Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Selfgemaak " deur GEORGE WEIDEMAN
" Selfgemaak " deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #118350] Sa, 30 Augustus 2008 00:49 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
SELFGEMAAK
George Weideman

Pa het, spaarsaam soos hy was,
agterop ‘n almanak geteken -
Hy het ‘n rolpuntpen gekies;
die ink het hier en daar gesmeer.
Maar die afmetings is presies.
Nog in duime en voete: 6’ x 18’’
op die breedste plek - daar
waar die borskas pas - dan wigvormig
weerskante toe om plek te ruim
vir die skerp en eiesinnige kop
en die voete wat wysie hou.
Hermeties
soos ‘n ruimteskip.
Niks aanskouliks nie; grafies
bloot korrek soos vir ‘n kaskar.
Dit was die maand April; versuim
wou hy nie langer nie, hy’t pas
tagtig geword. Winters is sag
op Onseepkans; hy sou kon skaaf
en timmer sonder dat vingers verkluim
of dat hy kort-kort bietjies-bietjies
sweet met die kakie sakdoek
uit sy oë vee. Gewone plankies
van greinhout sou gebruik word.
Hy het geweet dit sou onekonomies
en hopeloos te veel moeite wees
om ‘n glansmodel - fyn afgewerk
vernis, dalk selfs met silwerbeslag -
uit Kakamas te kry.
Ag nee wat,
vir dié soort ekspedisies
moet mens jou uitgawes bestry.
Hy het selde iets betyds
of vir homself gemaak.
Dié keer ruim
drie jaar te vroeg. Op die keersy
sê die kalender dit was die maand April.
Eintlik sou ek die tonika-solfa
daar verwag het, vir Funiculi Funicula.
Re: " Selfgemaak " deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #118358 is 'n antwoord op boodskap #118350] Ma, 01 September 2008 11:31 Na vorige boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
>           SELFGEMAAK
>               George Weideman
> .
> Dit was die maand April; versuim
> wou hy nie langer nie, hy’t pas
> tagtig geword. .
> Hy het geweet dit sou onekonomies
> en hopeloos te veel moeite wees
> om ‘n glansmodel  -  fyn afgewerk
> vernis, dalk selfs met silwerbeslag  -
> uit Kakamas te kry.
>               .
> Hy het selde iets betyds
> of vir homself gemaak.
>             Dié keer  ruim
> drie jaar te vroeg.

Hierdie gedig raak my diep. Nie alleen omdat
dit 'n gedig is oor sy pa wat eers op 83 dood
is nie, anders as Weideman wat redelik jonk
gesterwe het. Op daardie stadium het sy ouers
in 'n deel van SA gebly wat nie baie ver is van
waar ek grootgeword het nie. Duidelik was
Kakamas die naaste "groot" dorp, waar hulle
'n goeie doodskis kon koop. Ons het tien
myl wes van Kakamas gewoon. Weideman
se pa was glo basies 'n onderwyser wat nou
en dan probeer boer het. Dis iets wat baie
onderwysers in daardie geweste probeer doen
het. Hulle het vir hulle 'n stuk grond gekoop
op die walle van die Oranje of op een van die
eilande van die Oranje, en dan na-skools
aandag gegee aan hulle "erwe." In die
Kakamas besproeiings-onwikkeling van die
NG Kerk was die erwe net ses morge groot.
Daarop kon 'n boer egter 'n goeie bestaan
maak. Niemand is toegelaat om meer as een
erf te besit nie. Ek wonder of daardie situasie
vandag verander het.

Gloudina
Vorige onderwerp: " Plaasensemble " deur GEORGE WEIDEMAN
Volgende onderwerp: Uit " Lewendood " deur BREYTEN BREYTENBACH
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 06:43:27 MGT 2024