Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Boeke, tydskrifte & koerante » Piet Schuil en boeke wat ver reis
Piet Schuil en boeke wat ver reis [boodskap #27754] Vr, 29 Oktober 1999 00:00
Barrie  is tans af-lyn  Barrie
Boodskappe: 40
Geregistreer: Oktober 1999
Karma: 0
Volle Lid
In Woensdag (27 Okt.) se "Die Volksblad" skryf Riana Scheepers in die
rubriek
Stop van Myne onder die opskrif " 'n Boek reis ver...." van verhale en
legendes waar die hoofrol deur 'n boek gespeel word. (Beskikbaar op Die
Volksblad se Webwerf). Ek het hierdie stukkie aangrypend gevind omdat dit so
'n groot deel van die psige van die mens openbaar. Ons leef in 'n hardekwas
wêreld waar die darwinisme bepaal dat die fikses en die sterkes die botoon
sal voer - maar wie is die sterkstes?

Sy vertel kortliks van die soldaat wat altyd sy sakbybeltjie met hom
saamgedra het. "Toe die koeël wat sy naam gedra het, hom tref, sterf hy nie.
Die loodpunt wat sy hart moes deurboor, het in die blaaie van die Bybeltjie
vasgeslaan". Sy vertel voorts van die Joodse vrou wat minute voordat sy op
'n treintrok gelaai is op pad na Auschwitch, lukraak 'n bladsy uit 'n boek
geskeur het en aan haar liggaam versteek het. In die kamp het sy verhale
rondom elke woord op daardie bladsy geweef en so die gedoemdes bemoedig. In
die kerngedeelte van haar verhaal volg 'n reisverhaaltjie - die van 'n
meisie wat in Suid-Afrika nie kon werk kry nie en toe besluit het om in
China te gaan reis. In haar rugsak was 'n bundel Afrikaanse kortverhale.
Moeg en honger het sy by 'n plekkie opgedaag met skaars genoeg geld in haar
sak om vir 'n kommetjie sop te betaal. Toe die groot eensaamheid haar
oorval, het sy die bundel uitgehaal en saggies daaruit begin lees. Die
mandaryne het stil geword om haar en beduie dat sy harder moet lees.
"Die stil Chinese het nader aan haar geskuif en begin luister na die musiek
van Afrikaans ..... die mense het hulle koppe gekantel, en geluister.
Stadig, baie stadig, het die klanke van ons wye en droewe land vir hulle
begin sin maak.
Hulle het geluister na verhale van die land en sy mense, na verhale van
liefde en geboorte en doodgaan. .... Vanuit die niet het 'n kommetjie soep
langs haar verskyn, en 'n stukkie brood." Sy sluit met:"Vergewe my, maar dit
is die mooiste verhaal oor 'n boek wat ek nog ooit gehoor het, want die boek
waarmee die meisie gereis het, was my boek, 'Dulle Griet'." Ek gaan
vanoggend nog vir ons mooi bibliotekaresse vra om hierdie boek te soek -
want jy gaan lekker lees aan hom.

En dit bring my by 'n ander boek-verhaal. Eintlik twee verhale uit die
Tweede Vryheidsoorlog. Daar is die een van Breaker Morant, die digter. Hy is
deur die Britte gefusilleer nadat hy daaraan skuldig bevind was dat hy
Boeregesinne vermoor het. Die Aussies het 'n fliek oor hom gemaak en dit was
so 'n jaar of wat gelede op ons TV gebeeldsend. Die verhaal wat ek wil
oorvertel is van Piet Schuil, 'n jong Nederlander uit Bunschoten (gebore op
13 Setember 1887 in Nijversdal). Die volledige verhaal verskyn in Historia,
jaargang 22, No.1, Mei 1977 uit die pen van Dr. C. de Jong.

