Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Aanhalings deur C.J. Langenhoven
Aanhalings deur C.J. Langenhoven [boodskap #119862] So, 16 Januarie 2011 10:30
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Cornelis Jacob Langenhoven (13 Augustus 1873 - 15 Julie 1932), ook
bekend as C.J. Langenhoven en Sagmoedige Neelsie, Afrikaanse digter.

As die kortpad die beste was sou die hoofpad daar geloop het.

Aan elke silwer randjie is daar 'n wolk.

Beleefdheid is die hoedanigheid van hart wat die stukkende hekkie nie
raak sien nie en die aandag vestig op die blomme in die tuin
daaragter.

Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is, jou
gelyke omdat dit jou plesier is, jou mindere omdat dit jou voorreg
is.

Dieselfde water draai die wyse se meule wat die dwaas se grond
verspoel.

Gee 'n man wat jy hom skuld voordat hy dit vra, en jou raad nadat hy
dit gevra het.

Gekke en dwase skryf op mure en glase.

Jou kind sal sy geleerdheid nog by die skool agterlaat; sy opvoeding
sal hom vergesel tot in die graf.

Liefde is nie kunsmatig nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie- jy bederf albei.

Soos 'n skeermes in die hand van 'n aap, só is geleerdheid in die kop
van 'n dwaas.

Wie liefde verwar met sinnelikheid, sien 'n engel aan vir 'n aap.

As jy geen stuk kennis het van die ambag waar jy 'n man voor huur nie,
bekyk sy gereedskap. Hy sal nie in jou belang oppassender wees as in
jou eie nie.

As jy met die onkunde van 'n ander spot, is jou kennis nie so
uitgebreid dat jy jou eie onkunde besef nie.

Berou is 'n ewigdurende rente op 'n skuld waarvan die kapitaal nooit
vereffen kan word nie.

Betaal 'n donkie se prys en moenie 'n pêrd se diens te wagte wees nie.
Moenie 'n man help wat hom self kan help nie. Jy maak hom hulpeloos
vir die toekoms en jy vermors die hulp wat jy vir werklik behoeftiges
moes gespaar het.

'n Mens bie in die begin omdat jy die artikel wil hê. Naderhand bie jy
omdat die ander hom wil hê.

'n Man wat sy toevlug tot 'n leuen moet neem, vind dikwels uit dat hy
in 'n huis gaan skuil het wat nie 'n agterdeur het nie.

'n Man wat sy neus in ander se sake steek, soek nie die op wat lekker
ruik nie. Sy eie het hom nie aan die beste geur gewénd gemaak nie.

Die man wat die meeste besorg is dat sy bure se byle moet blink, is
die wat slypstene het om te verkoop. So is die man wat 'n preekbundel
wil verkoop meer beangs oor sy bure se saligheid as oor sy eie.

Die nadeel van 'n hoë posisie is die aandag wat hy trek. Onder tussen
die skare hoef jy maar net vir 'n ordentlike hoed te sorg. Bo op die
leer sien hulle jou broek en jou skoene ook. Daarom word 'n mens so
maklik onder die skare uitgekies en so maklik weer van die leer
afgegooi.

Daar is maar één manier om uit te vind hoe sterk 'n boog is, en dit is
om aan te hou met buig tot hy breek. So beproef 'n dwaas sy liggaam en
siel. Hy sou die reënboog knak as hy hom in die hande kon kry.

Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is die wat reeds tevore
gewys het dat hulle kan byt.

Daar is nie 'n kosteliker ding op die wêreld nie as 'n vrou wat baas
is. Sy het altyd die soort man wat onder 'n baas moet staan, en dis
beter vir hom dat die baas binnekant is as buite.

Daar is nie so 'n ding as logika by 'n vroumens nie. Sy vlieg tot 'n
gevolgtrekking sonder rede. En op die ou end blyk dit dat sy gelyk
had.

Daar het al beter mense geleef as ek en jy, en toe hulle dood is, het
die wêreld darem sonder hulle aangesukkel.

Die verkwisterige man eet die vrugte van sy lewe groen op; die
inhalige laat hulle sit tot hulle vrot is. En albei juis uit 'n
oormatige liefde vir die vrugte.

Doen 'n meisie 'n onreg aan, en wanneer jy ééndag self 'n dogter het,
sal die vrees dat daar meer sulke skurke is as jy vir jou 'n kanker in
die siel wees.

Ek was so hard besig om kanse te soek dat ek my geleenthede een vir een
laat verbyglip het.

Gooi liewer 'n vrou met klippe dood as om haar reputasie met modder
vuil te gooi. Sy kan nie bewys dat sy skoon is nie en die wêreld vra
nie of jy, ellendeling, kan bewys dat sy vuil is nie.

Hou aan om te lieg totdat jy naderhand verplig is om die waarheid te
praat as jy wil bedrieg.

