Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Vandeesmaand se hoofartikel: Mbeki in krisis
Vandeesmaand se hoofartikel: Mbeki in krisis [boodskap #113172] Do, 22 Februarie 2007 15:44
Vuur  is tans af-lyn  Vuur
Boodskappe: 283
Geregistreer: April 2007
Karma: 0
Senior Lid
In die agste jaar van mnr. Thabo Mbeki se presidensie is krisis aan
die orde van die dag.

Oor Mbeki se nalatenskap kan daar nie nou al gepraat word nie -
hef aan lê op vele terreine van sy oorblywende termyn voor - maar sy
bydraes tot die bevordering van demokrasie in Afrika, asook die
skepping van 'n swart middelklas in Suid-Afrika word dikwels as sy
vernaamste suksesse uitgesonder.

Hierdie suksesse kan geensins as ondubbelsinnig beskou word nie.
Wat Afrika betref, het Mbeki in Zimbabwe en die Ivoorkus misluk, en sy
regering se strategie om elitebelange via spoedige verkiesings, soos
in die Demokratiese Republiek van die Kongo onlangs, te legitimeer,
verdun sy buitelandse sukses.

Wat die skepping van 'n swart middelklas in Suid-Afrika betref,
het dit teen 'n baie hoë prys gekom. Eerstens het hy in sy
neoliberale, grootsake vriendelike ekonomiese beleid so hardhandig met
sy party en sy vennote in die Drieparty-alliansie omgegaan, dat hy
vandag met sy rug teen die muur is - en die onsmaaklike populisme van
Zuma en sy ondersteuners as reaksie hierop moet verteer.

Tweedens het sy droom van 'n swart middelklas in so 'n vorm
gestalte gekry, dat dit, enersyds, bittermin beheer aan swartmense oor
produksie in Suid-Afrika verleen het en, andersyds, 'n orgie van
onbeheerste verbruik en 'n gepaardgaande ontploffing in huishoudelike
krediet gevoed het. Op die koop toe het dit gepaardgegaan met die
dramatiese vergroting van die gaping tussen arm en ryk - 'n tydbom wat
die swart middelklas ewe veel as enigiemand anders in die land
bedreig. Sy vernaamste strategie vir die skepping van hierdie swart
middelklas was die bykans meedoënlose indiensneming van "voorheen
benadeeldes" met al hoe minder oorweging aan kundigheid geskenk, sodat
staats- en navorsingskapasiteit in die land begin daal, honderde
duisende kundiges die land verlaat het, en veral Afrikaners vervreem
word, omdat hulle toenemend die geleentheid ontsê word om aan die
ekonomie deel te neem. Ironies genoeg tref hierdie ontsegging hulle
veral in die staatsdiens en die onderwys, oftewel daardie sektore waar
kundige Afrikaners 'n wesenlike verskil aan die lot van Afrikane kan
maak.

Terwyl sommiges eens Mbeki se hantering van Vigs en Zimbabwe as
sy grootste mislukkings beskou het, dreig sy hantering van Suid-Afrika
se krisis van geweldsmisdaad om hom en die land in sy grootste krisis
sedert 1994 te dompel. Nie eens lompe beeldpoetsery vir potensiële
buitelandse beleggers kan Mbeki se onlangse uitspraak dat dit 'n
"persepsie" is dat misdaad buite beheer is, verskoon nie. Sedertdien
is die punt uit alle oorde gemaak dat gewone landsburgers voel asof
hulle in 'n staat van beleg verkeer - met 'n staat wat buite beheer
is.

Ongemaklike vrae oor die betroubaarheid van openbare
misdaadstatistieke word gevra. Die Kommissaris van Polisie se
vriendskapsbande met twyfelagtige figure boesem nie vertroue by die
publiek in nie. Regeringsverteenwoordigers - met die lofwaardige
uitsondering van die direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag,
mnr. Vusi Pikoli - se koppe is so diep moontlik oor misdaad in die
sand gesteek. Die een gemeenskap na die ander staan by oop grafte.
Onvervangbare geeste word gewelddadig in spoke verander.

Maar buiten die nou bykans voorspelbare rampspoedige hantering
van openbare persepsies deur Mbeki en sy beeldpoetsers, verteenwoordig
die fiasko rondom Eerste Nasionale Bank (ENB) se geaborteerde
misdaadveldtog ongetwyfeld 'n nagmerrie vir Mbeki. Waarom?

In die eerste plek het Mbeki sy populêre magsbasis in politieke
steun oor die afgelope jare vervreem en vervang met 'n magsbasis van
magtige sakelui (kleinsakeondernemings het nie juis veel gekry om oor
te jubel nie). En nou, nes die Drieparty-alliansie onder Mbeki
uitmekaar geval het, gebeur dieselfde in sy magsbasis van magtige
sakelui.

In die tweede plek - het iemand dit raakgesien? - is daardie
sakelui wat hom in die ENB-fiasko gesteun het oorwegend wit en Engels,
terwyl hulle opponente oorwegend Afrikaners was. Mnre. Johann Rupert
en Jannie Mouton verdien hier in die besonder eervolle vermelding. Een
van Suid-Afrika se mees gerespekteerde ekonome beskryf die Engelse
sakelui se optrede aan Die Vrye Afrikaan as "ou koloniale
kruiperigheid".

Die enigste onmiddellike ligpunt in hierdie toedrag van sake, is
die hopelik konstruktiewe herskommeling van magsverhoudinge ter wille
van demokrasie en die waarborg op lewe wat nog hieruit kan kom.

Daar is egter 'n ander diepliggende kwessie wat uit die ENB-
fiasko na vore tree, naamlik die implikasie wat dit het vir die
verhouding tussen daardie krities belangrike verhouding vir die
toekoms van Suid-Afrika, naamlik dié tussen Afrikaners en Afrikane.
Vanweë hulle unieke historiese band met die land en met mekaar, bly
hierdie twee groeperinge in hulle tweedepaspoortlose verbondenheid tot
die land wesenlik vir die toekoms. Die Mbeki-era met sy hopelose
onbegrip vir diversiteit, asook vir minderhede en die rol wat hulle in
die vooruitgang van die land te spele het, sal nie vir ewig duur nie.
Teen Desember vanjaar sal heel moontlik 'n nuwe ANC-president met veel
meer gevoeligheid vir die verhouding tussen Afrikaners en Afrikane na
vore tree, wat op sy beurt 'n totaal ander dinamika in die land kan
vestig.

Hoe moeilik dit ook nou al is om te midde van die
enorme misdaadgolf kop te hou - en ook die kop omhoog te hou - behoort
Afrikaners en Afrikane verby die huidige president en sy verbete
ideoloë te kyk, en so energiek as moontlik aan hierdie verhouding te
bou. Want as hierdie verhouding nie versterk word nie, sal dit dalk
oplaas vir altyd verlore wees. En dít is nie een van die twee partye
se belang nie.

http://vryeafrikaan.co.za/index.htm
Vorige onderwerp: ANC wyk af van ons ooreenkoms in 1994-----Pik Botha, Pretoria
Volgende onderwerp: Hier kom disinvestment ..............................
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 05:39:29 MGT 2024