Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Woord is magtiger as die swaard
Woord is magtiger as die swaard [boodskap #120031] Ma, 31 Oktober 2011 18:41
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Woord is magtiger as die swaard

deur Tinus van Vuuren

2011-10-31 13:00
Twee van my familielede is binne die bestek van een jaar vermoor.

Paul Jacobus van Vuuren: 1 Mei 1956 - 18 Oktober 2011. Net nog 'n
statistiek wat gou vergeet gaan word.

Ons is so voos van die misdaad en geweld in hierdie land dat ons
geestes - en emosionele sisteme die vloedgolf van nuus daaroor nie
meer kan of wil hanteer nie.

Al wat ons hoop is dat dit nie met ons of ons families gebeur nie. Ons
hoop dat God ons hiervan sal beskerm. Ek moet bely dat ek ook so
gehoop het.

Nie meer nie. Skaars 'n jaar gelede was neef Chris Bronkhorst ook
brutaal en met dieselfde sadisme as Paul aangerand. Chris sterf op 24
April 2011.

Op die oggend van 21 Julie 2003 was ek self 'n slagoffer van 'n
gewapende roof waar een van die vier misdadigers 'n pistool in my maag
gedruk het en drie keer die sneller getrek het.

Genadiglik het die wapen geweier, en was ek dankbaar dat ek dit
oorleef het. Tog het dit 'n letsel gelaat; die paranoia elke keer as
ek of een van die gesin die hek oopsluit om in of uit te ry, of my
motor verlaat of nader by 'n parkeerterein by 'n winkelsentrum, wat my
hande laat sweet van angs, is nie aangenaam nie.

Die eerste keer glo mens naïef dat jy jou beurt gehad het, en dat dit
jou of jou familie nie weer sal tref nie. Ek twyfel of daar een
familie in hierdie land is wat nog nie direk of indirek deur misdaad
en geweld geraak is nie.

As ek kon het ek hierdie misdaadparadys verlaat. Daardie uitweg is my
egter nie beskore nie (behalwe as ek die lotto wen). Maar genoeg het
ek nou genoeg van gehad!

Wat staan my as 'n vredeliewende inwoner van hierdie land dan te doen?

Ek glo nie dat geweld met geweld vergeld moet word nie. Jesus sê in
Mattheus 26:52 aan Petrus: "..almal wat na die swaard gryp, sal deur
die swaard omkom" (1983 vertaling). Die Regering het ons in elk geval
ontwapen om so moontlikheid te beperk. Die wat dit wel probeer word
gou-gou aangekeer en in die tronk gestop!

Boonop laat God ons nie toe om Chris of Paul, en die duisende ander
slagoffers, se dood te wreek nie, al wil ons hoe graag! Paulus skryf
aan die Romeine (12:19) "Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar
laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: 'Dit
is my reg om te straf; Ek sal vergeld,' sê die Here.

Is ons dan magteloos gelaat?

Gewis nie! Daar is wel iets wat niemand van ons kan wegneem nie: ons
vermoë om te skryf en te kan praat. Die Britse skrywer Edward Bulwer-
Lytton skryf die volgende in sy opvoering Richelieu; Or the
Conspiracy, van 1839:

True, This! — Beneath the rule of men entirely great, the pen is
mightier than the sword. Behold The arch-enchanters wand! — itself a
nothing! — But taking sorcery from the master-hand To paralyse the
Cæsars, and to strike The loud earth breathless! — Take away the sword
— States can be saved without it!

Inderdaad! "Die woord is magtiger as die swaard." Dit is mense soos
Ghandi en Desmond Tutu wat meer reggekry het om die vorige regime tot
'n val te bring as die lafhartige bomplanters wat onskuldige
slagoffers se lewens geëis het.

Hoe moeilik kan dit dan tog wees om hierdie patetiese regering, wat
nie sy inwoners teen die geweld kan beskerm nie, van sy verwaande
troon te verwyder, of dan ten minste so ver te kry om daadwerklik iets
aan die saak te doen nie?

Dus: nou neem ek die mag van die woord op teen hierdie lamsak ANC-
regering, en ek doen 'n beroep op almal wat ook genoeg gehad het van
misdaad in hierdie mooi land van ons om dieselfde te doen:

Laat die wat verhale kan skryf, verhale van verleentheid daaroor
skryf, laat die wat toneel kan speel, dit opvoer, laat die wat kan
dig, gedigte van lyding daaroor skryf, laat die wat liedjies kan
skryf, liedjies van verset skryf, laat die wat dit kan sing, dit sing,
laat die wat briewe kan skryf, briewe van teregwysing aan die ANC-
regering skryf, laat die geestelike leiers profetiese woorde teenoor
die ANC-regering predik, en laat die wat kan bid, bid vir vrede en
verlossing.

Laat die woorde van beswaar soos 'n vloedgolf oor hierdie regering
spoel sodat dit soos 'n droë blaartjie in 'n see van vergetelheid
verdwyn, en vervang word met een wat vir al sy inwoners 'n land van
vrede en voorspoed kan verseker

http://afrikaans.news24.com/MyNuus24/JouStorie/Woord-is-magt iger-as-die-swaard-20111031
Vorige onderwerp: Storie oor plaasmoorde wêreldwyd uitgestuur
Volgende onderwerp: Slagoffer in huisaanval met messe toegetakel
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 19:05:45 MGT 2024