Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Die oorspronge van Afrikaans
Die oorspronge van Afrikaans [boodskap #120655] Do, 05 Julie 2018 18:59
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Die Afrikaanse spreektaal, Standaardafrikaans, Afrikaanse flaaitaal, Kaapse Afrikaans en Noordwestelike Afrikaans is almal variëteite van Afrikaans. Die verskillende vorme van die Afrikaanse spreektaal is veel ouer as Standaardafrikaans en die Afrikaanse skryftaal, wat eers teen die begin van die twintigste eeu begin ontwikkel het. Tot die einde van die negentiende eeu was Afrikaans niks anders nie as 'n spreektaal.

1. Vroeë Afrikaans

1.1 Die Hollandse oorsprong van Afrikaans

Afrikaans het hom reeds gedurende die periode na 1652 van Nederlands begin losmaak. Káápse Nederlandse tekste waarvan die bekendste Jan van Riebeeck se Dagregister is, is uit hierdie tyd oorgelewer. Van Riebeeck het sy gedagtes aan klerke en sekretarisse gedikteer wat wat dit opgeteken het in 'n besondere vorm van Nederlands, naamlik kanselarytaal, iets soos die kantoortaal van vandag. Ook in die 17e eeu was daar 'n groot verskil tussen kanselarytaal (kantoortaal) en die spreektaal. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat Van Riebeeck die gekunstelde kanselarytaal gepraat het. Hoe dit ook al sy, met die geskiedenis van Afrikaans het kanselary-Nederlands bitter min te doen.

Belangriker vir die mense in die vroeë Kaapse nedersetting was die plegtige geskrewe Nederlands van die Statebybel. Die taal van die Statebybel was redelik ver verwyder van die spreektaal van selfs geletterde 17e-eeuse Nederlanders. Die oorsprong van ons taal moet nie gesoek word in die deftige, geskrewe Nederlands van die 17e eeu waarvan die taal van Jan van Riebeeck en van die Statebybel voorbeelde is nie.

Uit watter 17e-eeuse Nederlandse taalvorm het Afrikaans dan ontwikkel? Die antwoord lê in die oorspronklike naam van ons taal, naamlik Afrikaans Hollands waar Afrikaans oorspronklik 'n byvoeglike naamwoord was met die betekenis "van Afrika", dus "Hollands van Afrika". Holland dui hier op die heel westelike strook van Nederland, van Amsterdam suidwaarts. Hier in die onmiddellike omgewing van Amsterdam lê die bakermat van Afrikaans. Die term Hollands is nie sinoniem met Nederlands nie, maar die dialek van die Nederlandse provinsie Suid-Holland.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat Afrikaans nie uit 'n geskrewe kultuurtaalvorm ontwikkel het nie, maar uit 'n spreektaal. Enkele voorbeelde hiervan is die woorde "mus", "persent" vir "present", "vermeer" vir "vomeer", "poeier" vir "poeder", wat in 1652 as Hollandse spreektaal aan die Kaap geland het en nie hier uit formele Nederlands ontwikkel het nie.

Van die vroegste Afrikaans-Hollandse optekeninge is uit die mond van Koi en slawe. Die betrokke hofklerk het nie altyd die getuienis van 'n Koi of slaaf in kanselary-Nederlands vertaal nie, maar dit gelaat in min of meer die vorm waarin dit in die hof gelewer is. Uit 1707 is van 'n Koi opgeteken: "Ons wil dat niet doen." Uit 1720: "Jongens ons moet allegaar naar Abraham de Clerq gaan ..." Die gebruik van ons en die werkwoordsvorm is tipies Afrikaans en onnederlands.

1.2 Van Hollands tot Afrikaans-Hollands

Reeds in die sewentiende eeu het die Hollands wat as spreektaal in die Kaapse nedersetting oorgeplant is, in AFRIKAANS-Hollands ontwikkel. Aspekte van hierdie verandering was die volgende:

1.2.1 Die invloed van koloniale Nederlands

Die bemanning van die magdom skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het 'n eiesoortige Nederlands begin praat. Veral die woordeskat het van die vaderlandse Nederlands verskil, danksy woorde wat aan Portugees en Maleis ontleen is, tale waarmee die VOC-handelaars in aanraking gekom het.