Jy kan mense huur om vir jou kinders se geleerdheid te sorg; vir hulle
opvoeding moet jy self staan. En vir die gevolge van albei sal hulle
moet staan, die arme goedjies, wat geen seggenskap daarby had nie.

Jy kan nie met skoon hande modder gooi, nóg met 'n reine mond gif
spoeg nie.

Jy kan al die bloeisels van jou lewensboom in die lentedae van jou
jeug afpluk maar dan moet jy nie vrugte verwag in die wintertyd van
jou ouderdom nie. En daar is maar één boom, één bloeityd, één
vrugtetyd.

Ledige pyp hou toe jou kraan. Dan sien ons jou vir 'n volle aan.

Met 'n man wat met homself tevrede is, is niemand anders tevrede nie.

Moenie 'n ander se tyd steel as jy sy kneg is nie, sy loon as jy sy
baas is nie, sy karakter as jy sy ouer is nie, sy roem as jy sy kind
is nie, sy vooruitsigte as jy sy onderwyser is nie, sy God as jy self
'n goddelose is nie. Maar steel sy hart as jy sy vrou is, dit sal hom
verryk.

Moenie die eerste man huur vir 'n messelaar wat met 'n troffel
rondloop nie. Ek kan ook 'n troffel steel.

Moenie die parmantige brief dieselfde dag pos as wanneer jy hom
geskryf het nie. Hoe jammer tog dat ons die woorde van ons mond nie in
die lug kan laat bly hang tot die volgende dag nie.

Moenie jou kinders onskuldige plesier belet nie. Hulle sal dit steel
en dan is jy nie daarby om te sien dat hulle nie die skuldige bysteel
nie.

Moenie jou ryk buurman se hoender steel nie jy sal in die tronk kom.
Steel jou arme bure se grondjies en jy sal in aansien kom. Albei sal
maar swaar wees om saam te neem; maar die grond sal swaarder wees om
te laat agterbly.

Moenie met 'n ander se godsdiens spot nie. As joune soveel beter is,
het jy al jou tyd nodig om te waardeer en te beoefen. Vir Christus was
die hoogste godsdiens mensediens.

Om af te breek is geen kuns nie. 'n Klein babatjie kan 'n blommetjie
verniel wat dit 'n God gekos het om te maak.

Om dood te gaan, is geen kuns nie; die slegste kry dit reg. Om te lewe
is 'n kuns: die beste kry dit nie goed reg nie.
Onsterflikheid kan maar na die dood kom. Onthou dit, o kunstenaar, en
wees getroos.

Skat jou bekwaamheid te min om mee te spog en jou karakter te hoog om
mee te speel. Op die manier sal jy jou selfrespek bewaar en die respek
van jou ewemens verseker.

Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander
nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie. 'n Nasie, net soos 'n
enkele mens, hou nie na sy na-aapsel nie.

Spook met die haai op die droë grond. In die see sal hy jou baasraak.


Staan by die man wat by die dag werk om toe te sien dat hy nie te
stadig is nie, en by die man wat by die stuk werk om toe te sien dat
hy nie te haastig is nie. Of huur twee, een by die dag en een by die
stuk, en laat die een die ander skaam maak.

Toe ek jonger was, het ek my verbeel ek weet beter as my vader. Nou
dat ek ouer geword het, vrees ek vir die dag wanneer ek na sy raad sal
verlang en hy nie daar sal wees om dit te gee nie. Troos jou, Boet
Nellie, daar's 'n vergoeding. Jou kinder weet ook baie beter as jy.

Vertel jou vriend wat sy vyand van hom gesê het en jy is die mes wat
sy vyand hom mee steek.

Van die paaie wat ek gister gekom het, dink ek vandag met die meeste
genot aan die swaar opdraande wat ek uitgesukkel het, en met die
minste genot aan die maklike afdraande wat ek afgerol het.

Vat al die kwaad wat jy in jou buurman sien en al die goed wat jy in
jouself sien, en maak daar 'n derde mens uit. Hy sal maar naastenby
lyk soos elk van julle twee.

Wraak maak jou gelyk met jou vyand, vergiffenis plaas jou hoër as hy.

As die ander man nie wil die helfte van die pad geen nie, gee jy dan
die hele die een helfte omdat dit jou plig is as sy gelyke, die
ander helfte omdat dit jou voorreg is as sy meerdere.

Moenie 'n ander beskuldig dat hy sy oë oop gehou het onder die gebed
nie. Hy het maar net gekyk of joune toe was.

Pas op vir die man wat nooit kwaad word nie. As hy sy humeur so kan
bedwing, wie weet hoe kan hy nie sy gewete bedwing nie?

Pas op die man wat sy oë half toe hou. Dis nie dat hy nie wil inkyk
nie dis om te keer dat jy nie inkyk nie.

Hoe min mense sou te veel drink as die hoofpyn in die prop was in
plaas van die boom van die bottel!

