Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Roelfie
Roelfie [boodskap #111050] Vr, 01 September 2006 14:49
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
'Staan by party vir wie jy stem'
Aug 31 2006 09:46:54:953PM - (SA)

Deon de Lange

Kaapstad. - Mnr. Roelf Meyer behoort nie lan­ ger as 'n week te
wag vir sy ANC-ledekaart nie, het mnr. Smuts Ngonyama,
ANC-hoofwoordvoerder, gister gesê.

Dít nadat die Sowetan gister onthul het die voormalige NP-minister en
medestigter van die UDM het nou by die regerende party aangesluit.

"Ek het reeds in 2004 vir die ANC gestem en het gevoel 'n mens moet
by die party aansluit vir wie jy stem," het Meyer gister aan Beeld
gesê.

"Dit volg op 'n paar maande se gesprekke met die Gautengse leier
van die ANC (premier Mbhazima Shilowa)," sê hy.

Meyer, wat in 2000 uit die politiek getree het om op sy Burgerlike
Gemeenskapsinisiatief in Suid-Afrika te konsentreer, het dit benadruk
dat sy besluit nie gesien moet word as 'n terugkeer tot aktiewe
politiek nie.

Nietemin gee hy toe dat hy - "soos enige ander lid van die ANC"
- gevra kan word om take namens die party op sy skouers te neem.

"Ja, natuurlik. As jy by 'n politieke party aansluit dan moet jy
bereid wees om partytake uit te voer. Ek het egter as 'n gewone lid
aangesluit en my bedoeling was nie om 'n leiersposisie binne die
party te beklee nie."

Meyer het tydens die grondwetlike onderhandelings van 1991 tot 1993
namens die regering opgetree. Oorkant hom aan die onderhandelingstafel
het mnr. Cyril Ramaphosa van die ANC en dr. Frank Mdlalose van die IVP
gesit.

Hoewel hy in sommige kringe verkwalik word dat hy kwansuis "boedel
oorgegee" het, beskou ander hom as 'n held wat die onmoontlike help
regkry het: om 'n vreedsame konstitusionele demokrasie tot stand te
bring.

Oor hoe sy denke sedert die 1980's - toe hy gedien het as
adjunkminister van wet en orde - verander het, het Meyer gesê hy is
dankbaar dat hy "nie vasgeklou het aan idees wat geen sin of meriete
gehad het nie".

"Ek is ook trots daarop dat ek kon erken dat ek hierdie verandering
ondergaan het," sê hy.

Dr. Pieter Mulder, VF+-leier, het gister gesê Meyer se besluit om by
"sy destydse opponent" aan te sluit het die agterdog versterk dat
"alles wat agter die skerms (tydens die onderhandelings) gebeur het
nooit aan sy (die NP-) kiesers oorgedra is nie.

"Huidige Afrikaners en ander politieke leiers betaal nou nog die prys
van politieke misleiding van daardie tyd deurdat Afrikanerkiesers
apaties en negatief oor politiek en politieke leiers geword het,"
meen hy.

Volgens Ngonyama het dinge vinnig gebeur en het die ANC leierskorps nog
nie tyd gehad om te besluit oor hoe Meyer se "unie­ke talente" ten
volle benut kan word nie.

"Mnr. Meyer is 'n goeie mens met 'n bewese rekord. Eintlik moes
hy al lankal by die ANC aangesluit het. Hy was nog altyd 'n
progressiewe denker, 'n bou­er, 'n ware Suid-Afrikaner en 'n
patriot."
Vorige onderwerp: Kolonialisme
Volgende onderwerp: Van wanneer af kry mens Van Wyk-swartvelle?
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 13:24:43 MGT 2024