Piet was 'n Geskiedenisonderwyser te Rietvlei naby Rustenburg. Hy was ook 'n
digter maar sy gekrifte het verlore geraak (glo iewers weggesteek in 'n
trommeltjie). Die outeur vermeld dat Piet, wat onder genl. Koos de la Rey
aan boerekant geveg het, blykbaar 'n beter onderwyser as soldaat was.
Terloops, Piet Schuil se verhaal is aangeteken deur sy vriend en
oorlogsmaat, 'n Noor genaamd Nielsen in 'n boek met die titel "Blandt boerne
i fred og krig" (Onder die Boere in vrede en oorlog). Piet is op 1 Oktober
1901 gevange geneem ná 'n aanval op die Britse kamp te Moedwil. Hierdie
aanval het plaasgevind op 30 September onder bevel van Veldkornet Koos van
Heerden. Piet en Nielsen het saam 'n tent gedeel en mekaar goed leer ken.
Die verhaal van Piet se gevangeneming is volgens Nielsen die volgende: Piet
het hom ..." meegedeel dat sy perd in die verwarring van die vorige dag
weggehardloop het. Omdat hy dit te voet nie kon maak nie, het hy op 'n groot
plat klip aan die Selonsrivier gaan sit, 'n wit doek aan sy geweerloop
gebind en die loop omhoog gesteek. Die Britte het hom gewaar en hy is
gevang." "In die Britse kamp is hy voor 'n krygshof gedaag en het twee
soldate onder eed getuig dat hy op hulle geskiet het toe hulle hom nader.
Die teenspraak van Piet en 'n burger wat digby hom gevang is, is deur die
hof verwerp. Nielsen het gevra om vir Piet te getuig, maar sy versoek is ook
van die hand gewys. Later op die dag van 1 Oktober is Piet uit die tent na
'n vierkant geneem waar 'n offisier 'n verklaring voorgelees het. Piet het
'n Bybel gevra en daaruit begin lees."

Een uur voor sonsopkoms (2 Okt.) is Piet gewek. 'n Britse predikant,
eerwaarde Saunders, het 'n kort gesprek met Piet gehad en daarna is Piet 400
meter verder na sy graf geneem. 'n Offisier het Piet gevra om op 'n stoel te
gaan sit en of hy brandewyn en 'n blinddoek wou hê, maar Piet het dit van
die hand gewys. "U is 'n dapper man" het die offisier gesê. Die soldate van
die vuurpeloton het agt meter van Piet stelling ingeneem. Hy het hulle
gegroet met die woorde:"Skiet raak!"
'n Interessantheid blyk uit die vertelling. Piet het met sy rug na die
soldate gekeer gesit. Dit rym nie met normale prosedure nie!.

Terwyl hy wag, lees Piet uit sy Bybel. "Die skote knal en hy val languit op
sy rug terwyl flarde van die Bybel omhoog vlieg. Hy roggel nog en 'n sersant
skiet 'n rewolwerkoeël in sy kop." Nou, ja. Oordeel maar self. Nielsen is
ook ter dood veroordeel omdat hy op 'n gewonde soldaat sou geskiet het. Dit
is aan hom gestel dat hy 'n opskorting van sy vonnis sou kry as hy 'n
National Scout word.
Sy antwoord is indirek aangeteken: "Verontwaardig het die Noor gevra of hy
in 'n moordenaarshol of in gevangeneskap by 'n beskaafde nasie beland het en
het geweier." Sy vonnis is later deur die Britse hoofkwartier in Pretoria
ter syde gestel en is hy as gewone krygsgevangene na Bermuda gestuur.

As ek eendag my seiljag koop (..al is dit net 'n kleintjie) sal sy groot
naam
"Die Piet Schuil" wees.

Sela
ns. Vir een of ander rede word al die "threads" nie by my afgelaai nie. Wees
so gaaf en "forward" ook aan my E-adres. Dankie.

Barrie
Vorige onderwerp: HIPNOTISME-EN WAT DIT IS ( NUWE BOEK BESKIKBAAR)
Volgende onderwerp: Bestaan "De Kat" nog? Het hulle 'n web page?
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Apr 24 23:16:45 MGT 2024