1.2.2 Die eise van die nuwe Kaapse omgewing

Die Kaapse nedersetters moes hulle vreemde nuwe omgewing onder taal bring. Hulle het Nederlandse name aan Kaapse verskynsels gegee, benaminge ontleen en nuwe woorde in Afrikaans-Hollands gevorm.

1.2.3 Die voortsetting van Hollandse verskynsels

Dit is nogal verbasend hoeveel van dit wat ons as spesifiek Afrikaans beskou, reeds in Hollands aanwesig was. Afrikaans het byvoorbeeld die t aan die einde van woorde laat wegval: kas teenoor Nederlands kast, lig teenoor licht, ens.

1.2.4 Taalbeïnvloeding

In die 17e en 18e eeu was daar groot taalverskeidenheid in die vroeë Kaapse samelewing: gekultiveerde Nederlands, Nederlandse dialekte soos Hollands, verskillende vorme van Hoog- en Nederduits, Frans, Maleis, Portugees en Koi. Die belangrikste beïnvloedende tale in die vroeë samelewing was Maleis, Portugees en Koi.

1.2.4.1 Koi-invloed

In die vroeë nedersetting aan die Kaap het Koi nie groot invloed op Afrikaans gehad nie. Die Koi binne die nedersetting was te min om Afrikaans te beïnvloed en hulle taal, veral die suigklanke, het vir die nedersetters vreemd gebly. Oor die algemeen het Koi-invloed op Afrikaans nie verder gegaan as die woordeskat nie. Heelwat Koi-woorde is in aangepaste vorm oorgeneem, o.a. abba, boegoe, karos en plekname soos Garies en Ai-Ais. In die westelike dialekte het allerlei grammatiese verskynsels uit Koi in Afrikaans oorgegaan soos die se in julle se ma, hulle se bees; die goed in pa-goed en die gebruik van die voornaamwoord hy as na 'n vroulike saak verwys word.

1.2.4.2 Portugese en Maleise invloed

Portugees en Maleis wat onder die slawe gepraat is, het 'n heelwat vroeër uitwerking op Afrikaans-Hollands gehad.

Alhoewel Nederland in die 17e eeu die Portugese uit baie van hulle ou koloniale vestings verdryf het, het Portugees nog in hierdie gebiede die belangrikste taal gebly. Portugal was tot in die 17e eeu nog 'n slawemoondheid en baie Kaapse slawe het uit Portugeessprekende gebiede gekom soos Angola, Indië en Indonesië. Daar het die slawe Portugees as algemene spreektaal aangeleer. Die eerste twee groepe slawe wat die Kaap aan die einde van Mei 1658 bereik het, is van Portugese skepe uit Guinee en Angola gebuit.

Die tipe Portugees wat uit die koloniale gebiede in die Kaapse nedersetting ingedra is, heet Laagportugees. Hierdie vereenvoudigde koloniale Portugees is gebruik as spreektaal onder mense wat uit verskillende taalgemeenskappe voortgekom het. Uit hofsake wat in navorsing aangeteken is, het geblyk dat die vrygestelde slawe aan die Kaap onder mekaar Portugees gepraat het. Die aangeklaagdes het dikwels Portugese name gehad. Stukke Portugese taalgebruik kom ook in hierdie hofsake voor.

Afrikaans-Hollands het 'n hele aantal woorde regstreeks aan Kaapse Laagportugees ontleen, soos ramkie, tamaai, tarentaal, aia, sambreel. Ook die grammatika van Afrikaans is deur Portugese invloed geraak, soos die reël om vir voor 'n voorwerp te plaas.

Alhoewel Maleis in die vroeë Kaapse samelewing minder gepraat is as Laagportugees, het Maleis sterker vasgeskop. Woorde soos baie, borrie, oorlams en sambal is byvoorbeeld aan Maleis ontleen. Ook die grammatika van Afrikaans toon Maleise invloed, byvoorbeeld in die sg. reduplikasie: een-een, draf-draf, amper-amper.

