistiese' skildery oor nuwe SA is "'n belediging vir die president' [boodskap #113713] So, 08 April 2007 09:06
Vuur  is tans af-lyn  Vuur
Boodskappe: 283
Geregistreer: April 2007
Karma: 0
Senior Lid
Liesl Peyper
Oudtshoorn


Die verf het behoorlik op die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees
(KKNK) gespat oor 'n skildery waarin die nuwe Suid-Afrika uitgebeeld
word.

Feesgangers het dié olieverfskildery bestempel as 'n belediging vir
pres. Thabo Mbeki en 'n rassistiese en eensydige blik op Suid-Afrika.

In dié skildery deur Dirk van Wyk van George troon Mbeki uit bo 'n
Suid-Afrika waar misdadigers die oorhand het en veral wit mense die
spit afbyt.

Dié skildery, met die titel "Die nuwe Suid-Afrika 2006" , was
weliswaar nie deel van die fees se amptelike kunsuitstalling nie, maar
is by die snuffelmark uitgestal.

Feesgangers wat by sy tent ingeloer het, was volgens Van Wyk " 'n
bietjie bang" om kommentaar te lewer.

"Nee wat, ek sê maar niks nie," het 'n vrou aan Rapport gesê.

Aan die feeskoerant Krit het 'n feesganger egter gesê hy beskou die
skildery as 'n belediging vir "sy president".

Van Wyk sê hy het nog nie 'n aanbod vir die werk ontvang nie.

"Daar het al 'n paar mense na my toe gekom en gesê hulle stel belang
in 'n afdruk."

Mnr. Theo Kleynhans, kurator van die visuele kunsuitstalling by
vanjaar se fees en self 'n skilder en skrywer van Kaapstad, sê dit is
jammer dat iemand soos Van Wyk nie omgee dat sy werk aanstoot gee
nie.

"Maar ek wil my eintlik nie eens daaroor uitlaat nie. Ek vra myself
net af: Waar is die versoening?

Ons is nog lank nie verby die proses waar versoening afgehandel is
nie."

Van Wyk gooi egter wal.

"Hierdie is nie 'n rassistiese werk nie, maar dit wys watter tragedie
hier in ons wonderlike land is - misdadigers maak wat hulle wil en die
slagoffers is aan die verloorkant."

"Pres. Imbeki (sic) staan met sy rug gedraai - hy praat van
verandering, maar staan hande gevou," lê hy sy kunswerk uit.

Intussen is die fees se amptelike kunstenaars verheug nadat meer as 'n
halfmiljoen rand se kunswerke vanjaar verkoop is.

Dit is amper dubbel soveel as verlede jaar se bedrag, R235 000.

Kleynhans gee toe die sogenaamde roofuitstallers is 'n probleem.

"Hierdie kunstenaars ploeg geen persentasie terug in die fees soos die
amptelike feeskunstenaars nie, maar steek alles wat hulle verdien in
hul sak."
Vorige onderwerp: 'n Interne dokument van die SAPD
Volgende onderwerp: TB-pasiënte huis toe oor te min beddens
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 21:09:41 MGT 2024