Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Baines, Thomas
Baines, Thomas [boodskap #121051] Di, 20 November 2018 06:04
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Portret van Thomas Baines.
Portret van Thomas Baines.
(John) Thomas Baines (1820 - 1875) was 'n ontdekkingsreisiger en kunstenaar (skilder en tekenaar) wat Kaapstad in 1842 bereik het. Van sy baie reise na die binneland, na Australië en Midde-Afrika het hy skilderye, tekeninge en partymaal dagboeke teruggebring. Hy het belanggestel in die ontdekking van goud en is in Durban oorlede.

Gebore op King's Lynn Engeland in 1822 as die seun van 'n, skeepskaptein. Nadat hy aanvanklik wapens vir 'n koetsbouer geskilder het, begin hy landskappe en ander voorwerpe skilder. In 1842 kom hy in die Kaapkolonie aan waar hy klasgee in tekenwerk tot die uitbreek van die Oorlog van die Byl in 1846 toe hy saam met die troepe na die Oos-grens gaan. Hy vestig hom in Grahamstad en verwerf aansien as kunstenaar met die helderheid en lewendigheid van sy werke. Op 'n ekspedisie na Noord-Australië in 1854 skilder hy baie werke wat nou bewaar word deur die Royal Geographical Society in Londen. In 1857 word die vryheid van die stad aan hom toegeken deur sy tuisdorp King's Lynn. Baines is uitgenooi om Livingstone se Zambezi-ekspedisie in 1857 mee te maak, maar hy raak betrokke in verskeie geskille en is baie swak behandel deur Livingstone.

Hy slaag egter daarin om die Victoria-waterval te besoek waarvan hy die eerste skilderye maak. Ook van ander tonele in Rhodesië voordat die pioniers opgedaag het. Sy kuns wek groot belangstelling in Londen waar hy 'n ateljee inrig en in 1865 publiseer hy 'n reeks afdrukke van sy werk. Die sukses van sy boek, Explorations in South-West Africa, laat hom na die gebied terugkeer waar hy Lobengula besoek en belangrike vroeë landkaarte teken. Hy doen ook waardevolle ontdekkings as 'n natuurkundige. Sy reis in 1868 na Suidelike Afrika was onder beskerming van 'n nuwe goudmynmaatskappy wat die Tati-goudveld wou ontwikkel. Baines slaag daarin om mynregte van Lobengula te verkry wat van groot belang word toe Cecil Rhodes baie later op die toneel verskyn. Baines trek egter geen voordeel daaruit nie en keer terug na Natal waar hy op 8 Mei 1875 in Durban oorlede is. Sy boek, The Gold Regions of South-Eastern Africa, met sy pragtige illustrasies en kaarte is na sy dood gepubliseer.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bain, Andrew Geddes
Volgende onderwerp: Bainskloof
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 16 09:44:49 MGT 2024