In Kaapstad en sy onmiddellike omgewing het Maleis hom nog lank laat geld, veral onder die Moesliems. Heelparty tipiese trekke van Kaapse omgangs-Afrikaans is aan Maleis ontleen, o.a. die dj in djy en die tsj in bietsjie.

1.2.5 Kreolisering

Kreolisering is vinnige en ingrypende taalverandering binne 'n kontaksituasie. Saam met Van Riebeeck het 'n bonte versameling mense gekom wat tot taalverskeidenheid as 'n kenmerk van die Kaapse nedersetting gelei het. Dit is verder vergroot deur die slawe wat vanaf 1658 af ingevoer is en die baie Koi wat in die Kaapse samelewing opgeneem is.

Ook ander faktore het daartoe bygedra dat toestande in die 17e-eeuse Kaap uiters ongunstig was vir taalkontinuïteit. Hollands en Afrikaans-Hollands het vroeg reeds sterk van mekaar verskil a.g.v. die losse struktuur van die ongewone sosiale omgewing waarbinne Afrikaans-Hollands in die vroeë Kaapse samelewing moes funksioneer.

Alhoewel o.a. Maleis en Portugees sterk konkurrente van Hollands was, was dit Hollands wat die taal van die hele Kaapse samelewing geword het. Afrikaans en Nederlands se bande het bly bestaan. Die woordeskat van Afrikaans is 90%+ Nederlands en daar is kontinuïteit t.o.v. die klankleer en die grammatika. Tog is daar baie belangrike verskille, veral in die grammatika van die twee tale.

'n Klein aantal Duitse woorde is hier aan die Kaap uit die taal van die Duitse huursoldate en waarskynlik ook uit dié van die Duitse koloniste ontleen. Van sommige woorde wat vroeër as Kaapse ontlenings uit Duits beskou is, is intussen in Nederlandse bewysplase uit die 17de eeu gevind. Duitse leenwoorde wat formeel as nie-Hollands, d.w.s. as direkte Kaapse ontlenings, uitgeken kan word, is dus baie seldsaam in Afrikaans.

Nederlands was vanaf die Middeleeue verskeie kere sterk onder Franse invloed en 17de-eeuse Nederlands was met Franse woorde deurspek. Die eerste volksplanters het dus met hul spreek- en skryftaal heelwat Franse woorde saamgebring Kaap toe. Naas hierdie oorgeërfde Franse leenwoorde het die Kaapse taal net 'n handvol woorde uit die taal van die Franse Hugenote ontleen. Direkte ontlenings is selfs veel minder as in die geval van Duits.

Die aanname dat Afrikaans sg. in die mond van blankes verander en saam met die Afrikaanse volk ontwikkel het, kan nie meer geregverdig word nie. Ons weet nou meer van ons geskiedenis, van taalverandering en van taalkontak en dat vreemdelinge van allerlei pigment en taal 'n beduidende bydrae tot die vorming van Afrikaans gelewer het.

2. Die ontstaan van Standaardafrikaans

Afrikaanssprekendes het tot aan die einde van die 19e eeu Engels en Nederlands as kultuur- en skryftaal gebruik. Afrikaans was net 'n spreektaal.

Die beweging om Afrikaans 'n kultuurtaal te maak het teen die einde van die 19e eeu begin, maar het eers na die Anglo-Boereoorlog werklik momentum gekry. Teen die einde van die tweede dekade van die 20ste eeu het Standaardafrikaans reeds sy beslag gekry. Vandag is Afrikaans ten volle gestandaardiseer en word dit op alle kultuurterreine aangewend.

3. Engelse invloed op Afrikaans

Die Engelse inwerking op Afrikaans wat reeds vroeg in die 19e eeu begin het, is vandag die grootste taalveranderingsfaktor wat op Afrikaans inwerk.

Engels beïnvloed veral die Afrikaanse spreektaal wat 'n mengeltaal geword het en grootliks verskil van die min of meer suiwer Afrikaanse standaardtaal. Ons kan verwag dat ook Standaardafrikaans mettertyd onder die druk van Omgangsafrikaans al hoe meer tekens van Engelse invloed sal vertoon.

FRITZ PONELIS
Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Stellenbosch
Vorige onderwerp: Tale en die grondwet
Volgende onderwerp: Jislaaik
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 16:00:46 MGT 2024