Moenie huil oor die kwaad wat jou vyand jou aangedaan het nie. As jy
hom nie kan laat huil nie, moenie hom laat lag ook nie.

Moenie in jou lewenstyd jou besit onder jou kinders verdeel nie. As
hulle spandawel is, sal hulle dit verwaarloos, en as hulle inhalig is,
sal hulle jou verwaarloos.

Vertel jou geheim aan 'n ander en maak staat op hom om dit beter te
bewaar as jy dit self kon bewaar.

Soek vir jou 'n dokter wat jou goeie moed inpraat en 'n prokureur wat
jou slegte inpraat.

Daar is twee soorte werksmanne. Een werk vir sy loon; die ander word
beloon vir sy werk.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg
kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Waar twee mense baklei, moenie tussenin vlieg nie. Hulle raps mekaar
maar elk van een kant af; vir jou sal hulle raps van weerskante af.

Leen jou ore uit aan iedereen wat 'n tong het, maar moenie jou tong
uitleen aan iedereen wat ore het nie.

Dis nie swaar om die waarheid te praat nie. Wat swaar is, is om jou
gedrag so te hou dat die waarheid binne jou vermoë bly.

Adam het die skuld op Eva gepak en al sy seuns volg vandag nog sy
voorbeeld. Ek ook.

As jy wil weet of 'n vrou kwaai is, kyk of sy knaend vloere vryf.

Maak altyd die beste van 'n goeie ding, maar nooit die slegste van 'n
slegte nie.

As jy nie geld het nie, moet jy probeer om skuld te maak; as jy nie
skuld het nie, kan jy probeer om geld te maak.

Gee 'n man wat niks het nie iets en hy is sy ganse aardse besitting
aan jou verskuldig.

Vra die liewe Heer om jou wysheid te gee, en jy kan vir die ander
dinge tamelik op jouself reken.

Hoe swaarder 'n man as sy goed gekom het, hoe swaarder bring hy
daaraan deur.

Help jou buurman sy kruis dra en jy sal jou verwonder hoeveel ligter
jou eie sal word.

As jy met 'n man stry, gooi hom liewer met 'n emmer water as met 'n
klip. Al maak dit miskien nie so seer nie, hy kan dit nie teruggooi
nie.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte aan nie. Dit wat hy nie wegja
nie, loop weg.

Die teëspoed sif die vriende uit wat die voorspoed geoes het.

Ieder 'n goeie daad is driedubbel groot: goed vir jou, goed vir die
wat jy dit aan doen, goed as 'n voorbeeld vir 'n andere. En net so is
ieder 'n slegte daad driedubbeld sleg.
Stilbly is ook 'n woord, en daarom kan jy daarmee ook lieg.

Moenie eers baklei en dan hardloop nie; hardloop eers solank as jy nog
vars en heel is.
Leer eers swem en dan duik, dan kan jy opduik. As jy eers wil leer
duik, duik jy af.

Moenie terugslaan nie. Slaan eerste.

Doen wat reg is en jy sal baie stampe kry, maar nie in jou gesig nie.

Die grote hoef hom nie groot te hou nie.

As jy verbeel dat jy gelukkig is, is jy gelukkig.

Ons liggaam het ons om mee te sterwe, onse siel om mee te lewe.

Eenvoud is die kenmerk van die heel laagste en die heel hoogste.

Hoe beter koper hoe slegter betaler.

Nederigheid kan nooit val nie.

Hoe weelderige woord hoe skraler gedagte.

Ek soek baie dinge wat ek nie ken as ek hulle kry nie.

Dis is op sy droogste net voor die reën.

Daarom het Adam en Eva die Paradys nie gewaardeer nie omdat hy hulle
niks gekos het nie.

Dis waar daar is nie rook sonder vuur nie; maar hoe meer rook hoe
minder vuur.

Op die ou ent werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n
ander.

Die man wat sy eie vrou liefhet, kan maar by myne kuier.

Dis makliker om te vergeet om te onthou as om te onthou om te
vergeet.

Baie hande maak slegte werk.

Die kontant betaler is baas van sy sak.

Die wat lekker leef, laat die dokters lekker leef.

Man wat nie vyande het nie, deug nie vir 'n vriend nie.

Ons wag tot die droogte kom en dan kyk ons hemel toe.

'n Halwe begryper het 'n goeie woord nodig.

As jy dan dwing om te val, val solank as jy nog op die onderste sport
is.

Om van 'n ou ding ontslae te raak verf hom nuut.

Die glimlag van die dageraad verstrooi die skaduwees van die nag en
die opgeruimde gelaat die donkere sorge van die lewe.

http://www.cjlangenhoven.co.za/index.php
Vorige onderwerp: DIE UNIEKE AFRIKAANSE "FOK"
Volgende onderwerp: Woordenboek Afrikaans-Nederlands
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 08:25:41 MGT 2024